Search
Close this search box.

Beurtkrag: Moenie in die donker gelaat word nie

Geskryf deur Anien van Niekerk, Fontiepos-joernalis

Verbeel jou jy is in die middel van ʼn aanlyn toets en jy het nog net ʼn paar vrae om te voltooi. Jy sien al die spreekwoordelike lig aan die einde van die toetstonnel. Kaplaks! Ewe skielik is dit pikdonker en jou internetkonneksie is weg, verlore, kapoet. Hoeveel keer het presies dít nie in die afgelope paar jaar met jou gebeur nie?

Dit is geen geheim dat ons vanjaar na alle verwagting ʼn lang en donker winter in die gesig staar nie. Kragonderbrekings is op die oomblik ʼn algemene verskynsel, en die meeste van ons is geheel en al afhanklik van Eskom se Push-toep om ons dag te help beplan. Aanlyn vergaderings en toetse word geskeduleer rondom verwagte kragonderbrekings, en ons bespreek die beurtkragskedule soos wat mens vantevore die weer bespreek het!

Wag! Voor die duisternis nou geheel in ons koppe insypel – beurtkrag hoef nie net ʼn nadeel hierdie winter te wees nie. Ja, daar is heelwat maniere om dit as ʼn prettige uitdaging te beskou.

Wanneer laas het jy ʼn verskoning gehad om op ʼn koue aand voor ʼn kaggel te sit en vir jou vriende spookstories in die flikkerlig-donkerte van die vuur te vertel? Spookstories is deesdae nogal moeilik om te vertel, aangesien televisiereekse soos Stranger Things en Wednesday mense se verwagtinge opeens baie verhoog.

Juis daarom bied beurtkrag ons die geleentheid om goeie storievertellers te word deur ons te verplig om kreatief te dink en meer verbeeldingryk te word. Wie weet hoeveel Showmax-reekse binnekort die lig kan sien danksy Suid-Afrikaners wat in die donker sit en stories vertel!

Beurtkrag bied ons ook ʼn geleentheid om ons vaardigheid met speletjies op te skerp. Jy het nou uiteindelik tyd om ʼn beter skaakspeler te word en daardie onoorwonne mededinger te skaakmat, vir ʼn verandering. Onthou jy toe Boetie of Sussie jou tien jaar terug in Monopoly gewen het? Hulle beweer mos nou dat hulle te besig is op die rekenaar om weer teen jou te speel. Wel, nou is daardie verskoning by die venster uit, en julle kan die volle geskeduleerde beurkragtyd speel om die wenner te kroon.

Dan, daardie romantiese ete wat jy en jou geliefde al weke lank beplan terwyl albei mos te besig is – wel, nou is dit nie meer ʼn probleem nie. Julle kan ʼn kers aansteek en by ʼn tafel sit en gesels terwyl julle wag vir Mr. Delivery of Uber Eats om die hoofgereg af te lewer.

Alle grappies op ʼn stokkie. Daar is heelwat maniere om beurtkrag meer positief te benader. Soos wat die wêreld rondom ons meer digitaal en rekenaarbehep word, is dit lekker om af en toe weer eg menslike dinge te doen soos om met mekaar te gesels, stories te vertel, en die skyn van die sterre te waardeer. Dalk doen Eskom ons eintlik ʼn guns. En dankie tog, die sterre is nie van Eskom afhanklik vir hulle vonkel nie. Ons ook nie.

Beurtkrag beïnvloed Akademia-studente daagliks, maar dit is ook ʼn groter geleentheid om jou persoonlike bande te versterk.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.