Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Gesoute akademikus in strategiese bestuur neem leisels as Akademia-dekaan

Gepubliseer op: 25 Februarie 2021

Akademia kondig met trots aan dat die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe versterk het met die aanstelling van dr. Rachel Maritz. Maritz – met ʼn besondere passie vir strategiese bestuur, sowel as onderrig en leer – word getaak om in die hoedanigheid van dekaan hierdie fakulteit verder uit te bou en te verfyn, veral gegewe die merkwaardige groei in studente en programme wat by Akademia ervaar word.

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is tans die grootste en oudste by Akademia, met tien kwalifikasies wat strek oor beide die voltydse en nauurse onderrigleermodelle. Drie van hierdie kwalifikasies word vanjaar vir die eerste keer aangebied, naamlik nagraadse diplomas in Belasting en Bestuursrekeningkunde, sowel as BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde). Verdere kwalifikasies word ontwikkel om aan die toenemende behoefte van gehalte onderrig in Afrikaans te voldoen.

Maritz is reeds vuur en vlam om die hewige taak as Akademia-dekaan aan te pak. “Dit is ʼn groot voorreg, maar ook verantwoordelikheid, om voor te loop in die Fakulteit van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.” In haar hoedanigheid as dekaan wil sy graag bydra tot Akademia se visie – om ʼn akademiese tuiste te skep waar hart en denke gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle toekoms vir ons studente.

“Die werksplek van die toekoms vra nie net vir teoretiese kennis nie, maar werknemers moet in ʼn vinnig veranderende omgewing dieper kan dink en hoë-orde take kan verrig,” sê sy. “Ek sal graag wil voortbou op die strewe na uitnemendheid en bydra tot ʼn fakulteit waar dosente opgewonde is oor hulle vakgebied sodat kop- en boekkennis vir studente lewendig word.”

Maritz was vroeër vir sestien jaar voltyds verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Departement Ondernemingsbestuur in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Sy het ook gedien as Hoof: Onderrig en Leer in hierdie departement, en het haar skoene volgestaan op die Fakulteitskomitee vir Onderrig en Leer, asook as lid van die taakspan vir die fakulteit se internasionale akkreditasie.

Haar bewese ervaring in hoër onderwys bring ʼn ryk erfenis saam met haar. Deel hiervan is die besef dat die hoëronderwysbedryf in ʼn globale omgewing funksioneer, en deel vorm van ʼn veel groter sakewêreld. “ʼn Proses van internasionale akkreditasie waarvan ek voorheen deel was, het my oë oopgemaak vir die eise van die internasionale hoëronderwysarena,” meen sy. “Dit is belyn met Akademia se strewe na uitnemendheid en om te vergelyk met die beste in die wêreld.”

Maritz noem dat Akademia as Afrikaanse hoëronderwysinstelling beslis onderskei kan word van ander instellings. “Akademia het reeds bewys dat Afrikaans steeds ʼn sterk akademiese taal is – die suksesvolle getalle van afgestudeerdes getuig hiervan.” Sy deel ook dat dit opmerkbaar is dat Akademia-personeel oplossinggedrewe is, en dat daar nie aan groeipyne vasgestaar word nie. “Die personeel kom met kreatiewe en energieke oplossings vorendag en verskuif terselfdertyd grense.”

Boonop is dit vir haar ʼn groot bonus om deel van ʼn instelling te wees wat openlik Christelike waardes uitleef. “Die premie wat geplaas word op uitnemendheid en werksywer is sigbaar in elke aspek van die werksplek en uitsette. Vir my is die hoë gehalte van die afstandsonderrig en die netwerk van studentesentrums, asook gevorderde tegnologie, vergelykbaar met internasionale hoëronderwysinstellings”. Sy deel dat sy daarvan oortuig is dat Akademia se nuwe voltydse kontakmodel dieselfde stempel van gehalte sal dra.

Haar droom vir Akademia is om ʼn instelling te wees waar gehalte sal seëvier, met diepte en groei in voorgraadse en nagraadse programme wat studente voorberei om skeppend te kan wees in die werksplek en nie net in stand te hou en te oorleef nie.

Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling, meen dat Akademia werklik bevoorreg is om Maritz, met haar magdom van kennis en ervaring, as dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe te verwelkom. “Akademia bou aan ʼn wêreldklasuniversiteit, en haar aanstelling is ʼn belangrike stukkie in die legkaart om hierdie roeping te verwesenlik.”

Klik hier vir meer inligting oor Akademia se aanbod in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Voorgraadse aansoeke vir studies in 2021 sluit 2 Maart om 12:00. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

Meer oor dr. Rachel Maritz

Dr. Rachel Maritz het in 2008 haar doktorsgraad in Ondernemingsbestuur (met spesialisasie in Strategiese Bestuur) aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal. Sy behaal ʼn meestersgraad in bedryfsleiding (MBL) aan Unisa (2002) en ʼn meestersgraad in Afrikaans (Mediakommunikasie) (met lof) by UP, asook BA (Tale) en honneursgraad in Afrikaans (met lof) by dieselfde instansie. Sy ontvang toekennings vir die beste doktorale proefskrif, meestersverhandeling en beste honneursstudent.

Rachel was vroeër vir sestien jaar voltyds verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Departement Ondernemingsbestuur (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe). Sy dien as Hoof: Onderrig en Leer in hierdie departement, dien op die Fakulteitskomitee vir Onderrig en Leer, asook op die fakulteitstaakspan vir die fakulteit se internasionale akkreditasie. Tussen 1997 en 2001 was sy werksaam by Telkom as senior konsultant vir interne oudit en Bestuurder: Mededingende Intelligensie.

Rachel het wye ervaring as ʼn strategiekonsultant vir PWC, asook Enterprises UP, en was betrokke by strategieprojekte (onder andere die ontwikkeling, oudit en implementering van strategie) vir uiteenlopende maatskappye. Sy ontwikkel kursusse in strategie vir UP, die plaaslike bedryf, asook vir die internasionale MBA van die Guglielmo Marconi Universiteit in Rome. Sy tree op as studieleier vir meesters- en doktorale studies, asook as eksterne moderator en eksaminator vir programme, verhandelinge en proefskrifte aan ander universiteite. Sy is betrokke by die skryf van handboeke in strategiese bestuur en publiseer verskeie navorsingsartikels in internasionale vaktydskrifte. Haar navorsing fokus op ontplooiende en kreatiewe strategie, strategie in die praktyk, en korporatiewe bestuur.

Akademia se hande het onlangs versterk met die aanstelling van dr. Rachel Maritz, ʼn nuwe dekaan in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Sy is ʼn gesoute akademikus met ʼn liefde vir strategiese bestuur.