Kom ons breek die pad oop

Gepubliseer op: 24 September 2025

Geskryf deur dr. Carel Boshoff, ereleerstoelbekleër van die NP van Wyk Louw-sentrum

Hoe kan ons in 2025 oor erfenis en Erfenisdag dink sonder om heeltemal swartgallig te raak? En waar vind ʼn mens die woorde om onder die huidige omstandighede aan jou neerslagtigheid reg te laat geskied? Hoe ontsnap ons aan die versoeking om vir die goedkoop en oppervlakkige erkenning wat “Braaidag” aan ons kulturele erfenisse in Suid-Afrika gee, te val? Want mens moet jou uitdagings vierkantig in die oë kyk as jy hulle te bowe wil kom; mens moet die omvang van jou probleem verstaan as jy wil verseker dat jou oplossing groot genoeg is daarvoor.

Ons uitdaging is nie om een maal per jaar iets wat ons “erfenis” noem af te stof en vir ʼn minuut van stilte daarby te vertoef nie; ons uitdaging is om trou aan ons erfenis te lewe, om uit die verlede te neem wat goed en reg is en ons toekoms daarop te bou, soos president Paul Kruger dit in sy laaste boodskap gestel het. Ons “probleem” is nie om Erfenisdag te vier nie, dit doen ons goed; ons probleem is om in ʼn samelewing wat ons gemeenskap vyandig gesind is, aan ons roeping trou te bly.

“’n Pad loop dood” is die Afrikaanse weergawe van die Nigeriese skrywer, Chinua Achebe, se beroemde roman van 1958 met die oorspronklike titel Things Fall Apart. Dit is die verhaal van ʼn tradisionele gemeenskap se kulturele ontbinding en die ontworteling van mense in die aangesig van modernisering en verwestering. Die Engelse titel ontleen Achebe aan die Ierse digter, William Butler Yeats se The second coming, waarvan die Nederlandse denker, Ad Verbrugge, ʼn hele strofe gebruik as aanhef tot sy onlangse boek De gesagscrisis (2024). Eintlik moet mens uit dié ietwat moeilike en metaforiese gedig minstens dié twee lyne saamlees: things fall apart / the centre cannot hold.

Achebe veronderstel waarskynlik dat sy lesers die gedig ken en dat die een gedagte die ander oproep: ons lewens val uitmekaar, die wiele kom af, die samehang gaan verlore, die betekenisgewende sentrum verloor sy krag. Daar is ʼn verband tussen dinge wat uitmekaar val en die verlies van middelpuntsoekende kragte wat daardie dinge saamgebind het. Dit is die verlies aan orde wat die vorm van wetteloosheid en korrupsie, misdaad, bedrog en moord aanneem en wat mens, as jy gevoelig daarvoor is, kan bang maak vir die lewe.

Dit lei nie tot ʼn gesonde verlange na die goeie (waarvan daar voorbeelde in elke outentieke erfenis te vind is) nie, maar tot ʼn vae nostalgie met behulp waarvan ons probeer ontsnap na ʼn sonnige verlede vóór hierdie donker wolke oor ons lewens gehang het. Maar van die werklikheid kan mens nie ontsnap nie; dit haal jou in, hoe jy dit ook al probeer ontwyk. Iets méér is nodig as ʼn braaivleis en ʼn biertjie, maar wat? Die antwoord is eintlik eenvoudig, maar die uitdaging is groot. Ons vind dit terug by daardie selfde Paul Kruger wat ons met die wysheid van terugskoue na die verlede laat kyk het om die beste toekoms te sien.

Die groot digter, NP van Wyk Louw, neem in ʼn epiese drama die jong Paul Kruger in behandeling. Ná die Groot Trek met die Boere se vestiging in die Transvaal dreig die orde in die nuwe republiek om te swig voor die botsende aansprake van leiers en groepe wat elk sy eie belang wil bevorder en sy siening op die ander wil afdwing. Dit lei in 1864 selfs tot ʼn klein burgeroorlog wat dreig om die hele grootse onderneming ten gronde te rig. Maar ʼn jong en vasberade Kruger tree na vore en word in die posisie van Kommandant-generaal voor die uitdaging gestel om orde te handhaaf en die gemene goed, nie hierdie of daardie voorkeur nie, te laat geld – om die republiek te vestig.

Die beeld wat Louw gebruik, is om te sê Kruger breek die pad oop, die titel van sy drama. Van waar die Boere hulle bevind, individualiste en dwarstrekkers, is daar geen pad na orde en ʼn gemenebes wat rustig bewandel kan word nie. Maar dat daar geen pad is nie, beteken nie dat die volk kan aanvaar dat die bestemming onbereikbaar is nie. Wat sou dít beteken? Dat die opofferings van Vegkop, Silkaatsnek en Bloedrivier tevergeefs was? Dat God se leiding hulle op ʼn doodlooppad beland het? Dit was tog ondenkbaar. Daarom moes, waar daar geen pad was nie, een oopgebreek word! En dit het Kruger gedoen.

Die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe kan eintlik nie in 2025, 200 jaar ná sy geboorte, aan ons erfenis dink sonder om aan Paul Kruger te dink nie. Nie omdat hy bo kritiek verhewe was of foutloos opgetree het nie, maar omdat hy as jong en kragtige man ʼn pad oopgebreek het wat na betekenisvolle vryheid sou lei; omdat hy as ʼn ou man die wysheid gehad het om ons na ons erfenis te verwys wanneer ons oor die toekoms wil dink; en omdat hy vandag nog, vandag wéér die simbool van republikeinse vryheid is.

Republikeinse vryheid is deelnemende vryheid, dit is om eienaarskap te neem van ʼn orde wat samehang gee aan ons lewens en lewensfasette, aan ons saambestaan in gemeenskap. En as dit in ons tyd lyk asof die samelewing waarin ons ons bevind sulke vryheid onbereikbaar maak, is die oplossing eintlik eenvoudig: kom ons breek die pad daarheen oop!

Dr. Carel Boshoff is die ereleerstoelbekleër van NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia, die voorsitter van die FAK en hoof van die Vryheidstigting.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.