Die anatomie en fisiologie van ʼn goeie Lewenswetenskappe-onderwyser

Gepubliseer op: 1 September 2025

Geskryf deur Jhani Pottas, dosent: Opvoedkundestudies, en Lizanne de Villiers dosent: Professionele Studies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

Wanneer daar aan die woorde “anatomie” en “fisiologie” gedink word, is dit gewoonlik in die konteks van die menslike liggaam asook struktuur en funksie in perfekte homeostase. Dié lens kan egter ook gebruik word om na die aard en wese van ʼn Lewenswetenskappe-onderwyser te kyk.

Maar hoe lyk die boustene (anatomie) en funksies (fisiologie) van ʼn goeie onderwyser binne die milieu van hierdie dinamiese en uiters belangrike vak?

Die aard van Lewenswetenskappe

Lewenswetenskappe, soos uiteengesit in die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV), behels die studie van lewende organismes – van die lewensprosesse van die eenvoudigste molekules tot en met die funksionering van die grootste ekosisteme. Hierdie inhoud word gevolglik geïntegreer met oorkoepelende vaardighede soos praktiese werk, kritiese denke, probleemoplossing en wetenskaplike kommunikasie.

In die lig hiervan sluit die basiese boustene van ʼn goeie Lewenswetenskappe-onderwyser nie nét vakkennis in nie, maar óók praktiese vaardighede, die vermoë om vakinhoud te kontekstualiseer, indieptekennis van die leerders en die vermoë om selfgerigte leervaardighede by leerders te bevorder.

ʼn Goeie Lewenswetenskappe-onderwyser verstaan die verskil en die belangrike verband tussen die substantiewe (inhoud, konsepte, teorieë en feite) en sintaktiese aard (metodes van ondersoek, waarneming, toetsing en interpretasie) van dié vak. Hierdie substantiewe en sintaktiese aard is onlosmaaklik verbind tot mekaar en daarom is Lewenswetenskappe leweloos sonder praktiese insette. Amper soos anatomie sonder fisiologie.

Praktiese werk as die gom tussen inhoud en interpretasie

Tydens Nasionale Wetenskapweek, wat jaarliks in die eerste week van Augustus plaasvind, word die fokus opnuut geplaas op die belangrikheid van praktiese, toeganklike en wetenskaplik gegronde onderrigpraktyke. Gedagtig hieraan word praktiese werk, in welke vorm ook al, as ʼn belangrike brug tussen die substantiewe en die sintaktiese beskou.

Die realiteit is egter dat praktiese werk in sommige gevalle as ʼn tydrowende las gesien word. Navorsing toon egter in teenstelling met hierdie sienswyse, dat leerders se begrip baie beter ontwikkel wanneer hulle eerstehands die proses van praktiese ondersoek meemaak, vrae kan vra en resultate op hul eie manier kan interpreteer. Om dié rede is dit noodsaaklik dat onderwysers kreatiewe alternatiewe ondersoek om vakinhoud aan te bied, selfs in hulpbronbeperkte skole. Voorbeelde van diesulke alternatiewe sluit byvoorbeeld in eenvoudige modelle, simulasies, veldwerk of die gebruik van mobiele mikroskope.

Die vermoë om wetenskaplike inhoud só te onderrig dat dit relevant, betekenisvol en toeganklik vir alle leerders is, is ʼn belangrike eienskap van ʼn Lewenswetenskappe-onderwyser. ʼn Ware meester in die onderrig van dié vak verstaan nie net die feite nie, maar is ook in staat om die leerinhoud op ʼn toepasbare en betekenisvolle manier deel van elke leerder se daaglikse leefwêreld te maak.

Ken jou leerders en weet wat hulle leerbehoeftes is

Uitsonderlike kennis van die leerders wat voor jou in die klaskamer sit, is ononderhandelbaar vir ʼn goeie Lewenswetenskappe-onderwyser. Dit stel jou in staat om te identifiseer wanneer diepgaande leer werklik plaasvind. Hierdie vermoë kom egter nie vanself nie, maar spruit uit ʼn kombinasie van waarneming, empatie en doelbewuste besinning oor hoe jou leerders leer.

ʼn Onderwyser wat sy/haar leerders ken, beskik oor die volgende dieperliggende insigte:

  • Die besef dat antwoorde slegs herhalings van handboekkennis is en of ʼn leerder die konsep in ʼn onbekende situasie sal kan toepas,
  • Watter leerhindernisse teenwoordig is,
  • Hoe om wanpersepsies uit die weg te ruim, en
  • Hoe om sy/haar onderrigstrategieë dienooreenkomstig aan te pas.

Bogenoemde insigte veronderstel voorts ʼn sensitiwiteit vir leerders se uiteenlopende agtergronde, verskillende vlakke van taalvaardigheid asook hul gekose leerstyle. In kort: deur ʼn ruimte te skep waarin leerders voel dat hulle raakgesien en verstaan word, kan jy as onderwyser die leerproses aansienlik verryk.

Soveel leerders soveel onderrigstrategieë

Een van die maniere waarop ʼn onderwyser ʼn gunstige leeromgewing kan skep is om verskeie en toepaslike onderrigstrategieë aan die dag te lê.

ʼn Goeie Lewenswetenskappe-onderwyser kies nie ʼn onderrigstrategie bloot omdat dit gewerk het in ʼn vorige klas of omdat dit gewild is nie. Die onderrigstrategie moet doelbewus aangepas word vir die leerders wat voor hom/haar sit én vir die spesifieke inhoud wat behandel word.

In die biologiese wetenskappe, byvoorbeeld, vereis die kompleksiteit van ʼn area soos  genetika ʼn ander benadering as die aanleer van ekologiese konsepte of die verstaan van selstruktuur. Net so sal ʼn klas met sterk visuele leerders baat vind by diagramme, video’s of modelle, terwyl ouditiewe leerders dalk meer sal leer uit debatte. Onderrig is nie ʼn een-grootte-pas-almal-benadering nie. Wanneer jy jou leerders (voorkennis, belangstellings, uitdagings en kontekstuele realiteite) goed ken, kan jy as onderwyser strategieë kies wat werklik tot betekenisvolle leer lei. Só word inhoud nie net oorgedra nie, maar ook verwerf op ʼn manier wat blywend, relevant en toeganklik is.

In die Lewenswetenskappe-klas is dit maklik om te verval in die rol van ʼn kenner wat bloot feite oordra wat leerders dan moet memoriseer. Ware wetenskaplike denke ontstaan egter wanneer leerders aangemoedig word om self vrae te stel, onsekerhede te ondersoek, aannames te bevraagteken en alternatiewe verklarings te verken. Deur oop vrae te stel soos “Wat dink julle sal gebeur as …?” of “Hoe kan ons dit toets?”, word leerders aktiewe deelnemers aan kenniskonstruksie, eerder as passiewe ontvangers. Hierdie tipe denke help leerders om te verstaan dat wetenskap nie ʼn versameling vaste waarhede is nie, maar ʼn dinamiese proses van ondersoek, toetsing en heroorweging.

Wanneer onderwysers ʼn klasruimte skep waar vrae verwelkom en waardeer word, kweek hulle soveel meer as net wetenskaplike geletterdheid. Hulle word kampioene van nuuskierigheid, verbeterde selfvertroue en kritiese denke wat leerders toerus vir ʼn komplekse wêreld buite die klaskamer.

Die waarde van selfgerigte leer

In die konteks van Lewenswetenskappe beteken selfgerigte leer dat leerders nie net weet wát om te leer nie, maar hóé om te leer. As onderwyser lei jy jou leerders om doelwitte vir hul eie leer te stel, inligting krities te evalueer en hul vordering te monitor en aan te pas. Hierdie proses kan onder meer die vorm aanneem van:

  • Selfevaluering na elke leereenheid, of
  • Om leerders aan te moedig om ʼn leerjoernaal by te hou.

Selfgerigte leer is veral belangrik in ’n vak soos Lewenswetenskappe, waar konsepte kompleks en voortdurend in ontwikkeling is. Wanneer leerders die vaardigheid ontwikkel om self navorsing te doen, bronne te interpreteer en hul eie vrae na te jaag, raak hulle meer onafhanklik, gemotiveerd en betrokke. Jy, as onderwyser, word dan ʼn fasiliteerder van leer eerder as die enigste bron van kennis en leerders word eienaars van hul leerproses.

Bykomende wenke vir Lewenswetenskappe-onderwysers

  • Ken die anatomie en fisiologie van jou vak

Vakkennis kweek passie en passie is aansteeklik. Wanneer leerders besef dat jy werklik ʼn kenner is en boonop passievol is oor die vak, sal hulle ook meer wil weet.

  • Doen meer praktiese werk

Dit is nie nodig vir uitspattige of duur praktiese ondersoeke nie, leerders vind aanklank by die eenvoudigste ondersoek of selfs demonstrasie. Die Lewenswetenskappe-kurrikulum laat toe vir ʼn verskeidenheid van praktiese werk.

  • Verstaan die fisiologie en psigologie van jou leerders

Elke leerder is uniek en het unieke leerbehoeftes. Hoewel nie elke leerder individueel geakkommodeer kan word nie, moet onderwysers bewus wees van die eiesoortige behoeftes sodat verskillende leergeleenthede geskep kan word.

  • Bly op hoogte van die nuutste Lewenswetenskaplike kennis, praktiese toepassing en tegnologieë

Lewenswetenskappe-onderwys strek verder as die handboek wat al vir jare gebruik word.

  • Wees kreatief

Die klaskameromgewing moet opwindend wees en vir leerders leerervarings eerder as blote lesse bied. Onthou, kreatiwiteit is nie ʼn ingebore vaardigheid nie en kan ontwikkel word deur navorsing te doen, saam met meer kreatiewe kollegas te werk en deur by jou leerders te leer.

  • Ontdek verskillende onderrigstrategieë en wees dapper genoeg om dit te implementeer

As onderwyser voel dit dikwels asof die werklike aard van ʼn vak agterweë bly in die dolle gejaag na die afhandeling van die kurrikulum. Deur verskillende strategieë te implementeer word die vak nie net meer toegangklik vir leerders nie, maar verseker dit ook die ontwikkeling van die nodige vaardighede wat leerders nodig het om selfgerig te leer, aktief deel te neem in hul eie leer en krities te dink.

ʼn Goeie Lewenswetenskappe-onderwyser is ʼn leier, ʼn fasiliteerder en ʼn vormer van wetenskaplike denke. Jy beliggaam die dinamika van jou vak: gestruktureerd soos die anatomie van ʼn dier, maar lewend en aanpasbaar soos die fisiologie van ʼn organisme. Jy dra die verantwoordelikheid om nie net die inhoud van jou vak aan te bied nie, maar om leerders toe te rus om in ʼn wetenskaplike wêreld te leef en ingeligte besluite te kan neem. In die proses word jy self deel van iets groter, naamlik die voortdurende ontwikkeling van ʼn samelewing wat wetenskap verstaan, waardeer en verantwoordelik gebruik.

Jhani Pottas, dosent: Opvoedkundestudies, en Lizanne de Villiers, dosent: Professionele Studies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen goeie Lewenswetenskappe-onderwysers word geken aan ʼn eiesoortige anatomie en fisiologie. Só ʼn onderwyser is ʼn leier, ʼn fasiliteerder en ʼn vormer van wetenskaplike denke.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.