Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Internasionale Onderwysdag – samewerkende leer is ʼn vredesroeping

Gepubliseer op: 24 Januarie 2024

Geskryf deur dr. Maretha Steyn en Susan O’Reilly, beide verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.

Die hedendaagse samelewing word aan sy polêre aard geken. Aan die een kant word die enkeling en sy/haar behoeftes, voorkeure en belange benadruk, terwyl samehorigheid en die gemeenskapsgedagte terselfdertyd aktief beklemtoon word. Hierdie teenstrydige ideologieë laat tereg die vraag ontstaan of dit wel moontlik is om in ʼn uiteenlopende samelewing wêreldwye vrede na te jaag en te bewerkstellig. Die antwoord hierop is ʼn onomwonde ja, mits onderwys sy regmatige doel as vredesroeping nastreef en vervul.

Op Internasionale Onderwysdag, wat op 24 Januarie plaasvind, val die fokus opnuut op die belangrike rol wat onderwys speel in die ontwikkeling van vreedsame, regverdige en volhoubare gemeenskappe. Vanjaar se tema, soos deur die Verenigde Nasies voorgestel, is: “Leer vir blywende vrede”.

Onderwys rus mense toe met waardes, kennis, houdings, vaardighede en gedrag wat lewensveranderend van aard is. Laasgenoemde verwys na die vermoë om hindernisse proaktief te oorkom, begrip te bevorder en in vrede met hulself, met ander en met die omgewing te leef. As ʼn samewerkende leergemeenskap bied onderwys voorts ʼn platform vanwaar opvoeders asook leerders binne ʼn netwerk van ondersteuning kan gedy. Hierdie ondersteunende netwerk beklemtoon en bevorder gedeelde doelwitte en ʼn wedersydse verbintenis tussen verskillende individue.

Die waarde van diesulke leergemeenskappe ontsluit drie motiverende effekte, naamlik: (1) dit motiveer leerders om te leer, (2) dit motiveer leerders om mekaar wedersyds aan te moedig om te leer, en (3) dit motiveer leerders om mekaar by te staan in die leerproses.

Samewerkende leer is ʼn effektiewe onderrigstrategie wat gegrond is op die oortuiging dat leerders (van enige ouderdom of vermoë) méér kan bereik deur saam te werk as deur alleen te werk óf deur passief inligting van ʼn onderwyser te ontvang. Dié strategie het die volgende uitkomste tot gevolg: positiewe interafhanklikheid, direkte en deurlopende interaksie, die ontwikkeling van interpersoonlike vaardighede, die aanvaarding van aanspreeklikheid en ʼn waardering vir refleksie (terugskouing). Nóg ʼn belangrike eienskap is dat dit die leerders in die middelpunt van die leerervaring plaas en hulle sodoende aanmoedig om aktief oor hul eie leerproses, idees en kennis na te dink. Hierdeur word ʼn onvervangbare geleentheid geskep waardeur leerders met ander se perspektiewe, idees, voorkeure, kultuur en standpunte gekonfronteer word ten einde begrip en konsensus te ontwikkel.

Op eie bodem vorm die Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) vir graad R- tot 12-leerders die grondslag van wat beskou kan word as die kennis, vaardighede en waardes wat noodsaaklik geag word om te leer. Die algemene doelwitte van dié kurrikulum het dit ten doel om leerders, ongeag hul sosio-ekonomiese agtergrond, ras, geslag, fisiese of intellektuele vermoë, toe te rus met die kennis, vaardighede, en waardes wat nodig is vir selfvervulling en betekenisvolle deelname in die samelewing. Hierdie doelwitte kan bereik word indien leerders probleme kan identifiseer en oplos deur kritiese en kreatiewe denke, effektief in ʼn spanverband (groep, organisasie of gemeenskap) kan werk en hulself en hul aktiwiteite verantwoordelik en effektief kan organiseer en bestuur. Samewerkende leerervarings bied gevolglik aan leerders die geleentheid om saam te werk tot die bereiking van gemeenskaplike doelwitte.

Onderwysers in die Suid-Afrikaanse konteks word daarom aangemoedig om deurgaans samewerkende leergeleenthede aan leerders te bied. Hierdeur kan hul ʼn daadwerklike rol speel in die afbreek van stereotipes. Die grondslag wat begrip en aanvaarding op sy beurt tot gevolg het, kan ʼn afname in negatiewe gevoelens en frustrasie tussen mense van uiteenlopende agtergronde beteken.

Ons leef in ʼn snelveranderende wêreld. Hierdie veranderings gaan gepaard met onsekerheid, mededinging en dikwels ook konflik. Samewerkende leer kan daartoe bydra dat leerders besef dat almal van mekaar afhanklik is en dat elkeen se bydra, hoewel anders, waardevol is. Elke individu kan op sy of haar unieke wyse tot die uiteenlopende gemeenskap bydra en só die bewakers en kampioene van vrede word.

Dr. Maretha Steyn en Susan O’Reilly, beide verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen onderwys vervul ʼn belangrike vredesroeping.