*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 21 Februarie 2026
Geskryf deur prof. Danie du Plessis, dekaan: Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia
In een van die eerste gedigte wat in Afrikaans neergepen is, skryf Jan Lion Cachet in 1896 onder meer die volgende: “… ek het onder in myn kis ʼn ware towerstaf … Moedertaal”.
Op Internasionale Moedertaaldag, 21 Februarie, vier Akademia as ʼn trots Afrikaanse hoëronderwysinstelling nie nét sy geliefde moedertaal nie, maar ook die stewige grondslag wat sy bied en waarop groot drome en uitsonderlike prestasies voortgebou word.
Moedertaalonderrig as ʼn bousteen vir prestasie en sukses
Wanneer ʼn gebou opgerig word, word dit gebou met die hoop dat dit oor generasies heen ʼn lang strukturele leeftyd sal hê. Om hierdie lewenskragtigheid te verseker is die neerlegging van ʼn behoorlike fondasie baie belangrik. Dieselfde kan gesê word van moedertaalonderrig, en die waarde wat dit vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe ontsluit.
Navorsing toon konsekwent dat leerders wat in hul moedertaal onderrig word beter presteer wat leesbegrip en die aanleer van bykomende tale betref. Hulle vaar ook beter in Wiskunde en Wetenskap. Laasgenoemde word gestaaf deur die bevinding dat graadvyfleerders in Afrikaanse skole byvoorbeeld beduidend beter presteer as die nasionale gemiddeld. Die rede? Moedertaalonderrig, as ʼn onderrigsboublok, dra by tot die ontwikkeling van abstrakte denke en probleemoplossing.
Net só is dit bevind dat leerders wat in die grondslagfase in hul moedertaal onderrig word, hulself later in hoër grade akademies onderskei wat hul prestasie in Engelsmediumtoetse betref (selfs wanneer onderriggehalte en agtergrondfaktore in ag geneem word). Om hierdie rede dien moedertaalonderrig as ʼn boublok vir meertaligheid, want dit maak nie bykomende tale oorbodig nie, dit maak hulle moontlik.
Hierdie beginsel word wêreldwyd bevestig deur talle suksesverhale. In lande soos Duitsland, Finland, Suid-Korea en Japan dien moedertaalonderrig as die ruggraat van akademiese uitnemendheid en innovering, veral wat tegnologie betref. Danksy moedertaalgebaseerde onderrig en opleiding baat die ganse mensdom vandag byvoorbeeld by Samsung se halfgeleiers en Toyota se gevorderde robotika.
ʼn Treffende voorbeeld is dié van dr. Jakob (Japie) van Zyl, ʼn boorling van Outjo in Namibië. Hy het sy skool- en universiteitsloopbaan in Afrikaans voltooi waarna hy sy nagraadse kwalifikasies aan die gerekende California Institute of Technology (Caltech) in Amerika voltooi het. As ʼn lid van NASA se Jet Propulsion Laboratory (JPL) het hy radarstelsels ontwerp wat die Curiosity Rover-ontdekkingstuig in 2021 veilig op Mars laat land het. Ander ruimtemissies, insluitend Juno, Cassini en die Mars-helikopter, tel ook onder die vele prestasies op sy kerfstok.
Van Zyl se sukses toon hoe ʼn sterk moedertaalbasis (veral in die vroeë vormingsjare) intellektuele bemeestering en globale impak moontlik maak, selfs in die mees gevorderde en meertalige tegnologiese omgewings.
Moedertaalonderrig as ʼn hoeksteen van Akademia se roepingstaak
Akademia bou daagliks passievol en toegewyd voort aan die Afrikaanse universiteitswese en koester moedertaalonderrig as een van die fundamentele boustene vir ʼn hoopvolle toekoms.
Studente word, in hul hartstaal, nie net toegerus om kennis te absorbeer nie, maar ook om dit krities en kreatief toe te pas. Op hierdie manier word hulle voorberei vir loopbane waar hoëvlakdenkwaardighede, vindingrykheid en veerkragtigheid nodig is.
Moedertaalonderrig is nie ʼn nostalgiese keuse nie, maar ʼn strategiese belegging in die toekoms. Dit verteenwoordig boustene wat nie net standhou nie, maar toelaat dat drome en dade ewigheidspotensiaal ontsluit.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.