Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Slaan só eksamenvrees hok

Geskryf deur dr. Mandie Dubery, ʼn maatskaplike werker verbonde aan Akademia se Studentewe-afdeling

Eksamen en eksamenvrees loop hand aan hand, en studente ervaar dikwels groter druk om gedurende hierdie noodsaaklike assesseringstydperk te presteer. Junie is weereens eksamentyd, ook by Akademia, en indien jy angstig en kwesbaar voel, skep goeie moed: jy is nie alleen nie én ondersteuning is beskikbaar.

Akademia se Studenteondersteuningsafdeling, oftewel Vangnet, steun studente by wyse van berading, leerondersteuning en leerontwikkeling en moedig studente aan om tydens die eksamentyd, wanneer hulle oorweldig mag voel, by hulle aan te klop vir welstandsondersteuning.

Die volgende topwenke kan ook help om die spreekwoordelike angel uit eksamentyd te haal:

  • Gereelde klasbywoning

Eksamenvoorbereiding begin reeds op die eerste dag van jou klas. Dit is daarom belangrik dat jy gereeld klas bywoon en seker maak dat jy jou werk baasraak. Gereelde klasbywoning verseker dat jy vertroud is met jou dosente – en hul aanbieding- en assesseringstyl.

  • Goeie beplanning

Die oomblik wanneer jy jou eksamenrooster ontvang, is die oomblik wanneer jy met jou beplanning moet begin. Stel vir jou ʼn realistiese studierooster op vir elke module, en maak seker dat jy by dié rooster hou. Sekere van jou modules gaan dalk meer tyd verg as ander, so sorg dat jy dit in berekening bring wanneer jy jou rooster opstel.

  • ʼn Gebalanseerde leefstyl

Die bekende gesegde, ʼn gesonde liggaam huisves ʼn gesonde gees, kom hier te sprake. Dit is belangrik om, as deel van jou voorbereiding, ook genoeg tyd in te ruim vir ontspanning en fisiese oefening. Dit is belangrik dat jy nie nét jou brein nie, maar ook jou liggaam tyd sal gee om jou verhoogde spanningsvlakke te verwerk.

  • Genoegsame slaap

Dit is ʼn mite dat goeie voorbereiding noodwendig beteken dat jy deurnag moet studeer. Navorsing is dit eens dat jou brein optimaal funksioneer wanneer jy genoeg slaap kry. ʼn Gesonde slaaproetine is baie belangrik en jy kan dié roetine help vestig deur ʼn gesonde patroon van herhaling te volg. Wanneer jy klaar gestudeer het in die aand, pak jou boeke weg, gaan stort of lees ʼn boek sodat jy jou geaktiveerde brein kan afskakel. Waak teen te veel skermtyd voor slaaptyd omdat dit jou brein oorstimuleer.

Die volgende wenke kan op die dag van jou eksamen help om jou angstigheid te beheer:

  • Moenie voor die eksamen in gesprekke met angstige studente tree nie. Sulke gesprekke kan jou fokus van jou voorbereiding wegneem.
  • Maak seker dat jy voorbereid is op die dag wat jy eksamen skryf. Jy doen dit deur presies te weet waar en hoe laat jy skryf, en seker te maak dat jou toerusting – soos ʼn sakrekenaar, in ʼn werkende toestand is.

Nie alle angs is sleg nie. ʼn Gesonde hoeveelheid stres dien as ʼn dryfveer wat ons mobiliseer om aksie te neem. Maak seker dat jy die perke van gesonde stres ken, en dat jy nie toelaat dat jy oorweldig word nie. Indien jy wel sukkel om jou angsvlakke te beheer, skep moed in die wete dat kundiges gereed staan om jou te help.

Fonties kan ʼn afspraak by Vangnet maak deur ʼn e-pos te stuur na vangnet@akademia.ac.za of via die Spens. Alternatiewelik kan studente ook ʼn whatsapp stuur na 069 807 1548.

Dr. Mandie Dubery is ʼn maatskaplike werker verbonde aan Akademia se Studentesake-afdeling