Liewe Suid-Afrikaanse onderwyser: Daar is inderdaad hoop!

Gepubliseer op: 4 Junie 2025

Geskryf deur Monique Alberts (dosent: Professionele Studies), Jhani Pottas (dosent: Opvoedkundestudies) en Sean Botha (dosent: Opvoedkundestudies) verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

Daar is die afgelope tyd baie in die media geskryf oor die uittog van gekwalifiseerde onderwysers uit die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. ʼn Onlangse studie* oor voorkeure en werksbevrediging van plaaslike onderwysers het onthul dat baie onderwyslui oorwerk voel, oorweldig word deur administratiewe take en groter geestesgesondheidsondersteuning benodig. Dit is gevolglik bevind dat byna 50% van Suid-Afrikaanse onderwysers dit ernstig oorweeg om dié beroep te verlaat.

Maar hoe dan anders? Die hartseer realiteit is dat onderwys vir baie opvoeders ʼn onvolhoubare taak geword het, wat hulle emosioneel uitput, nie finansieel lonend is nie, én waar ondersteuning dikwels onvoldoende en ontoereikend is.

Hoë en voortdurende daaglikse uitdagings

Die Personeel- administratiewe maatreëldokument (PAM) stel dit dat onderwysers daagliks tussen sewe en nege ure aan diens is – iets wat in praktyk ver verwyderd is van die werklikheid. ʼn Tipiese werksdag strek lank ná die laaste skoolklok gelui het en is gevul met administrasie, lesvoorbereiding, assessering, ouervergaderings én buitemuurse aktiwiteite. Hierbenewens word daar van onderwysers verwag om daagliks goed voorbereid te wees, emosioneel beskikbaar te wees én die onbesproke rolle van pastorale mentor en raadgewer in te neem.

Ondanks hierdie eise en addisionele verpligtinge bly vergoeding, in terme van salarispakkette, onveranderd laag ten spyte van inflasieverhogings. Ander hulpbronne, ingesluit emosionele ankers soos respek en aansien, is ook onvoldoende en selfs afwesig. Die gevolg hiervan is dat onderwysers uit desperaatheid bykomende werk aanneem vir blote oorlewing. Laasgenoemde het ʼn ongewenste impak op hul veerkragtigheid en uithouvermoë. In kort: ʼn Negatiewe kringloop wat nie maklik verbreek kan word nie. Hierdie realiteit spreek nie tot persoonlike swakheid nie, maar is eerder ʼn duidelike aanduiding dat die sisteem nie in sy huidige stand na wese funksioneer nie.

Nóg ʼn uitdaging wat aandag benodig is die interne skoolkultuur wat in baie gevalle nie gunstig is nie. Personeelkamers is in hierdie gevalle lank nie meer ʼn veilige ruimte vir samewerking nie, maar eerder een van mededinging en wantroue. Dit is binne hierdie milieu dat onderwysers hulself as uiters vervangbaar beskou omdat daar altyd iemand anders gereed is om bloot die dag van more se rooster te volg. ʼn Verdere uitdaging wat nou hiermee verband hou, is die prioritisering van buitemuurse aktiwiteite bó akademiese onderrig.

Met bogenoemde in gedagte, is dit duidelik waarom die vlam van passie vir baie onderwysers geblus word. Hierdie uitdagings noop ook ʼn daadwerklike sistematiese verandering ten einde bekwame onderwysers toe te rus en hul toegewydheid tot die plaaslike onderwysomgewing te help verseker.

Praktiese strategieë om volhoubaarheid te bevorder

Daar is veral drie fokusareas waarbinne elke onderwyser sy/haar status as pionier kan gestand doen aan die hand van strategiese en volhoubare gewoontes. Hierdie areas sluit in:

  • Strategieë vir die individu om hom/haar in staat te stel om binne ʼn gebroke stelsel nie net te oorleef nie, maar te floreer.
  • Mentorskap as die onsigbare ruggraat van volhoubare onderrig.
  • Waardegedrewe onderrig as ʼn baken van volhoubare verandering.

Oorleef én floreer só binne ʼn gebroke stelsel

  • Prioritiseer jou eie welstand.
  • Stel professionele grense wat getuig van ʼn bewustheid van dié aspekte wat binne jou beheer is, naamlik jou tyd, energie en optrede.
  • Bepaal jou verantwoordelikhede en die tyd wat jy realisties daaraan kan bestee.
  • Herken wanneer verwagtinge onredelik is en wees bereid (en dapper) om daaroor te praat.
  • Staal jouself teen
  • Stel emosionele grense deur selfgeldend te kommunikeer en maak gebruik van professionele ondersteuning indien nodig.
  • Stel duidelike kommunikasiegrense deur onder meer WhatsApp-gebruik tot spesifieke tye te beperk, e-pos hoofsaaklik vir belangrike en formele kommunikasie te gebruik én jou persoonlike kontaknommer privaat te hou.
  • Hersien jou onderrigmetodes en erken dat kinders aktiewe, sosiale en nuuskierige wesens is wat deur betrokkenheid leer en nie deur passiwiteit nie. As opvoeder is dit jou taak om voort te bou op leerders se eie taal, kultuur, kennis en ervaring wat hulle na die klaskamersituasie bring. Dit is dalk sinvol om direkte onderrig te beperk tot hoogstens tien tot vyftien minute en die res van die tyd te gebruik vir aktiewe deelname. Strategieë soos dink-paar-deel, groepsbesprekings, portuuronderrig en projekgebaseerde leer kan handig te pas kom.
  • Wees self ʼn lewenslange leerder.

Mentorskap is belangrik

Die waarde van mentorskap binne die onderwysomgewing word duidelik geïllustreer deur die bekende woorde van Isaac Newton: “As ek verder as enige ander gesien het, is dit omdat ek op die skouers van reuse gestaan het.” Mentorskap is veral van waarde vir onervare onderwysers deur ʼn ruimte vir groei te skep waarbinne foute en refleksie kan plaasvind. Terselfdertyd bou mentorskap professionele identiteit.

Mentorskap behels méér as net administratiewe aanwysings of oppervlakkige hulp. Dit verteenwoordig ʼn emosionele en professionele verbintenis tussen ʼn mentor en byvoorbeeld ʼn onervare onderwyser. Beide deelnemers speel ʼn belangrike rol in die mentorskapsverhouding en daarom is dit belangrik om die volgende in gedagte te hou:

  • As onervare onderwyser moet jy erken en verstaan dat jy óók ʼn aktiewe rol in die verhouding moet speel. Jy moet byvoorbeeld vooraf jou rol definieer, eerlik wees oor jou verwagtinge en bestekopname doen oor jou tekortkominge.
  • As mentor moet jy oop wees vir terugvoer en selfs kritiek. In dié lig is dit jou verantwoordelikheid om eienaarskap te neem oor hierdie verbondenheidsreis. Jy beklee die rol van vertroueling, ondersteuning en ook kritikus. Werk saam met die onervare onderwyser om die verhouding te definieer, doelwitte te stel en die reis te beplan. Wees ook eerlik oor die uitdagings wat deur die praktyk gestel word.
  • ʼn Effektiewe mentorskapsverhouding verg wedersydse vertroue, duidelike doelwitte, gereelde kontak én die inkoop van beide partye. Die onervare onderwyser moet eienaarskap neem van hul professionele reis, terwyl die mentor ʼn gids en reflektiewe vennoot is. Wanneer dié verhouding goed gefundeer is bou dit ʼn kultuur van ondersteuning – een waarin kennis en ervaring nie ingeperk en weerhou word nie, maar vrylik vloei.
  • Mentorskap is nie ʼn luuksheid nie. Dit is ʼn noodsaaklike teenmiddel teen uitbranding, isolasie en beroepsverlating. Soms is dit juis die teenwoordigheid van ʼn mentor wat die verskil maak tussen ʼn onervare onderwyser wat floreer en een wat onttrek en stilweg verdwyn.

Waardegedrewe onderrig as ʼn katalisator vir verandering

As die onderwysstelsel nie verander nie, moet verandering van binne af gedryf word. Onderwysers erken en besef dat die uitdagings sistemies van aard is. Waardegedrewe onderrig bied ’n oplossing in dié verband en moet as ʼn manier gesien word om klaskamers te omskep in ruimtes van hoop, waar beide leerders en onderwysers kan floreer.

Net soos negatiwiteit aansteeklik is, is positiwiteit óók. Wanneer jy ʼn waardegedrewe benadering in jou klaskamer toepas en dit werklik vrugte afwerp, word jou klas ʼn model vir ander. Verandering kan daarom in wese op enige vlak begin – die bal moet net aan die rol gesit word. Dit beteken dat klaskamers nie deur reëls bestuur moet word nie, maar eerder deur waardes in aksie.

Ja, jy het reg gelees. Leerders moet nie die regte ding doen uit vrees vir straf nie, maar omdat hulle glo dit is die beste keuse. Waardegedrewe onderrig berus op die idee dat as leerders blootgestel word aan ʼn stel kernwaardes én hulle daagliks aanmoedig word om daarvolgens op te tree, dissiplinêre probleme sal afneem terwyl ʼn positiewe klaskamerkultuur geskep sal word.

Verander só ʼn reëlgedrewe klaskamer in ʼn waardegedrewe leeromgewing:

  • Bou en vestig ʼn woordeskat van waardes soos onder meer respek, empatie, verantwoordelikheid en samewerking.
  • Kommunikeer en verduidelik waardes en skep só ʼn oop en deursigtige kommunikasiekultuur. Hierdie benadering sluit die leerders by die proses in en maak van hulle aktiewe deelnemers.
  • Beloon die uitleef van waardes in plaas daarvan om straf uit te deel vir die oortreding van reëls.

ʼn Waardegedrewe klaskamer is uitdagend om te skep, maar die resultate spreek vir hulself. Tydens hierdie proses word leerders nie net akademies opgelei nie, maar ondergaan hulle óók morele en sosiale vorming. Vir onderwysers kan hierdie benadering opnuut hul roepingsvlam aansteek en word die onderwysveld een klaskamer op ʼn slag vernuwe.

Onderwys is ʼn dappere deug

Om vandag in Suid-Afrika te onderrig vra dapperheid, geduld, en integriteit. Blatante eerlikheid is ook nodig om die uitdagings van die dag die hoof te bied. Dit moet egter nooit buite berekening gelaat word dat die onderwys ʼn kragtige en dinamiese beroepsveld is nie. Onderwysers het die geleentheid om generasies te motiveer en te inspireer. Ten einde dapper hierdie taak te vervul moet onderwysers se welstand en ondersteuning geprioritiseer word.

Akademia se Fakulteit Opvoedkunde is optimisties oor die toekoms en opgewonde oor die rol wat onderwysers het om te speel. Dankie aan elke onderwyser wat, onder uitdagende omstandighede, steeds die draers van hoop is. Julle harde werk en deursettingsvermoë word raakgesien en word waardeer.

*Navorsing oor Sosio-Ekonomiese Beleid (Resep) aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Monique Alberts, Jhani Pottas en Sean Botha, dosente verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen die sistemiese uitdagings wat tans in die onderwysomgewing ervaar word, kan met ʼn waardebenadering omgeswaai word. Hulle meen voorts dat onderwysers die draers van ʼn diepgewortelde hoop vir die toekoms is.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.