Search
Close this search box.

Die Groot Boeke leer ons van onsself

Gepubliseer op: 12 November 2024

Geskryf deur dr. Ernst Roets, beleidshoof van die Solidariteit Beweging en ’n genoot van die NP van Wyk Louw-sentrum.

Akademia het vanjaar ’n Groot Boeke-projek* van stapel gestuur. Dié projek behels dat studente – ongeag hul studierigting – aangemoedig word om die Groot Boeke van die Westerse beskawing te lees. Dit is ’n fantastiese én broodnodige inisiatief. Die mens word immers gevorm deur tradisie, die manier van dink en doen wat ons onbewustelik navolg, deur die dinge wat deur dié wat voor ons geleef het, vir ons nagelaat is. Net só sal ons bydrae eendag gemeet word aan dit wat ons nalaat vir ons kinders en vir dié wat nog nie gebore is nie.

Afrikaners se identiteit is aan Afrika verbind. Dit is hier waar ons Afrikaners geword het, waar ons taal sy unieke vorm aangeneem het en waar baie bloed, sweet en trane gevloei het om die dinge na te laat wat ons vandag so maklik as vanselfsprekend aanvaar. Afrikaners is ook Westerlinge en deel van die Westerse beskawing. Dit beteken dat die geskiedenis van die Westerse beskawing, met sy meningsverskille en al, ook ons geskiedenis is.

Daar word gereeld gesê dat die wortels van hierdie beskawing herlei kan word na drie sleutelstede: Athene, Rome en Jerusalem. ’n Mens kan selfs méér spesifiek wees en sê dat die Westerse beskawing na drie koppies herlei kan word, naamlik die Akropolis in Athene, die Palatynse heuwel in Rome en Golgota in Jerusalem. Hierdie drie plekke simboliseer die ryk kulturele en historiese erfenis wat ons van elke stad geërf het.

In Athene is die Akropolis nie net ’n fisiese plek nie, maar ’n simbool van die Griekse filosofie en denke, alhoewel die werklike intellektuele aktiwiteite van figure soos Sokrates, Plato en Aristoteles meer algemeen in ander dele van die stad, soos die Agora en Plato se Akademie, plaasgevind het. Die Palatynse heuwel, bekend as die stigtingsplek van Rome, was die kern van die Romeinse Republiek en het ’n belangrike rol gespeel in die politieke en regstradisies van Rome. Belangrike gebeure soos Cicero se ontmaskering van die Catilina-sameswering het naby dié heuwel, in die Forum Romanum, plaasgevind. Golgota, die plek buite Jerusalem se mure waar Christus gekruisig is, bly ’n kragtige simbool van offering en verlossing, wat die Christelike invloed op die Westerse etiese en godsdienstige denke onderstreep.

Ons Westerse geskiedenis is egter véél dieper en ryker as die poging wat ek hierbo aangewend het om dit in een paragraaf saam te vat. Juis daarom is dit só belangrik om die Groot Boeke van ons beskawing te bestudeer. Deur die Groot Boeke te bestudeer, leer ons in die eerste plek onsself beter ken. Ons verstaan wie ons is, waar ons vandaan kom, hoe ons gevorm is en waarom ons op ’n bepaalde manier gevorm is. Want, soos die ou gesegde lui, slegs as ons weet wie ons is en waar ons vandaan kom, sal ons kan weet waarheen ons op pad is. Dit is waarom Donald Kingsbury gesê het dat tradisie ’n stel oplossings is ten opsigte waarvan ons die probleme al vergeet het.

Die Groot Boeke is nie bloot geskiedenisboeke nie. Dit verteenwoordig ’n gesprek wat steeds aan die gang is, waarin ons as skepsels in hierdie groot kosmos probeer sin maak. Laasgenoemde verwys na wie ons is, hoe die lewe werk, waarop dit neerkom as ons sê dat ons ’n goeie lewe wil lei, en wat dit beteken om vry te wees. Hierdie temas klink baie aktueel, maar dit is so oud soos ons beskawing self. Dit word byvoorbeeld in Homeros se Ilias behandel – die epiese gedig wat die verhaal van die Griekse inval in Troje vertel.

Die Groot Boeke gee vir ons antwoorde op die moeilike vrae van ons tyd. Wanneer ons die Groot Boeke lees, is ons egter nie met ’n statiese konsep besig nie. Dit is nie tekste wat sommer net lank gelede geskryf is en waaroor daar vandag nie meer iets te sê is nie. Dit verteenwoordig eerder die groot mylpale in ’n lang gesprek waardeur ons sin probeer maak van wat dit beteken om ’n goeie lewe te lei. Ons lees nie die Groot Boeke omdat ons geen opinies van ons eie het nie. Ons lees dit nie omdat ons leë doppe is wat deur dié boeke gevul moet word nie. Ons lees dit eerder omdat ons reeds deur hierdie boeke gevorm is, óf ons dit nou weet óf nie.

Wanneer ons die Groot Boeke lees, lees ons dus oor onsself. Ons leer meer oor wie ons is, waar ons vandaan kom, hoe ons reeds gevorm is, en ons kry insig oor hoe om oor die groot vraagstukke van die lewe te dink. Dit is relevant vir enige iemand, of jy nou filosofie, regte of wiskunde studeer.

*Die Groot Boeke-projek stel studente deur die loop van hul studie by Akademia aan groot denkers soos CS Lewis, Van Wyk Louw, Homerus, Augustinus, en Plato bloot. Die personeel van die NP van Wyk Louw-sentrum lei die studente aan die hand deur hierdie groot skrywers se idees deur aanlyn kortkursusse vir die studente aan te bied.

Dr. Ernst Roets, beleidshoof van die Solidariteit Beweging en ’n genoot van die NP van Wyk Louw-sentrum, meen die lees van die Groot Boeke leer studente méér as net van die Westerse beskawing. Dit leer hul ook meer van hulself en hul plek in die wêreld.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.