Aristoteles, die apostel Paulus en NP van Wyk Louw: ʼn Besinning oor die “Oop gesprek”

Gepubliseer op: 28 Maart 2025

Geskryf deur dr. Daniël Maritz: bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum en kapelaan by Akademia

Die gedagte van die “Oop gesprek” word sonder twyfel in die Afrikaner-konteks onlosmaaklik aan die persoon van NP van Wyk Louw verbind. Dit beteken egter nie dat hy die gedagte van die “Oop gesprek” uitgedink het nie. Inteendeel, in sy bepeinsing oor die “Oop gesprek” dink en skryf hy daaroor in die konteks van verlange. Hy verlang na die teenwoordigheid van die “Oop gesprek.” Hy verlang na die geleentheid om deel te kan neem aan die “Oop gesprek.” Hy mis die ervaring van die “Oop gesprek” soos wat hy dit in Suid-Afrika leer ken het. Dit impliseer uiteraard dat hy nie die gedagte van die “Oop gesprek” uit die niks uit uitgedink het, of die beoefening daarvan vir die eerste keer in geskiedenis geïnisieer het nie.[1]

Nee, wanneer Louw die “Oop gesprek” oordink, plaas hy homself in ʼn eeue oue tradisie. Dit is ʼn tradisie wat die “Oop gesprek” nog altyd ten nouste verbind aan wat dit beteken om ʼn denkende gees te handhaaf. En, nog meer, dit is ʼn tradisie wat deur die “Oop gesprek” verlangend opsoek is na die waarheid, goedheid, en skoonheid van die werklikheid.

Vir ons doeleindes kan ons die “Oop gesprek,” of ten minste, belangrike elemente van die “Oop gesprek” by figure soos, onder andere, Aristoteles en die apostel Paulus gaan opsoek. Aristoteles begin immers sy werk, Metafisiska, met ʼn beskrywing van die mens as ʼn wese wat van nature ʼn begeerte na kennis het. Ons as mense wil dinge weet. Ons wil, volgens ons aard, en gevolglik deur ons sintuie, dinge in die werklikheid ken en een of ander greep in ons denke daarop verkry.[2]

Die feit dat Louw die “Oop gesprek” se moontlike temas verwoord as “alle dinge wat in die hemele is, of op die aarde, of in die waters onder die aarde,”[3] impliseer tog dat hy aansluit by Aristoteles se beskrywing van die mens as ʼn wese met ʼn natuurlike en nuuskierige begeerte om dinge te leer ken en voortdurig verdere ondersoek na die aard van dinge te wil instel. Louw kwalifiseer die temas van die “Oop gesprek” nog verder as “politiek, wysbegeerte, kuns, literatuur,” en dikwels die “teologie.” Die soeke na kennis en wysheid; die soeke na die geheel van dinge, en dit, in gesprek met ander mense, staan uiteraard voorop. Die punt wat vir nou in Aristoteles se benadering moet uitstaan is dat enige vorm van kennis die werklikheid voorveronderstel. Hoe so? Vir kennis om kennis te wees, moet dit kennis van iets wees. Sodra die mens, volgens sy aard, kennis verkry, verkry hy kennis van dinge wat bestaan in die werklikheid. In gesprek deel die mens weer sy kennis van dinge met ander mense.

In die Aristoteliaanse denke staan die mens se verkryging van kennis soms bekend as die drie handelinge van die verstand.[4] Alhoewel die drie handelinge van die verstand miskien vreemd voorkom en die relevansie daarvan vir die “Oop gesprek” nie onmiddellik duidelik is nie, baan dit tog vir ons die metafisiese weg daarnatoe. Dus, vir ʼn diepere besinning oor die “Oop gesprek,” kan ons op hierdie punt bloot vra: wat is die drie handelinge van die mens se verstand?

In kort sou ons kon sê dat dit die denke van die mens se omgaan met die werklikheid is. Dit is die organiese proses waardeur die mens die rykdom van die werklikheid ontdek; sover as wat die mens kan, begryp; en gevolglik in gesprek demonstreer. Dit veronderstel dat die werklikheid oop staan om geken te word, en dat die denke uitreik om die werklikheid te ken vir wat dit is.

Die eerste handeling staan bekend as eenvoudige begrip waardeur die menslike verstand iets in die werklikheid aanskou. Op hierdie stadium is die verstand nie besig om ʼn sekere aspek van die werklikheid te onderskryf of te ontken nie. Die werklikheid is eerder aktief besig om die verstand te voorsien met die verskillende vorme[5] van dinge in die werklikheid. Eenvoudige begrip omskryf daarom die denke wat te wete kom wat iets is, en gevolglik konsepte wat in terme uitgedruk kan word, te vorm. Om ʼn baie eenvoudig voorbeeld te noem, kan ons maar net dink aan ʼn hond. Wat is ʼn hond? Die mens se kennismaking met ʼn hond in die werklikheid voorsien dus die verstand met die vorm van ʼn hond om min of meer te weet wat dit is.

Die tweede handeling staan bekend as oordeel waardeur die verstand nou oorgaan om die ding wat begryp is se bestaan te bepaal. Die denke oordeel nou as te ware of die ding in die werklikheid, die ding wat in sy eenvoud begryp word, is, was, of sal wees. Aspekte van die werklikheid word nou onderskryf as waar of verwerp as vals, en in die proses word konsepte tot stellings gevorm en die waarheid of valsheid van die stellings se aansprake beoordeel. In ons geval, om op die voorbeeld van ʼn hond voort te bou, sou dit iets soos volg wees: ʼn hond is ʼn dier wat kan blaf, en nog verder, ʼn hond is nie ʼn reptiel nie. Een van hierdie stellings onderskryf iets as waar en verwerp iets anders as vals rakende ʼn hond.

Die derde handeling is redenering. Dit behels die verstand se beweging vanaf bekende waarhede na nuwe waarhede toe. Dit is nie alleenlik net ʼn beweging vanaf stellings na gevolgtrekkings toe nie, maar ook vanaf vrae na antwoorde, en retoriek na oorreding toe. Dink byvoorbeeld weereens aan ʼn hond. Nadat die mens se verstand kennis gemaak het met ʼn hond en gevolglik sekere oordele oor die hond se natuur gevel het, kan daar nou ʼn geldige argument aanmekaar geweef word: Alle honde is sterflik. Brakanjan is ʼn hond. Gevolglik is Brakanjan sterflik.

Ná aanleiding van die drie handelinge van die verstand is dit duidelik dat die werklikheid deur die verstand ontvang word en nie daardeur gekonstrueer word nie. Die handeling van eenvoudige begrip is die mens se deelname aan die vorme wat in die werklikheid geopenbaar word; die handelinge van oordeel fokus op aansprake wat oor die werklikheid gemaak word; en die handeling van redenering handel oor argumente aangaande die verskillende oorsake wat in die werklikheid ontdek word.

Wanneer Aristoteles die mens se ingeweefde begeerte na kennis beskryf, impliseer hy dat die mens terselfdertyd ook van so aard is dat ʼn begeerte vir gesprek deel van sy wesentlike mondering uitmaak. Die mens wil nie net ken nie, maar praat oor die dinge wat geken word. Al drie die handelinge van die verstand is in die agtergrond daarom ten nouste verbind aan die “Oop gesprek” en verduidelik ook hoekom die kuns van argumentering, of dan nou, retoriek, vir Aristoteles, en die Grieke oor die algemeen so belangerik was.

Louw beskryf die “Oop gesprek” verder as ʼn aanhoudende beweging wat “van lig na swaar toe oorgaan of van swaar na lig.” Dit is ʼn geleentheid waar “alle moontlike vorme van die lewe – tot die vreemdstes toe – van alle kante [kan] benader” word.[6] Soos wat die mens die werklikheid sintuiglik ervaar vestig dit deur die drie handelinge van die verstand herinneringe. Op sy beurt word ons herinneringe ʼn versamelde of kollektiewe ervaring van die werklikheid wat uitgebeeld kan word as ʼn skatkis vol betekenis en waarheid. Die mens se verstand kan hierdie skatkis per geleentheid, veral in die “Oop gesprek,” oopmaak en dele van daardie kollektiewe ervaring in die lig bring in die vorm van vertelling, verduideliking, redenering, argumentering, navorsing, en ook ondervraging.

Vir Louw is die “botsing van menings, die ondersoek na standpunte, die ingraaf onder ʼn ander se fondamente terwyl hy self weer jou eie grondslag met die koevoet toets,” die hoofsaak van die “Oop gesprek.” Ongelukkig is alle retoriek nie ingestel op die werklikheid en die toets van grondslae nie. Die werklikheid word dikwels verdraai en herdefinieer om die spreker se eie sukses te verseker, maar in die proses die werklikheid voor oë te verloor. Meer nog, die “Oop gesprek” verloor sy punt as die verkryging van die waarheid, goedheid en skoonheid van die werklikheid op een of ander vlak nie in beginsel as moontlik geag word nie. As ons reeds vanuit die staanspoor nie waarheid kan ken nie, hoekom nog deelneem aan ʼn “Oop gesprek” en iemand probeer oorwen na die waarheid toe as die waarheid of, nie bestaan nie, of nie kenbaar is nie? Louw verduidelik daarom dat die onvermydelike daar-wees van die waarheid bankvas agter die “Oop gesprek” staan, en dat die mens iets daarvan kan ken, al is dit nie volkome nie.[7]

Die punt bly dus staan dat alle mense deel in ʼn gemeenskaplike ervaring van die wêreld. Die werklikheid kom in al sy rykdom na ons toe, en in ooreenstemming met mekaar weet ons dat dit betekenisvol is. Sover as wat die mens ervaring van die werklikheid het en dinge leer ken, kan die mens as nuuskierige en spraaksame wesens redeneer oor die bekende en die onbekende.[8]

Louw maak verder ʼn onderskeid tussen die “fanatieke” persoon en die “gebonde” persoon in die “Oop gesprek.” Mens sou dink hy bedoel die beskrywing van die “fanatikus” in ʼn meer negatiewe sin terwyl die “gebonde” persoon positief voorgehou word. Dit is egter andersom. Die “gebonde” persoon is die een wat in die “Oop gesprek” nie sy eie uitgangspunte raaksien nie, en nie regtig eers weet wat hy in die gesprek wil bereik of moet verdedig nie. Dit terwyl die “fanatikus” ʼn verdediger van ʼn standpunt is omdat hy sy “eie grondslag volkome ken, deur en deur ondersoek het, en dan nog as waar aanvaar.” Dit is die persoon met “grond onder sy voete,” by wie jy met vrymoedigheid kan leer, en gevolglik die “beste intellektuele skermmaat” is. Louw beskryf vir ons hier die “fanatieke” apostel Paulus.[9]

Paulus, die Hellenistiese[10] Jood, se optrede word dikwels in die boek Handelinge onder andere gekenmerk deur die woord “dialoog,” of soos dit in die Afrikaanse vertaling verskyn, “redeneer.” In die bekende hoofstuk van Handelinge 17, bevind hy hom in Athene waar hy met die Jode in die Sinagoge redeneer, maar ook in die markplein (ἀγορᾷ) “met wie ook al daar was.”[11] Hy debatteer met die Epikureërs en die Stoïsyne en eindig met ʼn toespraak op die Areopagus waarna Dionisius, Damaris, en nog ander tot bekering kom.[12]

Die Grieke in Athene “het vir niks anders tyd [gehad] as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie.”[13] Gevolglik verwelkom hulle vir Paulus om deel van hul “Oop gesprek” te wees. Neem wel kennis, die Areopagus was sowel ʼn plek as ʼn raad van mense. As ʼn plek was dit ʼn hoogtetjie op die rand van Athene, en as ʼn raad van mense was dit die intellektuele elite wat geredeneer het oor die belangrike kwessies van hul dag; hetsy die politiek, die reg, die filosofie, of die teologie. In hierdie meer formele konteks, en getrou aan Griekse retoriek rig die apostel juis sy toespraak in om die nodige retoriese elemente saam te weef sodat dit nie net samehangend en oorredend is nie, maar die soeke na die werklikheid se diepste gronde voor oë hou.[14]

Alhoewel daar heelwat is om van die antieke Grieke te kritiseer, is hulle tyd en respek vir die “Oop gesprek,” of eerder, die dialoog merkwaardig. Die einste handeling om dialoog te voer (διαλέγομαι), soos wat die Griekse woord dialogos (διάλογος) aanvoer, veronderstel nie net die drie handelinge van die verstand nie, maar ʼn diepe toewyding tot en onderwerping aan die gesag van die werklikheid self. Uiteindelik is dit die werklikheid wat toegelaat moet word om die “Oop gesprek” as te ware te bemiddel. Daar waar die werklikheid eerder verdraai word of herdefinieer word in die “Oop gesprek”; waar die retoriek eerder gaan oor sukses as waarheid; of waar die waarheid op die ashoop van subjektivisme en skeptisisme gedompel word, is dit juis die taak van die deelnemers aan die “Oop gesprek” om die werklikheid weer voorop te plaas.

Sien, die Griekse woord dialogos, bestaan uit twee woorde. Die woord dia (διά) wat “deur” beteken. En die woord logos (λογος) wat “woord” beteken. As ons hierdie ondersoek nog verder verdiep sou ons kon byvoeg dat die woord logos nie net oor die algemeen “woord” beteken nie, maar binne ʼn breër filosofiese konteks die “redelike woord” aandui.[15] ʼn Dialoog, in sy suiwerste vorm, is gevolglik ʼn gebeurtenis wat in en deur die redelike woord geskied. En, om dit nog ʼn bietjie verder te verdiep sou ons kon vra: Hoe kan die sogenaamde “redelike woord” los van die werklikheid bedink word? Is woorde, veral redelike woorde, daar om kastele in die lug te bou, of om die terra firma van die werklikheid te reflekteer vir wat dit is?

In kort dus, die redelike woord vra aanhoudend na die begronding van dinge. Dit begin soms, in Louw se woorde, “lig” of soms vanuit die staanspoor “swaar,” maar dit kring wyer uit, boor dieper in, en styg uiteindelik hoër op. Dit is die einste apostel Paulus wat immers aanvoer dat die “onsigbare eienskappe” van God “duidelik sigbaar” is in die werklikheid.[16] In gesprek is dit gevolglik die werklikheid wat die mens se verstand vanaf die sigbare dinge na die onsigbare dinge van God toe rig. Die natuurlike berei as’t ware die verstand voor vir die bonatuurlike.

Meer nog, vir die “Oop gesprek,” of die dialogos, om getrou hieraan self te wees sal dit uiteindelik nie vervulling bring as dit nie eindig waar die apostel Paulus sy toespraak op die Areopagus geëindig het nie: by die redelike woord wat vleesgeword het en uit die dood opgestaan het. Die vleesgeworde redelike woord hou nie net die ganse werklikheid in stand nie, maar dien as die uiteindelike vervulling van die mens se bestaan soos wat hy in die “Oop gesprek” keer op keer vra na die waarheid, goedheid en skoonheid van dinge.

Mag ons, waar ons die “Oop gesprek” al verloor het, dit weer herwin, en waar ons dit reeds herwin het, bewaar; en mag ons dit nie vir ons eie gewin beoefen nie, maar alleenlik vir die ontdekking en oopmaking van die werklikheid en al die sin en betekenis wat daarmee gepaardgaan.

[1] Sien Louw, NPVW. (1986). “Die Oop Gesprek” in NP van Wyk Louw: Versamelde Prosa 2. Kaapstad: Human & Rousseau (Edms.) Bpk, p. 3.

[2] Aristotle. (1933-1935). Metaphysics, Books I–XIV; Oeconomica; Magna Moralia. Edited by J. Henderson. Translated by H. Tredennick and G.C. Armstrong. Cambridge, MA; London: Harvard University Press (The Loeb Classical Library), p. 4.

[3] Louw, NPVW. (1986). “Die Oop Gesprek”, p. 3.

[4] Sien Kreeft, P. (2014). Socratic Logic: A Logic text using Socratic method, Platonic questions, and Aristotelian principles. South Bend, ID: St. Augustine Press, p. 28-34.

[5] Die vorm van iets in die werklikheid in hierdie konteks is nie dieselfde as die kategorie van ʼn sirkel of vierkant nie, maar eerder die wat van iets. Die vorm van ʼn hond sluit dus al die dinge in wat dit ʼn hond maak.

[6] Louw, NPVW. (1986). “Die Oop Gesprek”, p. 3.

[7] Ibid., p. 5. Dit is altyd goed om te onthou dat daar ʼn verskil is tussen waarlike kennis van iets en volkome kennis van iets. Ons kan waarlik iets weet sonder om dit volkome te weet. Ek kan byvoorbeeld weet wat ʼn koei langs die pad is sonder dat ek weet hoeveel die koei langs die pad se linker long weeg.

[8] Payne, A., 2020, ‘Classical theism and natural theology in early Reformed doctrines of

God’, in D. Haines (ed.), Without excuse: Scripture, reason, and presuppositional

apologetics, pp. 235–256, The Davenant Press, Burford, England, p. 21.

[9] Ibid., p. 4.

[10] Die woord “Hellenisme” word deur geskiedkundiges gebruik om te verwys na die verspreiding van die Griekse taal en kultuur, veral oos van Griekeland onder die Jode in Palestina en die Joodse Diaspora. Hierdie neiging het veral posgevat na Aleksander die Grote (356–323 vC) se verowering van Palestina in 332 vC. Die apostel Paulus is gevolglik ook beïnvloed deur die Griekse taal en kultuur in sy opvoeding en denke en kan met reg ʼn “Hellenistiese Jood” genoem word.

[11] Hand. 17:17

[12] Hand. 17:18-21, 34

[13] Hand. 17:21

[14] Sien Botha, R. (2016). The Dynamics of Christian Religious Dialogue: A Scientific investigation of two relevant scenarios. Ph.D tesis: Radboud Universiteit Nijmegen, p. 71-82.

[15] Joh. 1:1-18

[16] Rom. 1:20

Dr. Daniël Maritz, bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum en kapelaan by Akademia, meen dat wanneer NP van Wyk Louw \die “Oop gesprek” oordink hy homself in ʼn eeue oue tradisie plaas.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.