Gepubliseer op: 10 November 2025
Geskryf deur Moreen Coetzee, dosent: Professionele Studies aan Akademia, prof Rudi Pretorius, ereprofessor: Geografie aan UNISA en prof. Walter Meyer, professor: Fisika aan die Universiteit van Pretoria (UP).
Internasionale Wetenskapsdag word jaarliks op 10 November gevier en teen die agtergrond van die doelstellings van die 2030-agenda vir volhoubare ontwikkeling is die tema: “Unlocking tomorrow’s solutions, today” besonder betekenisvol.
Wetenskap as die grondslag vir volhoubare ontwikkeling
Die 2030-agenda dien reeds sedert 2015 as ʼn globale raamwerk vir die doelgerigte bevordering van menslike vooruitgang deur middel van sewentien volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD’s). Internasionale ontledings toon egter dat vooruitgang ongelyk bly, veral in lande van die Globale Suide. Beperkings in finansiering, kapasiteitsontwikkeling en institusionele samewerking ondermyn dikwels die doelwitte van volhoubare ontwikkeling. Hierdie werklikheid beklemtoon dat volhoubare ontwikkeling nie bloot deur tegnologiese ingrepe moontlik sal wees nie, maar dat sukses slegs bereik sal kan word indien beide die menslike en opvoedkundige dimensies daarvan ook ingesluit word.
Teen hierdie agtergrond nooi vanjaar se tema die wêreldgemeenskap uit om te besin oor hoe wetenskaplike denke, opleiding en kultuur saamwerk as dryfkragte vir volhoubare ontwikkeling. Die fokus verskuif daarom van ʼn strukturele siening van wetenskap as instelling na ʼn epistemiese en pedagogiese begrip van wetenskap as sosiale praktyk. Laasgenoemde verwys na die aktiewe ontplooiing van denke, oordeel en kreatiwiteit as instrumente vir verandering. Hierdie perspektief beklemtoon dat wetenskaplike kennis nie in isolasie ontstaan nie, maar altyd geïntegreer is in opvoedkundige en kulturele kontekste, en dat die vermoë om nuwe oplossings te ontsluit afhanklik is van die gehalte van die vormingsprosesse waardeur wetenskaplike denke aangeleer, geleef en geïnternaliseer word.
Die rol van onderwys binne die volhoubare ontwikkelingsmilieu
Met bogenoemde in gedagte tree onderwys na vore as die grondslag waarop volhoubare ontwikkeling berus. Binne die raamwerk van die 2030-agenda en veral die vierde VOD (gehalte-onderrig) asook die negende VOD (vlyt, vernuwing en infrastruktuur) tree ʼn wedersydse versterkende geheel na vore: Gehalte-onderwys lê die intellektuele en morele grondslag vir vernuwing, terwyl vernuwing aan onderwys praktiese en sosiale betekenis verleen deur kennis in oplossings te omskep.
Tog strek die waarde van onderwys verder as tegniese bevoegdheid. Dit sluit die vorming van kritiese denke, etiese oordeel en sosiale verantwoordelikhede in – vaardighede wat slegs deur doelgerigte onderrig ontwikkel kan word. Onderwysers dra dus nie net kennis en inligting oor nie; hulle fasiliteer die kweek van insig, oordeel en verantwoordelikheid. Wanneer onderrig op besinning en ondersoek berus, word dit die pedagogiese instrument waardeur die oplossings van môre reeds vandag gestalte verkry.
Hierdie begrip van onderwys as katalisator sluit direk aan by die geïntegreerde aard van die VOD’s. Vordering in enige van die ander doelwitte – soos gesondheid, gelykheid of klimaatsaksie – word uiteindelik bepaal deur die gehalte van die onderwys wat mense ontvang. Die definisie van VOD-vier verwys na inklusiwiteit, regverdige deelname en lewenslange leergeleenthede as kernkenmerke van gehalte-onderwys, terwyl dit ook die waarde van kulturele veelheid en linguistiese toeganklikheid beklemtoon. Só word onderrig nie slegs ʼn meganisme vir ekonomiese mobiliteit nie, maar ʼn ruimte vir kulturele sensitiwiteit en epistemiese geregtigheid – beide voorwaardes vir volhoubare wetenskapsbeoefening.
Die multidimensionele aard van volhoubare ontwikkeling
Binne hierdie milieu word dit duidelik dat volhoubare ontwikkeling nie nét tegnologiese kapasiteit vereis nie, maar óók kognitiewe, kulturele en linguistiese volhoubaarheid (met ander woorde die vermoë om te leer en innoverend op te tree binne eie taal- en waarderaamwerke). Taal is ʼn draer van identiteit, waardes en selfvertroue. Wanneer leerders wetenskap in hul taal van begrip of keuse beoefen, skep dit groter toeganklikheid en kognitiewe diepte. Taalbewuste onderrig verbind nuwe kennis met bestaande denkraamwerke en verander leer na ʼn daad van kulturele bevestiging.
Die Stand van Afrikaanse onderwys-verslag (AON-2025) beklemtoon spesifiek dat die sukses van Afrikaanse skole voortspruit uit ʼn roeping en uitlewing van ʼn kultuur van uitnemendheid – ʼn etos wat onderwys as gemeenskapsverantwoordelikheid voorstaan. Onderwys verteenwoordig in hierdie konteks nie net vaardigheidsoordrag nie, maar vorming van oordeel en waardegerigte denke. Wanneer leerders met wetenskaplike konsepte werk, ontwikkel hulle ʼn kritiese ingesteldheid soos uiteengesit deur die skrywer Peter E Facione, wat sistematiese evaluering van bewyse, oorweging van alternatiewe verklarings en etiese besinning in besluitneming insluit. Só word wetenskap nie slegs ʼn versameling van geïsoleerde feite nie, maar ʼn metodologie vir denke en verantwoordelike handeling wat kennis, toepassing en morele oordeel integreer.
Terselfdertyd herinner die Franse historikus, Michel Foucault, ons daaraan dat kennis nie in isolasie ontstaan nie, maar binne sosiale en magstrukture funksioneer. In ʼn era waarin kunsmatige intelligensie (KI) en algoritmiese besluitneming die wetenskapspraktyk herdefinieer, moet onderwys leerders toerus om hierdie epistemiese magte krities te ontleed. Só ʼn benadering stel ons in staat om te vra: Wie produseer kennis? Watter aannames lê die grondslag vir die gebruik van tegnologieë? Hoe word ons begrip van wat as die waarheid beskou word gestruktureer? Deur hierdie vrae krities te oorweeg, word leerders nie net kognitief toegerus nie, maar ook eties en sosiaal bewus. Laasgenoemde is ʼn noodsaaklike voorwaarde vir volhoubare kennispraktyke in ʼn tegnologiesgedrewe wêreld.
Die waarde van wetenskapekspo’s as onderwysinisiatief
Die praktiese gewaarwording van hierdie beginsels word sigbaar in informele onderwysinisiatiewe soos wetenskapekspo’s. In Suid Afrika het wetenskapekspo’s in 1980 uit dr. Derek Gray se visie ontstaan om vir skoliere die ruimte te bied om buite die formele kurrikulum selfstandig aan wetenskaplike navorsing te werk. Met die verloop van tyd het dit ontwikkel tot ʼn dinamiese leerekologie waar jong mense wetenskap kan leer, leef en internaliseer. Deur projekte in hul eie taal aan te pak, ervaar leerders tegelykertyd epistemiese toegang en kulturele bevestiging. Dit is ʼn praktyk van informele leer wat nie net kennis verdiep nie, maar ook ʼn liefde vir wetenskap kweek.
Wanneer leerders selfontwerpte projekte onderneem, beweeg hulle weg van memorisering na ondersoek, ontdekking en toepassing. Hierdie ervarings ontwikkel vakkennis, lewensvaardighede soos beplanning, selfstandigheid en kommunikasie, sowel as kritiese ingesteldhede en reflektiewe bewussyn. Wetenskapekspo’s verbind voorts formele en informele leer, teorie en praktyk, en kennis as domein met vaardigheid as handeling. Hulle versterk gemeenskapsvorming binne ʼn wetenskaplike kultuur wat nuuskierigheid, verantwoordelikheid en menswaardigheid koester.
In hierdie sin beliggaam wetenskapekspo’s die kern van Internasionale Wetenskapsdag en meer nog vanjaar se tema: Om môre se oplossings vandag reeds te ontsluit deur geleenthede te skep waar jong mense in hul eie taal kan dink, redeneer en ontdek. Hierdie ervarings maak kennis nie net verstaanbaar nie, maar ook betekenisvol en menslik – ʼn daad van opvoeding wat kennis, liefde vir wetenskap en volhoubare ontwikkeling gelyktydig bevorder.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.