Die gevaarlikste idee in die geskiedenis: Jesus Christus se opstanding

Gepubliseer op: 20 Mei 2025

Geskryf deur dr. Daniël Maritz, bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum en kapelaan by Akademia.

Peter Hitchens, die broer van die oorlede ateïs Christopher Hitchens (1949-2011), het eenmaal saam met drie ander sprekers op ʼn program genaamd The Festival of Dangerous Ideas aan ʼn paneelgesprek deelgeneem.[1] Aan die einde van die gesprek is die paneellede gevra watter gevaarlike idee, volgens hulle, die grootste potensiaal het om die mensdom ten goede te verander.

Terwyl die ander paneellede antwoorde gegee het soos die implementering van bevolkingsbeheer deur aborsies vir 30 jaar verpligtend te maak, die moderne opvatting van vryheid nog meer te bevorder en by mense tuis te bring, en die aanmoediging van ouers om minder tyd met hul kinders te spandeer; het Hitchens op sy beurt geantwoord dat die gevaarlikste idee in die geskiedenis van die wêreld behels dat Jesus Christus die Seun van God is, wat aan die kruis gesterf het en weer uit die dood opgestaan het.

Hierdie aanspraak verander die ganse menslike bestaan. As dit waar is, is die kosmos nie ʼn sinnelose en hopelose plek wat in chaos gedompel is nie, maar eerder ʼn plek van geregtigheid, betekenis en hoop. Christus se opstanding gee vir elke persoon gevolglik die verantwoordelikheid om die aard van daardie geregtigheid te ontdek en na daardie hoop te streef. Hitchens het sy antwoord afgesluit deur aan te voer dat, ongeag of jy die liggaamlike opstanding van Jesus Christus aanvaar of nie, jy nie die gevolge daarvan kan ontsnap nie.

Hitchens se woorde eggo dié van die apostel Paulus in 1 Korintiërs 15:12-19. Paulus beskryf ook die opstanding van Jesus op ʼn indirekte manier as ʼn baie gevaarlike idee. Hy gebruik die frase “as Christus nie opgewek is nie” om drie droewige gevolge vir die Christen uit te lig:

  1. Eerstens, “as Christus nie opgewek is nie,” dan is alle toegewyde Christene leuenaars. Dit beteken dat alle kerkleiers wêreldwyd eerlike werk moet gaan soek en waarskynlik by ʼn ander godsdiens moet aansluit, aangesien die Christelike geloof ʼn bedrogspul is.
  2. Tweedens, “as Christus nie opgewek is nie,” dan is daar niks inhoudelik oor vir die Christelike geloof nie. Die historisiteit van die kruis en die leë graf van Jesus is immers die fondament waarop Christene deur die eeue heen hul harte en gedagtes gevestig het. Kortom, die Christelike geloof sou inhoudelik in duie stort as Christus nie opgewek is nie.
  3. Derdens, “as Christus nie opgewek is nie,” dan is alle Christene steeds in hul sondes vasgevang, sonder enige manier om daaruit te ontsnap. Dit impliseer dat sonder die opstanding, Jesus se kruisiging geen werklike betekenis gehad het vir die mens se versoening met God nie. In die lig van hierdie drie donker implikasies maak dit sin dat Paulus die gedeelte afsluit deur te sê dat “as Christus nie opgewek is nie,” Christene die bejammerenswaardigste van alle mense is.[2]

Ten spyte van verskeie besware wat al teen die opstanding van Jesus Christus geopper is, blyk dit dat die oortuiging van Sy opstanding nie verdwyn nie. Dit is reeds twee-duisend jaar lank aanwesig te midde van pogings om dit as vals af te maak of te herdefinieer in watter opsig ook al. Gevolglik moet jy dit verreken, óf toelaat dat dit jou verreken. Die bewering dat Jesus histories uit die dood opgestaan het, is lyk my die een idee wat te gevaarlik is om te hanteer, maar te wonderlik om te ignoreer.

Om die waarheidsaanspraak van die opstanding egter werklik te verstaan, moet ons eers oortuig wees van die intensiteit en finaliteit van ʼn kruisiging ten einde die ware opstanding uit die dood ten volle te kan waardeer. Dus, wat is die betekenis van ʼn kruisiging en ʼn opstanding soos wat dit in die eerste eeu n.C. verstaan is.

ʼn Kruisiging was ʼn verskriklike en vernederende gebeurtenis. Dit was een van Rome se maniere om hul mag oor enige vorm van teenstand te toon. Die boodskap wat dit oorgedra het, was: “Moenie met Rome mors nie, want indien jy doen, sal jy ʼn vernederende en wrede dood sterf.” ʼn Kruisiging is veral gereserveer gewees vir “lede van die laer klas, slawe, soldate, gewelddadige rebelle en diegene wat van verraad beskuldig is.”[3] Verder was ʼn teregstelling deur middel van kruisiging waarskynlik een van die wreedste en mees gruwelike maniere om te sterf, en die Romeine het dit bemeester.[4] Nog voordat iemand aan ʼn kruis vasgespyker is en daar gelos is om stadig dood te gaan weens oormatige bloedverlies en ʼn suurstof tekort, is die persoon eers “gemartel met swepe, vuur en allerlei ander folteringe.”[5] Indien iemand gekruisig is, is die persoon se lewelose liggaam van die kruis afgehaal. Jesus se kruisiging was dus geen uitsondering nie en dit is daarom hierdie martelingsdood wat die agtergrond vorm vir die wonder van die opstanding.[6] 

ʼn Opstanding verwys na ʼn konkrete, letterlike liggaam wat weer tot lewe kom nadat dit vir ʼn tyd lank dood was. Met ander woorde, ʼn opstanding was nie bloot ʼn vae verwysing na die hiernamaals of ʼn soort herlewing[7] nie. Dit het nie beteken dat jy in Sheol of Hades opstaan ná jou dood, of dat jou siel op een of ander manier van sy liggaamlike bestaan bevry word nie. Nee, dit was ʼn letterlike, fisiese opstanding van die liggaam ná die dood.[8] Die bewering oor Jesus is dat Hy aan die kruis gesterf het en ná drie dae weer fisies uit die dood opgestaan het. In die woorde van Herman Bavinck: “in sy dood het Jesus aan die dode behoort, en in sy opstanding het Hy uit hul domein teruggekeer na die land van die lewendes.”[9]

Maar het hierdie gebeurtenis werklik gebeur het? Is die gevaarlike idee van Jesus Christus se opstanding meer as net ʼn idee? Het dit iewers in die geskiedenis gestalte gekry sodat dit met reg na verwys kan word as ʼn historiese gebeurtenis? In kort, is dié aanspraak van die Christelike geloof waar?

Johannes 20:1-8 vertel hoe Maria Magdalena na die dissipels toe gegaan het om vir hulle te sê dat Jesus se graf leeg is en dat iemand sy liggaam verwyder het. Toe Petrus en ʼn ander dissipel, waarskynlik Johannes, hiervan hoor, het hulle na Jesus se graf toe gehardloop. Die ander dissipel het eerste daar aangekom, maar hy het nie in die graf ingegaan nie. Hy het net vooroor gebuig om in die graf in te kyk en die linnedoeke gesien waarin Jesus se liggaam toegedraai was. Toe Petrus egter daar aankom, het hy die graf binnegegaan, ook gekyk en die linnedoeke daar sien lê.

Die interessante ding om in hierdie gedeelte raak te sien, is dat die ander dissipel net vooroor gebuig het om beter in die graf in te sien, maar nie aanvanklik in die graf ingegaan het nie. Die Griekse woord wat hier vir “sien” gebruik word, is blepō (βλέπω), wat die gewone alledaagse woord vir kyk en sien is. Maar toe Petrus ingaan en “sien,” word ʼn ander Griekse woord gebruik. Wanneer Petrus kyk en sien; theoreō (θεωρέω) hy. Hierdie Griekse woord is waarvan ons die Engelse woord theorize vandaan kry. Met ander woorde, selfs in hierdie oomblik is Petrus besig om ondersoek in te stel opsoek na bewyse sodat hy kan verstaan wat daar in die leë graf gebeur het. Hy sien die linnedoeke daar lê en die gesigdoek netjies op ʼn ander plek opgevou. Hy gebruik sy verstand om die waarheid van hierdie gebeurtenis te ontdek. Hy weeg die bewyse op, teoretiseer in die lig daarvan en dink logies daaroor na.[10]

Die les vir ons is dat geloof altyd met ʼn oortuigde verstand begin. Aanvanklik is geloof iemand se denke oor die waarheid van sake. Ja, geloof lei ook na gevoelens en persoonlike ervarings toe, maar eerstens is dit om die waarheid te deurdink, die bewyse te bestudeer en daaroor in gesprek met ander mense te tree. Dit is nie gesond vir die hart om iets te glo wat die verstand as irrasioneel verwerp nie. Geloof is daarom baie meer as net die mens se rede en denke, maar vir geen oomblik minder as dit nie. Gevolglik sal dit vir ons die moeite werd wees om saam deur enkele bewyse vir Jesus se opstanding te dink. Die doel is uiteraard om toe te laat dat hierdie bewyse ons gedagtes verder en hoër rig om die waarheid van Jesus Christus se opstanding met al die implikasies daarvan te omhels.

In dié sin kan die belangrikheid van geskiedskrywing en ons toegang tot daardie tekste en skrywes nie onderskat word nie. Die Christelike geloof se aanspraak, veral in die konteks van Jesus se opstanding, is gewortel in geskiedenis. Die Bybel bied homself grotendeels aan as ʼn historiese boek en gevolglik is Bybelse waarhede gekoppel aan konkrete gebeure en persone in die geskiedenis. Daarom is ʼn gesonde en betroubare benadering tot geskiedenis van uiterste belang vir die handhawing van die Christelike geloof.[11]

Terwyl daar ʼn skeptiese houding aangaande historiese tekste met bonatuurlike aansprake in ons moderne era bestaan, is die sogenaamde Christelike realisme oop vir die werklike wêreld en vir die duidelike kommunikering van antieke tekste omdat dit ʼn “ware verhouding veronderstel tussen die geskrewe teks en die eksterne werklikheid waarna dit lei.”[12] Die Christelike tradisie skaar homself by ʼn realisme, wat nie sonder kritiek nie, oop staan vir die werklikheid van ʼn teks of geskrif met die wete dat ʼn ware teks in staat is om waarheid vanaf buite sigself akkuraat oor te dra. Alhoewel die teks nie die volkome volheid van daardie werklikheid bevat nie, staan dit nietemin hiërargies vanaf onder die werklikheid dienend tot die oopmaak van die werklikheid self.[13] Die Bybel, veral die Nuwe Testament, as ʼn historiese versameling van boeke en briewe, begelei as’t ware ons gedagtes in die geskiedenis in wat lank terug afgespeel het. Dit is dan juis by die historiese aansprake en interpretasie van Jesus se opstanding waarby ons nou gaan stilstaan.

Dat die graf van Jesus op die Sondagoggend leeg was, is ʼn onbetwiste historiese feit.[14] Daar is bitter min geleerdes, ook onder nie-Christen geledere, wat dit vandag sal ontken. Die leë graf van Jesus is op sigself nie ʼn bewys vir die opstanding nie, maar dit is ʼn voorvereiste vir die liggaamlike verskynings van Jesus na Sy kruisiging.[15] Trouens, die verskynings van Jesus ná Sy kruisiging sou niksseggend gewees het as Sy liggaam nog in die graf was. In hierdie sin is die leë graf van Jesus van groot belang vir die realiteit van ʼn liggaamlike opstanding. Al vier die evangelies verskaf ʼn samehangende beeld van die verlate graf en ʼn engel wat bevestig dat Jesus nie daar is nie, maar opgestaan het uit die dood.[16]

Belangrik om te onthou is dat die leë graf die eerste keer verkondig is in dieselfde stad waar Jesus gekruisig en begrawe is. Toe die apostel Paulus hom voor koning Agrippa en Festus verdedig voer hy aan dat sy getuienis oor die persoon en die werk van Jesus “spreek van waarheid en gesonde oordeel.” Die rede hiervoor is omdat die gebeure rondom Jesus se lewe, insluitend Sy opstanding, nie “in ʼn uithoek plaasgevind het nie,” maar eerder openbare gebeure was.[17] Enigiemand in Jerusalem kon in die dae ná Jesus se opstanding self na die graf toe gaan om te verifieer of dit leeg was. Die leë graf word ook nie deur die Joodse owerhede in Matteus 28:11-15 ontken nie. As Christus se liggaam steeds in die graf was, sou hulle nie die moeite gedoen het om die wagte om te koop om vir mense te sê dat die dissipels Jesus se liggaam in die nag gesteel het nie. In plaas daarvan kon hulle eenvoudig na die graf gewys het waar Jesus se liggaam nog sou lê. Dit sou genoeg gewees het om te bewys dat die dissipels besig was met leuens.

ʼn Verdere saak om by stil te staan is die feit dat die eerste getuies van die leë graf en Jesus se opstanding vroue was. In daardie dae was vroue nie as betroubare bronne van inligting beskou nie en kon hulle nie in ʼn hof getuig nie.[18] ʼn Tweede-eeuse Griekse filosoof, Celsus, het juis dit as ʼn swakheid van die Christelike geloof beskou en dit gebruik as ʼn kritiek teen die bewering dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het. Met verwysing na Maria Magdalena het hy geskryf dat “ʼn histeriese vrou” eerste die opgestane Jesus gesien het. Volgens hom was sy deur towerkuns “verwar” en “so verskeur deur hartseer” dat sy “gehallusineer” het.[19]

Die punt hier is om te besef dat die evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes ons konfronteer met vroue as die eerste ooggetuies van die leë graf, en spesifiek Maria Magdalena as die eerste ooggetuie van die opgestane Jesus self. As die evangelieskrywers probeer het om ʼn storie te fabriseer met so ʼn buitengewone aanspraak soos ʼn opstanding uit die dood, en hulle wou hê mense moes dit glo, sou dit nie ʼn slim skuif wees om vroue as die eerste ooggetuies te gebruik nie. Die beste verklaring hiervan is uiteraard dat die dissipels, en spesifiek die evangelieskrywers, oor die waarheid van sake getuig het.[20]

Hierdie gegewens gaan hand aan hand met die ervarings van die dissipels en ander mense in die dae direk ná die kruisiging van Jesus. Die bewyse dui daarop dat Jesus gereeld na sy dood liggaamlik gesien was en dat hierdie verskynings van Jesus deur individue in die privaat, asook deur groepe toeskouers in die publiek ervaar was. Meer nog, die “verslae meld dat die opgestane Jesus deur beide mans en vroue waargeneem is, binnenshuis en buite, gedurende die dag sowel as in die nag, deur sommige ongelowiges sowel as ander wat getwyfel het.”[21] Party van die bronne gaan ook selfs nog verder as bloot net sien, en maak aanspraak dat daar aan Jesus geraak is, en dat Hy kos geëet het tydens hierdie verskynings ná Sy kruisiging.

ʼn Relevante aspek om in hierdie konteks verder na vore te bring is die belydenis-tradisie van die vroegste Christene. Daar is verskeie gedeeltes in die Nuwe Testament, veral in Paulus se briewe, wat duidelik die tekens dra van geloofsbelydenisse, liturgiese formules, gebede, preke en liedere.[22] Dit impliseer dat die inhoud van daardie gedeeltes reeds onder Christene as ʼn gevestigde tradisie bestaan het voordat dit amptelik deel geword het van die Nuwe Testamentiese kanon. Die bekende 1 Korintiërs 15:3-7 is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Alhoewel die brief in geheel iewers tussen 52 en 56 n.C. geskryf is, het Paulus die inhoud van 1 Korintiërs 15:3-7 waarskynlik al so vroeg as 36 n.C., slegs ses jaar ná Jesus se kruisiging en opstanding, tydens sy besoek aan Jerusalem ontvang. Hierdie volledige belydenis in 1 Korintiërs 15:3-7 was daarom waarskynlik al lewendig in die kerk voor Paulus se eie bekering op pad na Damaskus in 33 n.C. ʼn Mens sou kon sê dat hierdie geloofsbelydenis ʼn direkte gevolg is van die gebeure in Jerusalem kort ná Jesus se kruisiging. Die dissipels se ervarings as ooggetuies van die opgestane Jesus ná Sy kruisiging in 30 n.C. was op dié manier gepreserveer deur die vroegste Christene en reeds in hul geloofsbelewenis as ’n belydenis ingeweef.[23]

Nog ʼn belangrike bewys wat organies vanuit die boonste gegewens vloei is die veranderde lewens van die dissipels en die vroeë Christene. Gedurende Sy bediening het Jesus Homself omring met dissipels wat Hom voortdurend in die steek gelaat het. Hulle was lafhartig en het gevlug toe Jesus gearresteer was voor Sy kruisiging. Nietemin, ná Jesus se opstanding en hemelvaart, het hulle leiers van verskillende kerkgemeenskappe geword en is een na die ander as martelare vermoor vir hul oortuiging dat Jesus van Nasaret gesterf en weer opgestaan het uit die dood.[24] Die feit is dat niemand sy lewe aflê vir iets wat hy weet ʼn blatante leuen, mite of legende is nie. Hierdie onwrikbare oortuiging van die dissipels en ander vroeë gelowiges was uiteraard “gegrond… op die verskynings [van die opgestane Jesus] wat hulle self gesien het of waarvan ander, in wie hulle volkome vertroue gehad het, hulle vertel het.”[25]

Verder was daar vele messiaanse figure voor en ná die lewe van Jesus. Baie van hulle het vryheid van Rome belowe, maar wat gewoonlik gebeur het, was dat hierdie messiaanse figure ʼn opstand teen die Romeinse onderdrukkers gelei het en Rome uiteindelik die rebelle uitgewis het. Sodra die messiaanse figuur gewelddadig doodgemaak is, het sy beweging tipies saam met hom tot stilstand gekom. Die volgelinge van hierdie messiaanse figure kon gevolglik óf die beweging verlaat óf ʼn nuwe messias vind om hul saak te lei.[26]

Tog het die sogenaamde Jesus-beweging voortgeduur, selfs nadat hul Messias, Jesus self, doodgemaak is. Dit was nooit nodig om ʼn nuwe Messias na Hom aan te wys nie. Hoekom nie? Omdat Hy werklik uit die dood opgestaan het, en sy volgelinge verklaar het dat selfs al is Hy nie meer fisies teenwoordig nie, Hy steeds in beheer van hul beweging is.[27] Hierdie aanspraak was totaal en al uniek vir daardie tyd.

Dus is die enigste en heel eenvoudige verklaring vir die ervarings en veranderde lewens van die dissipels en die vroeë Christene ʼn werklike opstanding uit die dood. Die opstanding van Jesus was van die begin af ʼn wesentlike deel van die vroeë Christene se geloofsbelewenis. Sonder daardie geloof sou die kerk nooit begin het en gegroei het soos dit het nie. Trouens, die oorsprong van die Christelike kerk hang ten nouste saam met die dissipels se oortuiging dat God vir Jesus uit die dood uit opgewek het.[28]

In ʼn heel ander konteks het die Griekse filosoof Archimedes (287-212 v.C.) blykbaar gesê: “Gee my ʼn plek om te staan, en ek sal die wêreld beweeg.”[29] Die volgelinge van Jesus Christus, sou ons kon sê, is ʼn plek gegee om te staan. Hulle het gestaan op die fondament van ʼn gevaarlike idee; die idee dat Jesus Christus gesterf het én weer opgestaan het uit die dood. Maar dit was nie bloot net ʼn gevaarlike idee nie; dit was ʼn werklikheid, ʼn ware historiese gebeurtenis. Die vroeë Christene het dus ʼn vaste grond gehad, ʼn historiese waarheid gevul met hoop. En toe hulle op hierdie waarheid gaan staan het, het hulle inderdaad die wêreld beweeg. In die woorde van Peter Kreeft en Ronald Tacelli:

“Elke preek wat in die Nuwe Testament deur Christene gepreek is, het om die opstanding gedraai … Die boodskap wat soos weerlig deur die antieke wêreld geslaan het, harte aan die brand gesteek het, lewens verander het en die wêreld onderstebo gedraai het, was nie bloot ‘hê jou naaste lief’ nie … Die nuus was dat ʼn man wat gesê het Hy is die Seun van God en die Verlosser van die wêreld, opgestaan het uit die dood.”[30]

[1] Hierdie gesprek is by die volgende skakel beskikbaar: https://www.youtube.com/watch?v=mnD98hNq6ZY. Besoek op 31 Maart 2025.

[2] Dit kan ook bygevoeg word dat Romeine 10:9-10 ʼn ware geloof in Jesus se liggaamlike opstanding voorhou as ’n voorwaarde vir verlossing. Dit dra by tot die feit dat dit inderdaad ’n gevaarlike idee is.

[3] Michael R. Licona. 2010. The Resurrection of Jesus: A New Historiographical Approach. Downers Grover: InterVarsity Press, p. 303.

[4] Flavius Josephus (37-100 AD), ’n Joodse historikus, het byvoorbeeld na ’n kruisiging verwys as “’n uiters ellendige dood” (Sien Flavius Josephus & William Whiston. 1988. The Works of Josephus: Complete and Unabridged. Peabody: Hendrickson, p. 760).

[5] Licona, M. 2010. The Resurrection of Jesus, p. 303.

[6] Sien Geisler, N. 2003. Systematic Theology: Volume 2: God, Creation. Minneapolis: Bethany House Publishers, pp. 612-613. Vir ’n deeglike bespreking van die mediese gevolge van ’n kruisiging sien Bergeron, J.W. 2018. The Crucifixion of Jesus: A Medical Doctor Examines the Death and Resurrection of Jesus. St. Polycarp Publishing House, pp. 91-167. Vir ʼn goeie oorsig oor die historiese hantering van Jesus se kruisiging sien Habermas, G.R. 2024. On the Resurrection: Volume 1: Evidences. Brentwood, TN: B&H Academic, pp. 284-335. Sien ook Licona, M. 2010. The Resurrection of Jesus, pp. 303-318.

[7] Dink byvoorbeeld aan iemand wat, in die Engels, deur ʼn resuscitation gaan. ʼn Opstanding is nie dieselfde as hierdie tipe herlewing nie.

[8] Hierdie spesifieke opvatting van Jesus se opstanding was deur die eeue heen deel van die algemene Kerk se belydenis. Vir ’n konfessionele benadering tot Jesus Christus se opstanding, sien Geisler, N.L. 1992. The Battle for the Resurrection. Eugene: Wipf & Stock Publishers, pp. 51-65.

[9] Bavinck, H. 2006. Reformed Dogmatics: Volume 3: Sin and Salvation in Christ. Ed. John Bolt, H., trans. John Vriend. Grand Rapids: Baker Academic, p. 437. Sien ook Wright, N.T. 2003. The resurrection of the Son of God. London: Society for Promoting Christian Knowledge (Christian Origins and the Question of God), pp. 81-84.

[10] Met betrekking tot Petrus, kon hy miskien die moontlikheid dat Jesus se liggaam gesteel is oorweeg. Miskien is sy liggaam deur grafrowers geneem, of dalk het die ander dissipels Jesus se liggaam gesteel. Tog het hy die linnedoeke en die gesigdoek gesien wat aan die een kant opgevou was. Dit sou vreemd wees as grafrowers of die ander dissipels hierdie items agtergelaat het. Die punt bly staan dat Petrus op hierdie stadium besig is met historiese ondersoek in ʼn poging om die beste verklaring vir Jesus se leë graf te vind. Vandag kan ons presies dieselfde doen as wat Petrus gedoen het, deur die openbare bewyse wat tot ons beskikking is rakende Jesus se opstanding, te ondersoek. Die skrywer is dankbaar teenoor Timothy Keller (1950-2023) vir hierdie insigte (sien byvoorbeeld hierdie video: https://www.youtube.com/watch?v=59L1CkF1y98&t=468s. Besoek op 31 Maart 2025).

[11] Corduan, W. 1981. Handmaid to Theology: An Essay in Philosophical Prolegomena. Eugene: Wipf & Stock Publishers, p. 86.

[12] Kelly, D.F. 2014. Systematic Theology: Grounded in Holy Scripture and Understood in Light of the Church: The Beauty of Christ – A Trinitarian Vision, Vol. 2. Ross-shire, Scotland: Mentor, pp. 468-469.

[13] Ibid. Sien ook Howe, T.A. 2010. Objectivity in Biblical Interpretation. USA: Advantage Books, p. 47. Kyk ook na Geisler, N.L. 2002. Systematic Theology: Volume 1: Introduction, Bible. Minneapolis: Bethany House Publishers, p. 189.

[14] Bavinck, H. 2006. Reformed Dogmatics, p. 440. Sien ook Habermas, G.R. 2024. On the Resurrection: Volume 1, pp. 597-634. Kyk ook na Craig, W.L. 2000. The Son Rises: The Historical Evidence for the Resurrection of Jesus. Eugene, OR: Wipf and Stock Publishers, pp. 45-88.

[15] Sien 1 Kor. 15:3-8

[16] Sien Mat. 28:1-8; Mark 16:1-8; Luk. 24:1-12; Joh. 20:1-8

[17] Hand. 26:25-26

[18] Josephus het byvoorbeeld geskryf: “Maar laat die getuienis van vroue nie toegelaat word nie, as gevolg van die ligsinnigheid en vermetelheid van hul geslag” (Sien Flavius Josephus en William Whiston. 1988. The Works of Josephus, p. 117). Hierdie dui daarop dat vroue nooit ’n betroubare stem in die samelewing gehad het nie en nie ernstig opgeneem kon word nie.

[19] Celsus. 1987. On the True Doctrine: A Discourse Against the Christians. Trans. R. Joseph Hoffmann. New York: Oxford University Press, pp. 67-68.

[20] Wright, N.T. 2003. The Resurrection of the Son of God, pp. 607-608, 686.

[21] Habermas, G.R. 2024. On the Resurrection: Volume 1, pp. 367-368.

[22] Sien 1 Kor. 15:3-7; Rom. 1:3-4; 10:9-10; Fil. 2:6-11; Kol. 1:15-20; 1 Tess. 1:9-10; 1 Tim. 3:16; Hand. 2:22-36; 3:13-26; 4:8-12; 5:30-32; 10:39-43; 13:26-39; 17:30-31.

[23] Habermas, G.R. 2024. On the Resurrection: Volume 1, pp. 371-383. Sien ook Craig, W.L. 2000. The Son Rises, pp. 46-51. Die rol van ooggetuies met betrekking tot die opstanding van Jesus is betekenisvol. In 1 Kor. 15:3-9 noem die apostel Paulus baie ander ooggetuies van die opgestane Jesus. Op een geleentheid is Hy selfs deur 500 mense tegelyk gesien. Paulus verskaf verdere besonderhede deur selfs die name van sommige van hierdie getuies te noem. As jy hierdie brief in daardie dae gelees het, sou dit amper wees asof Paulus jou uitnooi om hierdie ooggetuies te besoek en hul verhale self te hoor (Sien ook Luk. 24:15-27 en Markus 15:21, waar mense se name eksplisiet genoem word as getuies met wie ’n mens kon gaan praat).

[24] Mens sou byvoorbeeld vir Jakobus, die broer van Jesus, en die apostel Paulus hier oorweeg. Beide het van vyandige en skeptiess gesindhede oor Jesus verander na die aanvaarding van die waarheid van Sy lewe, dood en opstanding.

[25] Bavinck, H. 2006. Reformed Dogmatics, p. 438. Oorweeg in die lig hiervan ook Luk. 24:34 en 1 Kor. 15:3-8.

[26] N.T. Wright noem twee voorbeelde hiervan. Hy verwys na twee van hierdie messiaanse figure uit daardie tyd wat doodgemaak is nadat hulle teen Rome se onderdrukking in opstand gekom het: “Ons kan dit duidelik sien as ons vir ’n oomblik die situasie verbeel ná die dood van twee van die bekendste sogenaamde Messiasse van daardie tyd—Simon bar-Giora tydens die eerste opstand (66-70 n.C.) en Simeon ben Kosiba (oftewel Bar-Kochba) tydens die tweede (132-135 n.C.). Simon is doodgemaak tydens die hoogtepunt van Vespasianus se triomf in Rome; Simeon, neem ons aan, is doodgemaak toe die Romeine sy beweging verpletter het, saam met alle vooruitsigte vir Joodse bevryding. Ons hoef net ons historiese verbeelding te gebruik en die situasie ʼn paar dae ná hul sterftes in te dink om te sien hoe dit gelyk het … Joodse geloofsoortuigings oor ʼn komende Messias, en oor die dade wat so ʼn figuur sou moes verrig, het in verskeie vorme voorgekom, maar dit het nie ʼn skandelike dood ingesluit wat die Romeinse ryk in staat sou stel om weereens ʼn oorwinning te behaal nie” (Wright, N.T. 2003. The Resurrection of the Son of God, pp. 558-559).

[27] Veertig dae nadat Jesus uit die dood uit opgestaan het, het Hy in die hemel opgevaar wat Sy fisiese afwesigheid van daardie punt af verduidelik.

[28] Craig, W. L. 2000. The Son Rises, p. 128. Sien ook Bavinck, H. 2006. Reformed Dogmatics, p. 438.

[29] Archimedes, beskikbaar by https://en.wikiquote.org/wiki/Archimedes. Besoek op Nov. 26, 2020.

[30] Kreeft, P. en Tacelli, R.K. 1994. Handbook of Christian Apologetics. Westmont: IVP Academic, p. 176.

 

Dr. Daniel Maritz
Dr. Daniël Maritz, bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum en kapelaan by Akademia, verduidelik dat die kosmos nie ʼn sinnelose en hopelose plek wat in chaos gedompel is nie, maar eerder ʼn plek van geregtigheid, betekenis en hoop.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.