Search
Close this search box.

Prof. Danie Goosen vereer vir uitnemende taal- en kultuurpionierswerk

Gepubliseer op: 1 Oktober 2024

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jaarlikse prestige-aand vind vanjaar op Vrydag 1 November 2024 plaas. Tydens hierdie uitnemendheidsviering sal verskeie individue vir hul verbondenheid en pionierswerk in onder meer die plaaslike kunsbedryf, die media asook die Afrikaanse taal- en kultuurerfenisterrein erken word.

Sedert die kultuurorganisasie se ontstaan in 1929 is verskeie pioniers en baanbrekers reeds vir hul bydraes vereer. Die eerste toekenning wat ooit deur die FAK gemaak is, was aan die destydse eerste minister DF Malan in 1957. Die organisasie is opgewonde om vanjaar die volgende individue tot dié lys by te voeg:

  • Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia
  • Sonja Heroldt, Afrikaanse sangeres
  • Barnard Beukman, redakteur van Beeld
  • Tienie Theunissen, bekende filmvervaardiger

Prof. Danie Goosen

Goosen het in 2024 die tuig as die langsdienende voorsitter van die FAK neergelê nadat hy sedert 2004 op die direksie van dié federasie gedien het. Gedurende hierdie tyd het hy aan die stuur gestaan van verskeie uitsonderlike projekte en sal hy onthou word vir sy dinamiese denke en die enorme groei wat hy vir die federasie, die oudste Afrikaanse organisasie ter wêreld, bewerkstellig het. Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting en bekleër van die NP van Wyk Louw-ereleerstoel vir kultuurkritiek aan Akademia, volg Goosen as voorsitter op.

Ten tye van die aankondiging van Boshoff se aanstelling as nuwe direksievoorsitter het dr. Danie Langer, besturende direkteur van dié kultuurorganisasie, Goosen geprys vir sy leierskap en getroue diens in ʼn bloeitydperk waarin die organisasie na nuwe hoogtes geneem is. “Prof. Goosen het die leisels van die FAK-direksie in ʼn tydperk van groot veranderinge in Suid-Afrika, en in die Afrikaansegemeenskap spesifiek, opgeneem. Onder sy leiding het die FAK nie net in ʼn uitdagende omgewing oorleef nie, maar ook gegroei en ontwikkel op maniere wat ons nie kon voorsien het nie,” het Langer gesê.

Hy (Langer) het ook genoem dat Goosen se intellektuele diepte, gekombineer met sy praktiese wysheid, gehelp het om die organisasie as ʼn stabiele en gerespekteerde kultuurorganisasie te vestig wat sy relevansie in ʼn vinnig veranderende wêreld behou. “Een van Goosen se merkwaardigste bydraes was sy vermoë om die FAK se historiese rol in eietydse konteks voortdurend te herformuleer op maniere wat dit betekenisvol en toepaslik vir elke nuwe tydsgewrig gemaak het,” verduidelik Langer. Ter afsluiting het hy gesê dat Goosen die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe gelei het om hul kultuurerfenis met ʼn nuwe waardering te sien. Laasgenoemde verwys nie net na iets wat beskerm moet word nie, maar as iets om aktief te bevorder en uit te dra.

Ander vereerdes

Sonja Herholdt is een van Suid-Afrika se mees gevierde Afrikaanse kunstenaars, en tydens vanjaar se prestige-aand sal die Chris Blignaut-toekenning aan haar oorhandig word. Dié toekenning gee erkenning aan kunstenaars wie hulself beywer vir die bevordering van Afrikaanse-musiek.

Barnard Beukman, redakteur van Beeld, sal die CP Hoogenhout-toekenning ontvang vir die werk wat hy ter bevordering van die Afrikaanse media doen. Beukman se loopbaan het in 1989 as verslaggewer by die Oosterlig-middagkoerant in Gqeberha (eers Port Elizabeth) afgeskop.

Tienie Theunissen is ʼn ervare joernalis en jarelange vervaardiger van veral dokumentêre televisieprogramme. As een helfte van die bekende Theunissen en Van den Heever Filmmakers het hy grensverskuiwende werk gelewer onder meer in samewerking met die FAK. Hy ontvang die FAK se Van Wyk-Louw-toekenning.

Goosen is reeds sedert 2019 werksaam by Akademia en het in sy kleurryke loopbaan reeds meer as 200 akademiese artikels gepubliseer en is bekend as een van Suid-Afrika se voorste filosofiese en teologiese denkers. Vir meer oor Goosen, koop gerus die boek, Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen, hier op Die Winkel.

Prof. Danie Goosen, die uitvoerende hoof: Akademie by Akademia word eersdaags deur die FAK vereer vir sy bydrae tot die standvastigheid en groei van dié kultuurorganisasie.