Gepubliseer op: 6 Maart 2025
Geskryf deur dr. Chris-Mari Le Hanie en Daleen Botha, beide dosente in Opvoedkundestudies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.
Kern tot die Suid-Afrikaanse onderwyskonteks is die skep van leeromgewings waarbinne elke leerder, ongeag sy of haar vermoë, effektief kan leer aan die hand van gehalte onderwyspraktyke. Hierdie strewe is egter soveel méér as net ʼn idealistiese en hoopvolle wens vir die toekoms, en word deur formele beleid, wetgewing en riglyne gefasiliteer en bestuur.
Ten spyte van dié voorgenome onderneming is die voorkoms van oorvol klaskamers ʼn realiteit wat al hoe meer op die voorgrond tree. Om die waarheid te sê, hierdie kwessie neem krisisafmetings aan. ʼn Onlangse verslag deur die Gautengse onderwysdepartement het vir gróót opslae gesorg toe dit aan die lig gekom het dat daar by ʼn skool soveel as 92 graad 1-leerders in ʼn enkele klas – met ʼn enkele onderwyser, geplaas was. In ʼn soortgelyke geval het ʼn ander Gautengse onderwyser dit op sosiale media te kenne gegee dat sy 53 leerlinge in haar graad 1-klas het. Die realiteit van die saak is dat hierdie voorvalle nie die uitsondering op die reël blyk te wees nie.
Plaaslike navorsing beklemtoon oorvol klaskamers as een van die groot struikelblokke vir die effektiewe implementering van gehalte en inklusiewe onderwys. Nie net het dit ʼn beduidende impak op die standaard van onderrig en leer nie, maar dit bemoeilik ook voorts betroubare assesseringspraktyke. In die lig hiervan bepleit onderwysers van oraloor dringende ingryping ten einde die leerontwikkelingsproses van ʼn gewisse verdere agteruitgang te red.
Maar hoe kan aanpasbare en inklusiewe strategieë onderwysers toerus om hierdie dilemma op te los? Die eerste stap is om hulself deeglik te vergewis van die kriteria wat gestel word vir gehalte onderrig en effektiewe leer. Gehalte onderrig verwys na dié intervensies wat ʼn onderwyser kan toepas om effektiewe leer aan te moedig en selfs te bevorder. In hierdie opsig kan onderwysers die volgende stappe oorweeg:
Die stimulasie van metakognitiewe denke deur geleenthede te skep vir self- en/of eweknieassessering.
Wat effektiewe leer betref, kan die volgende kriteria as suksesfaktore beskou word:
Leerders wat toenemend hul eie leer monitor en oor hul denke besin.
Bovermelde kriteria vir gehalte onderrig en effektiewe leer moet as ʼn geïntegreerde eenheid gesien word en staan nie los van die klaskamerkonteks nie. Maar hoe lyk ʼn gunstige en bevorderlike klaskamerkonteks? Dit sluit die volgende kenmerke in:
Aktiewe betrokkenheid van alle opvoedkundige rolspelers om metakognitiewe gedagtes te fasiliteer.
Só kan onderwysers oorvol klaskamers fasiliteer
Die fasilitering van oorvolklaskamers verg gestruktureerde en doelgerigte strategieë om gehalte onderrig en effektiewe leer te verseker. Een van die mees doeltreffende benaderings is die implementering van gedifferensieerde onderrigmetodes en -strategieë waar lesse aangepas word om aan die uiteenlopende leerbehoeftes van leerders te voldoen sonder om standaard of gehalte in te boet. Dit sluit die gebruik van buigsame groepering in waar ʼn kleiner groep leerders doelgerigte ondersteuning ontvang. Verder moet leermateriaal aangepas word om verskillende vlakke van kennis, vaardighede en uitdagings van onderskeie leerders aan te spreek.
ʼn Verdere effektiewe strategie is die aanmoediging van samewerkende en eweknie- ondersteunde leer, wat leerders in heterogene groepe plaas sodat akademies sterker leerders hul klasmaats kan bystaan. Portuuronderrigstrategieë waar leerders konsepte aan mekaar verduidelik dra nie net by tot die versterking van hul eie begrip nie, maar verbeter ook die leerproses van hul klasmaats. Dit bevorder ʼn inklusiewe leeromgewing waarin alle leerders welkom, gewaardeer en ondersteun voel.
Die effektiewe en etiese gebruik van tegnologie bied ook waardevolle moontlikhede in oorvol klaskamers. Tablette, interaktiewe witborde en opvoedkundige toepassings kan ingespan word om selfgerigte leer moontlik te maak en leerders se betrokkenheid te verhoog. Die beskikbaarstelling van klankopnames van lesse kan addisionele ondersteuning bied aan leerders wat hindernisse tot leer ervaar, terwyl visuele en ouditiewe hulpmiddels geïntegreer kan word om toeganklikheid te verseker vir leerders met verskillende leerbehoeftes.
Aktiewe leertegnieke en -metodes is noodsaaklik om leerderbetrokkenheid te handhaaf in die oorvol klaskamer. Praktiese aktiwiteite, speletjies en storievertelling help om abstrakte konsepte meer konkreet en toeganklik te maak. Bewegingsgebaseerde leerstrategieë voorkom moegheid en bevorder konsentrasie, terwyl die gebruik van lewenswerklike voorbeelde en praktiese oefeninge leerders help om nuwe kennis meer doeltreffend te verstaan en toe te pas.
Om ʼn gunstige leeromgewing te kweek is dit belangrik om duidelike roetines en effektiewe klaskamerbestuur te vestig. ʼn Gestruktureerde daaglikse roetine dra by tot voorspelbaarheid en stabiliteit wat ʼn positiewe leerklimaat bevorder. Visuele leidrade soos prente, kleurkodes, en diagramme kan gebruik word om leerinhoude op ʼn duidelike en gestruktureerde manier aan te bied. Nieverbale seine soos gebare, oogkontak, en liggaamshouding kan ondersteunend wees vir leerders met ʼn verskeidenheid behoeftes deur hul te help fokus en instruksies beter te verstaan. Verder kan positiewe versterkingstegnieke, soos lof, belonings en erkenning van vordering, gebruik word om leerders te motiveer en toepaslike gedrag aan te moedig. Hierdie benaderings bevorder nie net leerderbetrokkenheid nie, maar skep ook ʼn ondersteunende en inklusiewe leeromgewing waarin elke leerder se unieke vermoëns en bydraes erken en waardeer word.
ʼn Inklusiewe onderwysbenadering is verder noodsaaklik om leerders met leerhindernisse te ondersteun. ʼn Verskeidenheid onderrigstrategieë moet beplan en implementeer word sodat aktiwiteite aangepas en gedifferensieer kan word vir individuele leerders se spesifieke behoeftes. Multisensoriese onderrigmetodes – waar visuele, ouditiewe en kinestetiese tegnieke gekombineer word – kan alle leerders baat om inhoud beter te prosesseer, verstaan en onthou. Duidelike instruksies en steierleeraktiwiteite behoort toegepas te word om leerders wat hindernisse tot leer ervaar by te staan sonder om hulle uit te sonder.
Assessering in klaskamers met ʼn groot aantal leerders behoort deurlopend, buigsaam en insluitend te wees. Formatiewe assesserings kan vinnige inskrywings insluit, soos duime op of af, die gebruik van mini-witborde en verbale antwoorde om leerderbegrip te monitor. Observasie notas en intervensie strategieë behoort volgens ʼn insluitende onderwysbeleid aangewend te word om leerdervordering sistematies en deurlopend te monitor, dokumenteer en te rapporteer.
Portuur- en selfassessering is waardevolle metodes om leerders se metakognisie te ontwikkel. Wanneer leerders hul eie en mekaar se werk assesseer aan die hand van duidelik omskrewe rubrieke, bevorder dit reflektiewe denke en selfgerigte leer. Kleingroepwerkassessering maak dit moontlik vir onderwysers om spesifieke groepe op ʼn roterende en deurlopende basis te assesseer terwyl ander leerders aan onafhanklike of groepaktiwiteite deelneem.
Laastens kan tegnologie-ondersteunde vasvrae gebruik word om vinnige, interaktiewe assesserings uit te voer en onmiddellike terugvoer aan leerders te gee. Hierdie strategieë dra by tot ʼn meer dinamiese en responsiewe assesseringsbenadering wat in oorvol klaskamers toegepas kan word om leerdeelname en -uitkomste te optimaliseer.
Oorvol klaskamers is ʼn sistemiese kwessie wat dringende ingryping van onderwysowerhede vereis. Deur die voorgestelde inklusiewe en praktiese strategieë te implementeer kan onderwysers steeds betekenisvolle leerervarings skep en bevorder om te verseker dat alle leerders, ten spyte van die uitdagings, gehalte onderrig ontvang en effektiewe leer bemeester.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.