Internasionale Projekbestuurdag 2020: Aanpasbare teenoor pasgemaakte projekte tydens ʼn pandemie
Gepubliseer op: 4 November 2020
Geskryf deur Jaun Kriel, programkoördineerder van die Gevorderde Diploma in Projekbestuur by Akademia
Binne die snikke, hetsy dood of herlewing, van ʼn globale pandemie staan projekbestuur ferm in die middel van beplanning. Daar is niks soos ʼn krisis om innoverende denke te laat seëvier nie – ongeag of dit nou ʼn tuisgemaakte masker of voetpompe vir ontsmetting is. Groot dele van die wêreld het beslis die geleentheid aangegryp om entrepreneuries te dink. Ter viering van Internasionale Projekbestuurdag kan 2020 as die keerpunt gesien word waar projekbestuur verweef is met innovasie en aanpasbaarheid.
Die tradisionele ysterdriehoek van projekbestuur, waar die omvang van ʼn projek die hoofdoel is en koste en tyd ruimte vir verandering laat, word nie binne hierdie pandemie op sy kop gedraai nie, maar heeltemal buite die verwysingsraamwerk geblaas. Aanpasbare projekte bied die geleentheid om die omvang aan te pas tot dit voldoen aan vereistes soos dit opduik. Binne hierdie pandemie was daar ʼn baie duidelike omvang en tydsraamwerk met kostes as die enigste veranderlike.
Nog nooit van tevore in die moderne samelewing het die gesondheidsbedryf met so krisis gesit waar innovasie gegenereer moes word binne ʼn tydsraamwerk van “dit moes al gister klaargewees het” nie. Veldhospitale, ventilators, en vervoermiddels is net ʼn druppel in die emmer van Covid-19-verwante projekte wat gedryf moes word. Volgens die Mei-uitgawe van die Harvard Business Review het die innovasies wat in die mediese veld ontstaan het, nie deel van ʼn strategiese plan gevorm nie. Dit is nie in iemand se vergoedingstelsel ingebou nie. Dit is nie deur senior bestuurders of deur ʼn programkantoor gelei nie, en dit het nie die gewone hekproses deurgemaak nie. Gewoonlik het ʼn klein groepie mense ʼn dringende behoefte raakgesien, aktiwiteite met ʼn laer prioriteit laat vaar, tipiese burokratiese prosesse ter syde gestel en van alledaagse werkers na werklike korporatiewe MacGyvers getransformeer en hulself en die industrieleiers in die proses verras.
Die vraag bly staan of projekte binne ʼn krisistydperk ʼn bepaalde (tradisionele) templaat kan volg? Het ons nie meer projekbestuurders nodig wat nie net aanpasbaar is nie, maar innoverend kan dink en pasgemaakte planne beraam en bestuur? Dit, natuurlik, sonder om vas te klou aan die historiese bloudrukke van tradisionele projekbestuur.