Geletterdheid en prestasie in Wiskunde en Wetenskap: ʼn Dinamiese wisselwerking

Gepubliseer op: 25 Februarie 2025

Geskryf deur Moreen Coetzee, dosent: Professionele Studies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

Die euforie van die bekendmaking van die 2024-matriekuitslae is lank reeds iets van die verlede, en volgens alle aanduidings het dié matriekgroep hulself baie goed van hul taak gekwyt. Hoewel die nasionale slaagsyfer tot 87,3% verhoog het, en die prestasies in onderskeidelik Wiskunde en Wetenskap positiewe groei toon, wek stelselmatige ongelykhede en die werklike gehalte van onderwys in dié kritiese vakke steeds kommer. Hierdie dinamiese wisselwerking tussen geletterdheid en prestasie kom duidelik na vore in die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se matriekverslag.

Rede vir feesvier én diepe kommer

Sukses in Wiskunde én Wetenskap loop in die meeste gevalle hand aan hand. Dit is daarom interessant om te sien dat die 2024-resultate ietwat van hierdie tendens afwyk: 69,1% het Wiskunde geslaag (ʼn styging van 63,5% in 2023) teenoor die 75,6% vat Wetenskap geslaag het. Laasgenoemde verteenwoordig ʼn daling vanaf 76,2% in 2023.

Alhoewel hierdie syfers goed vertoon en inderdaad gevier moet word, is dit tóg nodig om ook bestek daarvan te neem dat daar ʼn daling in deelname aan hierdie twee vakke was. Die inskrywingsgetal vir Wiskunde het met méér as 12 000 leerders afgeneem, terwyl ʼn daling van ongeveer 7 000 in Fisiese Wetenskappe te bespeur is. Om die waarheid te sê, Wetenskapskandidate verminder jaarliks met ongeveer 5 000.

Gegewe hierdie afname in getalle, beklemtoon die minister van onderwys die dringendheid daarvan om geletterdheid en numeriese vaardighede reeds vanaf die grondslagfase te verbeter. Laasgenoemde verteenwoordig die grondslag van latere sukses en om dié rede het vroeë tekortkominge met betrekking tot Wiskunde- en Wetenskap-onderwys ʼn daadwerklike en langdurige negatiewe impak op leerders se vermoë om gevorderde konsepte aan te leer.

Hierbenewens spieël Suid-Afrika se uiters swak prestasie in die 2023-TIMMS-gradering (Trends in International Mathematics and Science Study) ʼn kommerwekkende agterstand wat daar by plaaslike graadvier- tot graadagtleerders bestaan. Hierdie agterstand word selfs nóg méér beklemtoon deur die feit dat graadvyfleerders in die plek van graadvierleerders deelgeneem het, asook leerders in graad nege in die plek van graadagtleerders.

Beide hierdie voorbeelde dui daarop dat daar ʼn dringende behoefte bestaan om onderrigstrategieë reeds in die grondslagfase te versterk. Hierdie versterking moet plaasvind by wyse van gefokusde geletterdheid en numeriese vaardigheidsintervensies tot en met graad drie.

Dit is nou die tyd om ons moue op te rol

Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) stel spesifieke onderwysdoelwitte voor wat gerig is op die verbetering van wiskunde- en wetenskapprestasie teen 2030. Volgens dié doelwitte is daar ʼn direkte verbintenis tussen die uitsette wat spesifiek vir graad drie, ses en nege leerders asook vir matrikulante gestel word. Onderliggend tot hierdie verbintenis is die idee dat ʼn sterk grondslag in lees en numeriese vaardighede noodsaaklik is vir sukses in hoër grade, veral in vakke soos Wiskunde en Wetenskap.

Vir graad drie is die doel byvoorbeeld om leerders te help om basiese vaardighede in lees en Wiskunde te bemeester. Hierdie vaardighede is die boublokke vir akademiese sukses, aangesien:

  • Leesbegrip leerders help om vrae in Wiskunde en Wetenskap te verstaan. As leerders nie in staat is om probleme korrek te interpreteer nie, sal hulle nie effektiewe probleemoplossingsvaardighede kan ontwikkel nie.
  • Wiskundige vaardighede soos getalbegrip en eenvoudige bewerkings is belangrik vir begripsvorming veral in terme van meer gevorderde konsepte in Wiskunde en Wetenskap.

Wanneer hierdie vaardighede in die vroeë onderwysgrade gevestig word, ontwikkel leerders selfvertroue en word hulle in staat gestel om hoër vlakke van kompleksiteit aan te pak.

In graad ses en nege verskuif die fokus na die verbetering van gevorderde leesvaardighede en wiskundige probleemoplossing, insluitend algebra, meetkunde en datahantering. Die verband tussen prestasie in hierdie fases en toekomstige sukses in uitdagende vakke is duidelik:

  • Leerders wat sterk presteer in graad ses en nege is meer geneig om uitdagende vakke soos Wiskunde en Fisiese Wetenskappe in graad tien te kies en daarin te slaag.
  • Teen graad nege behoort leerders te kan bepaal of hulle op die wiskundige of tegniese rigting wil fokus. ʼn Goedgevestigde grondslag maak dit meer waarskynlik dat hulle vakke soos Wetenskap en Ingenieurswese as toekomstige loopbaanopsies sal oorweeg.

Die NOP beoog voorts om die aantal leerders wat in Wiskunde en Wetenskap in graad twaalf slaag, te verhoog. Dit is egter noodsaaklik dat sukses in die vroeë grade bereik word, aangesien faktore soos leesbegrip en wiskundige redenasie, wat reeds in graad drie begin ontwikkel, leerders se vermoë om komplekse konsepte in matriek te verstaan, beïnvloed.

Ander bykomende oorwegings

Internasionale toetsuitslae soos TIMSS en SACMEQ (The Southern and Eastern Africa Consortium for Monitoring Educational Quality) is vir lank reeds ʼn goeie aanduiding van lande wat sterk presteer vanaf vroeëre grade, en gevolglik goeie resultate in hoër grade geniet.

Hierbenewens word belangrike bykomende faktore geïdentifiseer wat Wiskunde en leesprestasies van veral graadsesleerders beïnvloed. Hierdie faktore sluit in:

  • Sosio-ekonomiese status,
  • Die frekwensie van huiswerk,
  • Voorskoolse onderrigblootstelling,
  • Toegang tot handboeke,
  • Beleidsintervensies, en
  • Die vakkennis van onderwysers.

Graad ses word alom beskou as ʼn kritieke fase om leerprobleme te diagnoseer en vas te stel waar doelgerigte intervensies nodig is om toekomstige akademiese prestasie te verbeter.

Teen die einde van die senior fase word leerders aangemoedig om vakkeuses te maak wat die hoeksteen sal vorm van verdere onderrig en opleiding, veral met die oog op toekomstige loopbaankeuses. Leerders wat nie reeds in graad nege ʼn goeie begrip van algebra of meetkunde het nie, sal waarskynlik sukkel met Fisiese Wetenskappe en gevorderde Wiskunde in graad tien tot elf. Hierdie realiteit het ʼn impak op hul vooruitsig van onder meer universiteitstoelating en loopbane in die velde van ingenieurswese, rekenaarwetenskappe en gesondheidswetenskappe.

Die verbetering van vaardighede in die vroeë grade is daarom nie net sentraal tot die realisering van die NOP se langtermynstrategieë nie, maar ook tot leerders se toekomsverwagtinge. Indien hierdie doelwitte nie in die laer grade bereik word nie, sal die gevolge waarskynlik insluit:

  • Minder leerders wat kognitief uitdagende vakke in graad twaalf neem en met sukses slaag.
  • ʼn Gebrek aan leerders wat universiteitsgereed is vir STEM-velde (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde).
  • ʼn Afname aan geskoolde werkers, wat ekonomiese groei en innovasie negatief sal beïnvloed.

ʼn Grootse poging deur die hele opvoedkundigegemeenskap

Verbeterde lees- en wiskundige vaardighede in die vroeë grade kan lei tot beter matriekresultate en groter deelname aan vakke soos Wiskunde en Wetenskap. Maar dit vereis samehangende strategieë wat oor alle grade heen geïmplementeer word, sowel as volgehoue ondersteuning vir leerders en onderwysers in die klaskamer, om die doelwitte teen 2030 te bereik.

Alhoewel die 2024-matriekresultate hoop bied, lê die ware uitdaging in die aanpak van stelselmatige tekortkominge. Suid-Afrika se onderwysstelsel moet nie net klem plaas op slaagsyfers nie, maar óók op die gehalte van leer, sowel as die bevordering van effektiewe onderwyspraktyk oor alle gemeenskappe heen. Dit is slegs deur samewerkende stappe en strategiese aksie dat ons ʼn goedgevestigde grondslag vir die sukses van toekomstige generasies kan vestig, wat in staat sal wees om te floreer in ʼn tegnologiese en wetenskapgedrewe wêreld.

Moreen Coetzee, dosent: Professionele Studies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen dat daar met die oog op die toekoms krities gekyk moet word na méér as net matriekprestasie in vakke soos Wiskunde en Wetenskap.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.