*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Kennis sonder mure: lees, leer én navorsing nou net ʼn klik ver

Gepubliseer op:  10 Maart 2026

Geskryf deur Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia.

Lees bly een van die belangrikste vaardighede wat ʼn mens kan (en moet) ontwikkel. ʼn Gesonde leesvermoë is die sleutel tot soveel meer as net akademiese sukses. Dit vorm ons denke, verbreed en verdiep ons wêreldbeskouing én verteenwoordig die hoeksteen van leer in alle vakgebiede. Binne hierdie milieu speel skoolbiblioteke ʼn sleutelrol, en ter viering van Nasionale Biblioteekweek – 16 tot 22 Maart 2026 – word die soeklig opnuut op dié belangrike leer- en leesvestings geskyn.

Só word skoolbiblioteke herbedink

Skoolbiblioteke dien in die voorste ontwikkelingslinie, en dra nie net by tot leerders se algehele geletterdheid nie, maar ook tot die vorming van kritiese denke en navorsingsvaardighede. Hiermee saam verteenwoordig biblioteke ʼn veilige en stimulerende ruimte waarbinne hulle maklike toegang tot betroubare inligting geniet en só nie net hul leesvaardighede kan verbeter nie, maar ook hul liefde vir lees kan verdiep.

Oor die afgelope dekade het die skoolbiblioteeklandskap egter merkwaardig verander en danksy snel tegnologiese vooruitgang word tradisionele boekrakke nou aangevul – en soms ook gedeeltelik vervang – deur digitale platforms, e-boeke, aanlyn navorsingsdatabasisse en multimedialeermateriaal. Daar word na hierdie ruimtes verwys as e-biblioteke.

Hierdie verskuiwing na digitalisering hou verskeie voordele in, vir beide skole én leerders:

  • Toegang tot betroubare inligting word vergemaklik, veral in skole waar fisiese hulpbronne beperk is.
  • Digitale geletterdheid, wat as ʼn noodsaaklike vaardigheid vir die 21ste eeu beskou word, word verbeter.
  • Leesgewoontes word by wyse van digitale toestelle, wat deel uitmaak van leerders se alledaagse leefwêreld, gevestig en verdiep.
  • Leesontwikkeling word bevorder deur funksionaliteite soos teks-na-spraak, vertaalhulpmiddels, aanpasbare lettergroottes en verpersoonlikte leesvlakke. Op hierdie manier ervaar leerders inhoud as meer verstaanbaar, wat groter leesvertroue tot gevolg het.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat e-biblioteke nie nét nóg ʼn blote gevolg van tegnologiese vooruitgang is nie, maar eerder as dinamiese leer- en tegnologienodes na vore tree. Laasgenoemde vervleg die leer- en leesproses op so ʼn wyse dat die samehang tussen fisiese biblioteekruimtes en digitale platforms die gebruikerservaring verdiep en leerders sodanig toerus vir ʼn wêreld waarin inligting voortdurend verander en bygewerk word.

Die liefde vir lees bly die sentrale fokus

Die internasionale Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS)-verslag stel dit onomwonde dat die leesvaardigheidsvlakke van leerders in Suid-Afrika nie na wense is nie. In die lig hiervan bied skoolbiblioteke – tradisioneel óf digitaal – ʼn werkbare oplossing ten einde leerders se liefde vir lees aan te wakker. Dit word gedoen deur leerders bloot te stel aan verskeie genres, onderwerpe en outeurs, en só hul belangstelling, nuuskierigheid en verbeelding te prikkel. Digitale leesformate maak boonop interaktiewe leeservarings moontlik, wat veral vir opgewondenheid onder jonger lesers sorg.

Digitale lees kan prakties en maklik op verskeie manier aangewakker word, waaronder:

  • Luister en lees saam by wyse van klankboeke.
  • Gebruik toepassings soos Libby of Sora.
  • Skep self digitale boekresensies of boekvlogs (kort videoresensies).

E-biblioteke is nie, en sal nooit, slegs ʼn moderne alternatief vir die tradisionele leeservaring en -proses wees nie. Dit moet eerder gesien word as ʼn noodsaaklike hulpmiddel vir die bevordering van lees- en leervaardighede en die ontwikkeling van kritieke digitale geletterdheid. Deur e-biblioteke effektief te implementeer en toeganklik te maak, kan skole ʼn kultuur van lees aanwakker wat lank ná die skoolklok se lui sal voortleef.

Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia, is opgewonde oor die dinamiese wisselwerking tussen tradisionele lees- en leerpraktyke en die moontlikhede wat e-biblioteke ontsluit.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.