Geskryf deur prof. Reghard Brits, ʼn deeltydse dosent in Sakereg by Akademia.
Kragopwekkers is besig om ʼn alledaagse verskynsel in woonbuurte te word. Die redes hiervoor hoef skaars genoem te word. Alhoewel selfstandige kragopwekking ʼn handige manier is om die gevolge van beurtkrag te beperk, word dit ongelukkig vergesel met ʼn harde geraas.
Hierdie ongerief is moontlik iets waarmee jy kan saamleef, aangesien dit beteken dat jy elektrisiteit aan jou besigheid en/of huishouding kan voorsien. Die probleem is egter dat die klank van ʼn kragopwekker nie tot die grense van jou erf beperk is nie. Jou bure moet dit ook aanhoor en dus is daar ʼn moontlikheid van konflik.
So, wat moet jy doen ten einde die bureregte te eerbiedig as jy ʼn kragopwekker by jou huis wil gebruik?
Eerstens, moet jy verseker dat jy aan die vereistes soos neergelê in plaaslike en provinsiale wetgewing vir die gebruik van kragopwekkers in jou area voldoen. Dit hang af van munisipaliteit tot munisipaliteit of selfs van provinsie tot provinsie. Daar bestaan ook nasionale regulasies aangaande geraas soos uitgevaardig kragtens die Wet op Omgewingsbewaring van 1989, wat slegs van toepassing is indien jou provinsie nie sy eie regulasies het nie. Raadpleeg dus ʼn kenner oor die tegniese vereistes aangaande die toelaatbare tipe kragopwekker, vlakke van geraas, wyse van installering, ensovoorts. Let ook daarop dat, in deeltitelskemas en ander tipe landgoedere, jy ook aan die besondere reëls van die skema moet voldoen en dat jy die beheerliggaam of huiseienaarsvereniging om duidelikheid moet raadpleeg.
Nadat voldoening aan owerheidsreëls in plek is, is die volgende stap om met jou bure te gesels. Jy benodig nie noodwendig hulle toestemming nie, maar deur hulle in te lig, kan toekomstige konflik vermy word. Die meeste mense sal verstaan dat jy ʼn kragopwekker benodig, maar die meeste mense sal dit ook waardeer om daarin geken te word. Dis ook op hierdie punt waar die bureregtelike reëls van oorlas en redelikheid ter sprake kom. Hier gaan dit nie soseer oor die vereistes soos neergelê deur die owerhede nie, maar oor die regsverhouding tussen bure – die regte en verantwoordelikhede wat hulle teenoor mekaar het omdat hulle eiendomme aan mekaar grens.
Die vertrekpunt is dat elke persoon in beginsel die reg het om sy eiendom te gebruik en te geniet soos hy of sy wil – natuurlik binne die perke van die reg. Die wyse waarop jy jou eiendom gebruik, kan egter ook ʼn impak op jou bure en hul regte hê. Jy mag byvoorbeeld ʼn kragopwekker op jou eiendom gebruik (mits jy natuurlik aan die tersaaklike wetgewing voldoen) en jy mag selfs geraas veroorsaak. Hierdie geraas word egter nie deur grenslyne binnegehou nie en die probleem is juis dat jy, deurdat jy geraas op jou eiendom veroorsaak, jou bure se reg om hulle eiendom in stilte te benut, kan belemmer.
Om die waarskynlikheid van konflik te voorkom of om konflik op te los, is redelikheid die kernbegrip. Persone moet hul eiendomme op ʼn redelike wyse gebruik, maar hulle het ook ʼn plig om ʼn redelike mate van ongerief te verduur. My bure het byvoorbeeld die reg om ʼn kragopwekker op hul eiendom te gebruik en ek as buurman moet ʼn redelike mate van geraas verduur. Wanneer dit egter onredelik word, maak my bure hulle skuldig aan oorlas. Dis nie maklik om ʼn onderskeid tussen redelik en onredelik te maak nie, want of ʼn toestand redelik is sal afhang van die omstandighede van elke geval. Natuurlik moet die klank binne die perke soos gestel deur tersaaklike owerhede val, maar tegniese voldoening aan wetgewing is nie die einde van die storie nie. Self al word daar aan sodanige vereistes voldoen, kan dit steeds ʼn onredelike uitwerking op jou bure hê en dit is daarom nodig om ʼn balans te vind.
In hierdie opsig is daar ʼn paar dinge wat gedoen kan word.
Doen jou bes om die geraas te beperk. Praat byvoorbeeld met jou bure, asook ʼn tegniese kenner, oor die beste plek om die kragopwekker te plaas. Probeer om dit so ver as moontlik van jou bure se eiendom te plaas, veral waar hul leefareas of vensters naby aan die grenslyn is. Oorweeg ook om klankdigte skerms of iets soortgelyks te installeer. Deesdae is daar selfs klankdigte kragopwekkers op die mark.
Hierdie maatreëls neem natuurlik nie alle klank weg nie, maar in sommige omstandighede kan jou opregte poging om klank te beperk, op redelikheid dui. Daar is ook ander maniere waarop jy jou bure tegemoet kan kom. Moet byvoorbeeld nie die kragopwekker in die middernagtelike ure gebruik nie en gebruik dit net wanneer dit werklik nodig is. Moet ook nie ʼn groter (en raseriger) kragopwekker aanskaf as wat nodig is om aan jou minimum behoeftes te voldoen nie. Wees redelik en plaas jouself in jou bure se skoene.
Indien jy jouself aan die anderkant van die grenslyn bevind en jou bure se kragopwekker jou steur, gaan gesels beleefd met hulle. Moenie aanvallerig wees nie, maar probeer om op ʼn vriendelike wyse jou situasie aan hulle oor te dra. Kyk of julle tot ʼn vergelyk kan kom. Dalk sal hulle bereid wees om die kragopwekker te skuif of om die geraas met klankdigting te beperk. Redelikheid moet van albei party af kom. Begryp dat jy nie op absolute stilte kan aandring nie en nie oorsensitief mag wees nie – veral in die huidige posisie waarin Suid-Afrikaners hul tans bevind. Ons leef in tye waar kragopwekkers ongelukkig nodig is en ons almal moet saamwerk om ʼn geskikte balans in ons woonbuurte te handhaaf. Leef en laat leef!
Alhoewel jy dus ʼn redelike mate van geraas moet verduur, is dit wel moontlik om verdere stappe te neem indien dinge te ver gaan. Afhangende van waar jy woon, is dit eerstens moontlik om ʼn oorskryding van die voorgeskrewe klankgrense by die owerhede aan te meld. In gevalle waar jou bure weier om rede in te sien en die geraas werklik buitensporig is – en jy nie bloot oorsensitief is nie – kan jy ook regsadvies inwin en by die hof aansoek doen vir ʼn interdik wat jou bure dwing om die oorlas te staak. Litigasie tussen bure moet egter ten alle koste vermy word, want dit kan lei tot langdurige onaangenaamheid.
Biografie van die skrywer:
Prof. Reghard Brits is ʼn deeltydse dosent in Regsgeleerdheid by Akademia en het ʼn BCom (Regte)-, LLB- en LLD-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Brits se navorsingsfokus is Saaklike Sekerheidsregte asook Sakereg in die algemeen en aspekte van Insolvensiereg en Verbruikerskredietreg. Hy is onlangs toegelaat as prokureur en aktebesorger en is werksaam by Brits Dreyer Ingelyf in Bellville. Hy was voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria as senior lektor en medeprofessor en hy is tans ʼn buitengewone professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland asook ʼn navorsingsgenoot aan US.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.