Gepubliseer op: 11 Augustus 2025
Geskryf deur Natasha Venter, dosent: Publiek- en Prosesreg aan Akademia en ervare debatsbeoordelaar.
Daar is ʼn Franse uitdrukking wat lui: “petit a petit l’oiseau fait son nid” wat vertaal kan word as “bietjie vir bietjie bou die voël sy nes”. Die vermoë om debat te voer, word op dieselfde konsep gegrond. Deur weer en weer hierdie merkwaardig menslike vermoë om rede te voer te verfyn bou debatvoerders as’t ware ook met elke deelname aan hul redeneringsnes. Verder, leer dié deelnemers ook om, soos met die bou van ʼn voëlnes, argumente stukkie vir stukkie saam te vleg om ʼn sterk vesting te vorm.
Die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede
Om argumente te formuleer vereis kritiese denkvermoë. In ʼn wêreld waar kunsmatige intelligensie (KI) toenemend ingespan word om namens mense te dink, is kritiese debatvoering een van die eienskappe wat uniek menslik bly.
Neem byvoorbeeld ʼn geleentheid soos AfriForum se Dink of Sink-debatskompetisie. Hierdie kompetisie bied aan beide skoliere én studente die kans om hul kritiese denke uit te brei en terselfdertyd hul redeneringsvaardighede te verbeter. Die debatte word onvoorbereid gevoer op skoolvlak terwyl universiteitstudente slegs enkele ure het om voor te berei alvorens hulle oor komplekse onderwerpe debatteer. Deur deel te neem aan diesulke kompetisies doen jongmense dus onontbeerlike vaardighede op.
Om krities te kan dink en te onderskei is juis belangrik omdat debatteerders geleer word dat ʼn onderwerp van alle kante af bejeën en verstaan moet word. Hierdie benadering is belangrik aangesien dit nie noodwendig jou eie mening is waarvoor of waarteen jy gedurende ʼn kompetisie moet argumenteer nie. Debatvoering behels daarom méér as die blote uitbasuin van jou eie opinie, maar eerder die samestelling van ʼn weldeurdagte argument.
In kort kan dit gesê word dat debatsvoering jongmense leer hoe om daadwerklik buite die spreekwoordelike (en voor die handliggende) gedagteraamwerk te dink. Laasgenoemde vaardigheid rus debatteerders toe om gevolglik alledaagse kwessies ook vanuit ander invalshoeke te beskou wanneer hulle met teenstrydige of alternatiewe opinies (óf dit nou dié van maats, ouers, onderwysers óf op sosiale media is) gekonfronteer word.
Die waarde van lees
Goeie lesers is gewoonlik óók goeie debatteerders (en natuurlik omgekeerd). Veral ten aansien van die onvoorbereide debatformaat, is ʼn goeie algemene kennis noodsaaklik. Jongmense wat wyd lees en op hoogte bly van aktuele kwessies het ʼn natuurlike voorsprong wanneer hulle aan ʼn debat deelneem.
Debatsonderwerpe is dikwels gebaseer op kwessies wat die nuusagenda oorheers. In die lig hiervan moet debatvoerders op hoogte bly van nuusgebeure om sodoende nie onnodige tyd te verspil om tydens voorbereiding eers die kruks van onderwerpe te probeer uitpluis nie. Ingeligtheid dra by tot goeie agtergrondkennis.
Nie nét leer die lees van fiksie ʼn mens om iets vanuit ʼn ander persoon (al is dit nou ʼn fiktiewe karakter) se oogpunt te beskou nie, dit brei ook woordeskat uit en lei tot die ontwikkeling van die leser se eie kreatiewe denke – en soms moet debatvoerders uiters kreatief dink!
Debatsvoering kweek selfvertroue
Debat sorg egter nie net vir ʼn welbelese jongmens nie, maar kweek ook vertroue in sy/haar eie vermoë en kwetterende stem.
Die internet (en veral sosiale media) is wonderlike uitvindsels wat verskeie voordele vir die mens inhou, maar dit gaan ongelukkig soms gepaard met die verspreiding van propaganda en ongegronde (en dikwels absurde) menings. Wanneer jongmense van kleins af leer dat hulle wel die vermoë het om krities vir hulself te dink, dat hulle eie stemme tel en dat hulle dit kan en mag laat hoor, vervaag die gevaar om alles vir soetkoek op te eet. Debatteerders weet dat ʼn mens nie noodwendig met alles hoef saam te stem wat daar vir jou vertel word nie en ook dat ons op ʼn taktvolle (dog onomwonde) wyse van mekaar kan en mag verskil.
Hierdie verskillende menings word natuurlik ook gebou op sorgvuldige navorsing en debatteerders leer van jongs af wat geakkrediteerde bronne is. Danksy hierdie ingesteldheid van ingeligtheid beskik debatteerders oor die vermoë om inligting te sif en die koring van die kaf te skei. Hulle weet dat feite saak maak en dat oningeligte menings nie veel gewig dra nie – al word dit hoe hard uitbasuin. Debatteerders leer ook hoe om dikwels komplekse beginsels te verstaan, interpreteer en weer te gee sodat hulle argument op ʼn verstaanbare en logiese wyse oorgedra word.
In ʼn neutedop
Uit bogenoemde is dit duidelik dat debatsvaardighede ʼn sleutelrol speel in die ontwikkeling van kreatiewe en kritiese denke. Gedagtig hieraan, sien ʼn goeie debatvoerder as volg daaruit:
Dink krities oor kwessies na vanuit alle moontlike kante ten einde ʼn standpunt te analiseer.
Talle loopbaanvooruitskouings beklemtoon die belangrikheid van sagte vaardighede. Alhoewel alle debatteerders met wie ek al te doen gehad het, rateltaai is, kan dié sagte vaardighede wat hierdie tipe redevoering ʼn mens aanleer op bitter min ander maniere op skool- en universiteitsvlak bekom word. Dit is nie nét vaardighede waarvoor enige werkgewer sy voortande sal gee om in ʼn werknemer te hê nie, dit is óók onvervangbare lewensvaardighede. Selfs al kom debatvoering nie natuurlik vir ʼn persoon nie, is al die bekwaamhede wat daardeur opgedoen word iets wat aangeleer kan word.
Die nes word stukkie vir stukkie gebou, maar dit begin altyd met ʼn eerste takkie (of in dié geval, debatskompetisie). Ek het al verskeie jongmense teëgekom wat nog nooit aan enige openbare redevoering deelgeneem het nie en dan ontdek dat hulle ʼn natuurlike talent daarvoor het. Ek moedig dus enig en elkeen aan om ten minste aan een debat deel te neem. Wie weet, dalk is jy ʼn debatteerder van formaat!
Ter afsluiting, enigiemand kan fisies baklei, maar om debat te voer, beteken dat jy die unieke menslike vermoë, om by wyse van kritiese denke ʼn teenstander aan te durf, baasraak. In die woorde van die karakter Atticus Finch in die boek deur Harper Lee, To Kill a Mockingbird: “You just hold your head high and keep those fists down. No matter what anybody says to you, don’t you let ’em get your goat. Try fightin’ with your head for a change.”
Debatsvoering en -kompetisie vorm ʼn belangrike deel van Akademia se L-E-E-S-projek wat vanjaar ter viering van die eeufeeswording van Afrikaans van stapel gestuur is. Die doel van die projek is om Afrikaans as onderrigtaal te bevorder by wyse van verskeie aktiwiteite, waaronder debatsvoering, en hulpbronne om ʼn omvattende leerervaring te bied. Klik hier vir meer inligting.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.