Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia vier Internasionale Rekeningkundedag

Gepubliseer op: 10 November 2020

Geskryf deur Michelle Coetzee, dosent in Ouditkunde en Belasting by Akademia

Van die eerste rekeningkundige beginsels wat almal hoor is: debiete word links aangeteken, en krediete regs. Waar kom hierdie beginsel vandaan?

Akademia vier op 10 November Internasionale Rekeningkundedag saam met die res van die wêreld ter erkenning van persone in die rekeningkundige professie, en ter herdenking van die belangrike werk van die Italiaanse wiskundige Luca Pacioli. Pacioli staan bekend as die vader van rekeningkunde en boekhou, en het in 1494 die eerste werk oor die dubbel­inskrywingstelsel (debiete versus krediete) gepubliseer, wat vandag steeds uiters relevant is.

Sedert die publikasie van hierdie stelsel het daar verskeie loopbane uit hierdie dissipline ontwikkel, insluitende boekhouer, bestuursrekenmeester, asook geoktrooieerde en professionele rekenmeester. By Akademia kan voornemende studente ʼn Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde, of BCom-kwalifikasies in onderskeidelik Bestuursrekeningkunde en Finansiële Bestuursrekeningkunde voltooi, waarna aansluiting by professionele liggame moontlik is om gegradueerdes in die werksplek te onderskei.

Van die bekende professionele liggame in hierdie rigting is CIMA (Chartered Institute of Management Accountants), SAIGR (Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters), ORRO (Onafhanklike Regulatoriese Raad van Ouditeure) en SAIPA (Suid-Afrikaanse Instituut van Professionele Rekenmeesters).

Hier is wat jy behoort te weet van hierdie liggame.

  • CIMA is een van die grootste vooraanstaande professionele liggame vir bestuursrekenmeesters in die wêreld. Die liggaam bied ʼn gesogte professionele kwalifikasie wat internasionaal erken word vir diegene wat in bestuurs- en kosterekeningkunde wil spesialiseer. Akademia se BCom-kwalifikasies in Bestuursrekeningkunde en Finansiële en Bestuursrekeningkunde geniet tans die hoogste vrystelling (tien van sestien eksamens) in die Suid-Afrikaanse hoëronderwysveld.
  • SAIGR is die vooraanstaande rekenmeestersliggaam in Suid-Afrika. Kwalifiserende individue kan registreer as ʼn geoktrooieerde rekenmeester deur voorgeskrewe akademiese en praktiese opleiding te voltooi.
  • ORRO reguleer die Suid-Afrikaanse ouditprofessie. ʼn Geoktrooieerde rekenmeester kan kwalifiseer as ʼn geregistreerde ouditeur na afloop van die voltooiing van ORRO se ontwikkelingsprogram.
  • SAIPA bied verskillende kategorieë van lidmaatskap aan die professionele rekenmeester.

 

Vandag salueer ons persone in die rekeningkunde professie wat waardevolle bydraes lewer tot die sukses van ondernemings. As jy ook ʼn loopbaan in dié bedryf oorweeg, besoek www.akademia.ac.za vir meer inligting.

Michelle Coetzee is ʼn dosent in beide Ouditkunde en Belasting. Sy is ʼn geregistreerde geoktrooieerde rekenmeester en streeksondervoorsitter van die Suider-Afrikaanse Rekeningkundige Vereniging.