*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 24 Februarie 2026
Het jy al ooit probeer om ʼn Rubik-kubus (Rubik’s Cube) op te los? Dié kopkrapper kan vir ʼn behoorlike uitdaging sorg, as jy nie van die begin af die groter prentjie raaksien en jou skuiwe goed beplan nie. Dieselfde is waar vir studie- en loopbaanbeplanning. Die toekoms lyk vir baie skoolverlaters soos een van hierdie kubusse: vol moontlikhede, maar sonder ʼn duidelike patroon – totdat hulle besef hoe die verskillende boustene saamwerk om ʼn logiese geheel te vorm.
Dink ʼn bietjie hieroor na. Aanvanklik lyk die pad na naskoolse studiesukses ingewikkeld en kan die keuse oor studierigtings, kampusse, kostes, jou roeping en studentelewe jou laat twyfel. Tydens Akademia se 2026-kampusopedag het jy die geleentheid om jou eerste skuif te maak, en te verstaan hoe dié instelling vir jou die boublokke na toekomssukses neerlê. Die jaarlikse opedag vind in die Paarl (20 en 21 Maart) én in Pretoria (24, 25 en 27 April) plaas.
Lizán Maree, bestuurder: Bemarking, verduidelik aan die hand van ʼn aantal kernvrae, hoe die opedag waarde toevoeg – nie nét vir voornemende studente nie, maar ook hul ouers.
Wat kan leerders van die opedag verwag?
Die Akademia-kampusopedag is daarop gefokus om besoekers ʼn ervaring van die instelling se hart te gee. Daar heers ʼn feestelike atmosfeer met musiek, stalletjies en natuurlik goeie koffie! Elke opedagsessie skop af met ʼn amptelike inligtingsessie waartydens algemene inligting oor Akademia as instelling, die studentelewe en toekomsplanne gedeel word. Daar is ook geleentheid om meer inligting oor spesifieke studieprogramme te verkry, meer oor administratiewe en finansiële prosesse te leer, asook jouself te vergewis van die koshuisopsies, en natuurlik die instelling se bruisende studentelewe.
Die opedag is ʼn spanpoging van Akademia-personeel en -studente waar voornemende studente toegang het om met enigeen te gesels oor dit wat hulle graag van die instelling wil weet. Op hierdie manier word die instelling se eiesoortige kultuur en waardes nie net tydens die opedag gekommunikeer nie, dit word deur elke Fontie* teenwoordig uitgelééf.
Waarom is die opedag ʼn belangrike belewenis?
Akademia doen moeite sodat elke besoeker welkom voel by die opedag, dit is immers deel van Akademia se wese, om mense tuis te laat voel. Verder is die dag, ten spyte van die feestelike atmosfeer, georden sodat almal presies weet wanneer hulle waar moet wees, en nooit huis toe gaan met die gevoel dat hulle ervaring te kort geskiet het nie. As hoëronderwysinstelling wil die span graag hê dat almal met rustigheid en sekerheid oor hulle studietoekoms moet wegstap van die opedag.
Die kampusopedag is ʼn unieke geleentheid om ʼn ware ervaring van studentwees te kry, nog voordat jy self ʼn student is. Soveel studente getuig daarvan dat die opedag die finale beslissende faktor in hulle besluitnemingsproses was. Dit is veral belangrik vir matrikulante om vroeg reeds ʼn besluit oor hul studietoekoms te neem, voordat die druk van eksamens dié belangrike besluit bemoeilik.
Die opedag is nie net ʼn vertoonvenster van wat Akademia bied nie, dit is ʼn geïntegreerde belewenis van Akademia se denke én hart.
Hoe bied die opedag ʼn realistiese beeld van die daaglikse lewe by Akademia?
Die opedag vind plaas op Akademia se persele sodat besoekers ʼn gevoel kan kry van hoe dit elke dag op kampus is. Die studieprograminligtingsessies word aangebied in lesinglokale, deur die studieprogram se dosente, wat vir besoekers ʼn ware klaservaring gee. Tydens die kampusopedag word dikwels ook dieper gesprekke gevoer, ten einde te verseker dat elke voornemende Fontie doodseker kan wees dat die instelling en sy/haar gekose studierigting die regte grondslag is waarop hulle hul toekomsdrome wil bou.
Wat kan ouers en of voogde van die opedag verwag?
Ouers en voogde kry selde die geleentheid om die kampus eerstehands te ervaar. Om hierdie rede is die kampusopedag die ideale geleentheid om self weer die gevoel van studentwees te kom ervaar, dosente te ontmoet, ʼn aanbieding in ʼn lesinglokaal by te woon, en huidige Fonties se stories te hoor. Verder is daar kundiges beskikbaar wat kan help met die antwoord van kwelvrae oor die finansiering van studie, afbetalingsopsies en studierigtings.
Hoe kan leerders die meeste waarde uit die opgedag kry?
Ons vind dat wanneer leerders voorbereid opedag toe kom, dit hulle ervaring soveel meer verdiep. Kyk reeds na die studierigtings wat op die voltydse kampusmodel beskikbaar is, en besluit watter jy oorweeg. Maak seker of jou vakke en punte voldoen aan die gestelde toelatingsvereistes. Kom voorbereid met vrae waaroor jy onseker is, soos byvoorbeeld toelatingsvereistes, loopbaanrigtings, en verdere studieopsies ná voltooiing van jou voorgraadse program.
As jy nog nie seker is oor jou studiekeuse nie, dan is die opedag soveel te meer ʼn waardevolle geleentheid vir jou. Bring gerus jou mees onlangse puntestaat saam en kom so twintig minute voor die aanvangstyd om ʼn draai by die algemene inligtingstalletjie te maak. Daar sal ʼn bemarkingsadviseur beskikbaar wees om ʼn gesprek te voer, en raad te gee oor watter studieprograminligtingsessie hulle voorstel julle moet bywoon.
Die opedag bied aan jou toegang tot kundige personeel en huidige studente wat jy nie sommer weer gaan hê voordat jou studiereis afskop nie. Maak seker dat jy elke oomblik daarvan ten volle benut.
Bespreek vandag nog jou plek vir die opedag, en lê so die eerste boustene vir jou toekoms neer. Vir meer inligting besoek gerus die Akademia-webblad.
*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – vanuit die bronne na die toekoms.



Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.