Gepubliseer op: 21 Augustus 2025
Geskryf deur Willem Ackermann, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.
Die verskyning van kunsmatige intelligensie (KI) in die onderwys en akademiese milieu word toenemend as ʼn grootse vooruitgang gevier. Tog dwing hierdie nuwe realiteit ons om met ʼn kritiese paraatheid te reageer. ʼn Belangrike vraag wat in dié verband gevra moet word, sluit onder meer in: Wat gebeur wanneer studente eerder algoritmes as hul eie stemme gebruik om te skryf? In ʼn wêreld wat swaar op tegnologie steun, is dit maklik om taal en denke as vanselfsprekend te beskou. Die aanvaarding van KI in akademiese skryfwerk hou ernstige nagevolge in vir onder meer skryfvermoë, taalbeheersing asook die basiese studie van verskeie vakgebiede, waaronder Geskiedenis.
Só laat KI die kuns van skryf wegkwyn
Skryf is nie bloot ʼn funksionele handeling nie, maar eerder ʼn vorm van verkenning en denke. Wanneer studente hul opdragte aan KI oorlaat, verloor hulle die geleentheid om idees te verwerk, teenstrydighede in hulle argumente te identifiseer en argumente te bou. Al hierdie genoemde aspekte verhinder studente om uiteindelik hul eie argumente en stemme te ontwikkel.
Onlangse navorsing deur akademici aan die Universiteit van Tirana in Albania, Tiziana Leka en Aida Gjinali toon dat hoewel KI-ondersteuning taalgebruik en grammatikale korrektheid kán verbeter, dit dikwels gepaardgaan met ʼn afname in oorspronklikheid en kritiese insig. Hierdie gewaarwording is veral duidelik wanneer hierdie instrumente slegs gebruik word om take te verrig sonder enige reflektiewe of kritiese verwerking van die inhoud wat gegenereer is.
Binne hierdie konteks is skryf nie meer ʼn proses van kreatiewe formulering nie, maar eerder een van produksie en reproduksie. Studente leer om te genereer sonder om werklik krities na te dink. Die instrumente wat oorspronklik bedoel was om as hulpmiddels te dien, neem nou die rol van skrywer oor en word gevolglik die primêre bron van akademiese produksie. Die uiteinde van hierdie rolverandering behels die wegkwyning van die krities belangrike vaardighede om komplekse idees selfstandig te formuleer en te orden.
KI en die outentieke stem in Geskiedenis
Die vakgebied van Geskiedenis omvat soveel méér as bloot ʼn katalogus van feite; dit verteenwoordig ʼn proses van interpretasie, kontekstualisering en bronanalise. In die lig hiervan – en die besef dat KI nie in staat is tot empatie, oordeel, óf die aanvoeling van die fynere nuanses van geskiedkundige gebeurtenisse nie – verteenwoordig die gebruik van hierdie instrumente ʼn daadwerklike uitdaging. Wanneer geskiedenis deur KI geskryf word, neem dit ʼn onpersoonlike, oppervlakkige en dikwels ontoereikende aard aan. Die gevolg hiervan is ʼn generasie wat slegs bestaande geskiedkundige feite herhaal, sonder om verantwoordelikheid te neem vir die skep van hul eie oorspronklike geskiedkundige tekste.
Die navorser Ziyang Xu, stel hierdie bevinding duidelik wanneer hy verduidelik dat die meeste KI-gegenereerde akademiese tekste eerder op leesbaarheid as inhoudsdiepte fokus. Hierdie tendens bedreig in wese die aard van geskiedskrywing self – ʼn dissipline wat juis steun op uiteenlopende perspektiewe, kritiese denke en die deeglike interpretasie van bronne.
Die morele vraagstuk van oorspronklikheid
Die vraag moet tereg, en as ʼn saak van dringendheid, gevra word: Wie is die skrywer wanneer ʼn teks deur ʼn algoritme gegenereer word? Is dit die individue wat die algoritme ontwerp het? Is dit al die skrywers wie se werk sonder erkenning gebruik is? Miskien is dit dalk selfs die KI-platformprogrammeerders wat verantwoordelik is vir die samestelling van halwe waarhede, die wanvertolking van akademiese tekste, en die deursyfer van hul eie vooroordele?
Hierdie vraag is nie bloot filosofies van aard nie, maar het daadwerklike praktiese implikasies vir akademiese integriteit. Die grens tussen hulp en plagiaat word toenemend vaag. KI lewer tekste, maar nie insig nie; dit voorsien woorde en paragrawe, maar nie bedoeling nie.
Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, waarsku dat opvoeders, skole en universiteite dringend en krities sal moet herbesin oor hoe taal, denke en studente se skryfvaardighede as fundamentele komponente van leer beskerm moet word. Volgens Du Plessis is die vraag dus nie óf KI gebruik moet word nie, maar hóé dit gebruik moet word. Hiermee saam moet die etiese en pedagogiese verantwoordelikhede ook in ag geneem word.
In ʼn land soos Suid-Afrika, waar onderwys heeldikwels reeds deur ongelykheid en infrastruktuurprobleme gekarakteriseer word, kan die onkritiese integrasie van KI in leeromgewings daartoe lei dat leer verder vervlak. Sonder behoorlike leiding en onderrig rakende KI-geletterdheid, word die risiko geloop om nie die digitale gaping te oorbrug nie, maar eerder te verdiep.
ʼn Smart Learning Environments-studie toon dat studente dikwels nie oor die nodige vaardighede beskik om KI verantwoordelik en strategies te gebruik nie. KI is ʼn instrument, soos ʼn hamer: dit kan ʼn spyker vaspen, maar ook skade aanrig as dit verkeerd gebruik word. Die gevolg is dat leerresultate eerder verswak as versterk, veral in dissiplines soos geskiedenis, waar taalvermoë en kritiese analise sentraal staan.
Skryf as ʼn daad wat getuig van ʼn intellektuele bewussyn
Skryf is méér as ʼn middel tot ʼn doel; dit is ʼn proses waardeur ons ons wêreld verstaan, bevraagteken en herdefinieer. In ʼn tyd waarin KI al hoe meer as plaasvervanger vir menslike denke gebruik word, word skryf (en nie net die skep van tekste nie), ʼn daad van weerstand.
Dit bly egter ʼn ieder en ʼn elk se verantwoordelikheid om nie net tegnologie te omarm nie, maar om ook teen die vervanging van denke met tegnologie te staan – om die menslike vermoë om te dink, te voel en sin te maak van die vrae wat ons omring, te bewaar.
Die uitdaging wat KI bied, is nie tegnologies van aard nie, maar fundamenteel menslik. Ons moet studente toerus om nie net tegnologie te gebruik en dit blindelings te glo nie, maar óók om dit krities te bevraagteken. Só kan skryfwerk behoue bly as een van die mees kritiese vorme van intellektuele bewussyn, veral in ʼn tyd waarin dit makliker as ooit is om nie te dink nie, maar net te aanvaar.
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.