BCom (Rekeningkunde)
Die BCom (Rekeningkunde) is ʼn program wat spesifiek bedoel is vir diegene wat ʼn betekenisvolle bydrae tot die moderne besigheidswêreld wil maak deur middel van spesialiskennis in die veld van rekeningkunde, bestuursrekeningkunde, finansiële bestuur, belasting, en ouditkunde. Die program poog om studente toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om ʼn suksesvolle loopbaan aan te pak in besigheid en praktyk, terwyl graduandi die geleentheid kry om die gesogte titel as gesertifiseerde geoktrooieerde rekenmeester te behaal. Akademia se BCom (Rekeningkunde) is belyn met die internasionale beheerliggaam vir geoktrooieerde rekenmeesters, die ACCA (Association for Chartered Certified Accountants). Hierdie liggaam is in 2023 deur IRBA (The Independent Regulator Board for Auditors) geakkrediteer volgens die Ouditberoepwet 26 van 2005 as ʼn professionele rekeningkundige liggaam wat ʼn roete bied na die oudit-spesialisasieprogram vir voornemende geregistreerde ouditeure.
WAT KAN EK MET BCOM (REKENINGKUNDE) DOEN?
ʼn Student in hierdie program sal insig en toepassingsvaardighede in besigheid, rekeningkundige en ouditpraktyke sowel as verwante dissiplines kan verkry. Die program is tans in ʼn gevorderde stadium tot akkreditasie deur ACCA wat studente toerus om in rekeningkunde of ouditkunde verder te spesialiseer deur gestruktureerde opleiding (klerkskap), by kwalifiserende opleidingsindiensnemers te voltooi en sodoende toegang te verkry tot professionele eksamens om uiteindelik die gesogte geoktrooieerde gesertifiseerde rekenmeester-titel (oftewel Chartered Certified Accountant (ACCA)) agter jou naam te kan voeg.
Hierdie doelwit word bereik deur lidmaatskap by die ACCA (Association of Chartered Certified Accountants) te bekom. Deur lidmaatskap by die ACCA kan jy uiteindelik addisioneel registreer as geregistreerde ouditeur sodat jy “RA” (soos dit in die besigheidswêreld bekendstaan) addisioneel tot “ACCA” (Associate Chartered Certified Accountant) agter jou naam kan voeg. Die titel “RA” word bekom deur lidmaatskap (addisioneel) tot die Suid-Afrikaanse beheerliggaam IRBA (Independent Regulatory Board for Auditors) te verkry.
Hierdie program stel ʼn suksesvolle student in staat om óf in rekeningkundige verwante velde en subverwante dissiplines te praktiseer, soos ʼn rekenmeester en belastingadviseur, óf in die korporatiewe wêreld ʼn verskil te maak as rekenmeester, finansiële bestuurder, met ʼn moontlike loopbaanhoogtepunt as hoof- finansiële beampte (CFO) of selfs hoof- uitvoerende beampte (HUB of CEO).
WAT BEHELS DIE PROGRAM?
NKR-vlak 7
410 krediete
SAKO-nommer: 110824
ONDERRIGLEERMODEL: Nauurse afstandsmodel
ACCA
Die program geniet akkreditasie van die Association of Chartered Certified Accountants (ACCA). Hierdie internasionale professionele liggaam sal aan Akademia se BCom (Rekeningkunde)-graduandi die geleentheid bied om die gesogte titel van geoktrooieerde gesertifiseerde rekenmeester te verwerf deur die vrystelling van professionele eksamens te bespoedig. ʼn Bykomende voordeel is dat diesulke graduandi, wat volle lidmaatskap van die ACCA geniet, sonder enige oorgangseksamens internasionale erkenning sal geniet. Dié program tesame met die ACCA-akkreditasie sal gevolglik óók deur die Independent Regulatory Board for Auditors (IRBA) erken word.
Met Akademia se BCom (Rekeningkunde) kry studente die vinnigste moontlike roete tot kwalifisering as gesertifiseerde geoktrooieerde rekenmeester (oftewel chartered certified accountant met die titel agter jou naam: ACCA) deur vrystellings van professionele eksamens beskikbaar te stel nadat die program suksesvol voltooi is. Die professionele kwalifikasie van die ACCA is in die onderstaande vloeidiagram uiteengesit.
AKKREDITASIES
Die Chartered Institute for Management Accountants (CIMA) is die wêreld se vooraanstaande en grootste professionele liggaam van bestuursrekenmeesters. Saam met die American Institute of Certified Public Accountants (AICPA) het CIMA in 2012 die Chartered Global Management Accountant (CGMA)-benaming geskep om lede ʼn nuwe vlak van hulpbronne en erkenning te bied.
Die CIMA-kwalifikasie kan verwerf word deur die eksamens by CIMA self af te lê. Jy kan ook vrystelling vir sommige CIMA-eksamens ontvang deur jou kwalifikasie by ʼn CIMA-geakkrediteerde instansie soos Akademia te verwerf. Indien jy die BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie by Akademia verwerf, ontvang jy ʼn graadkwalifikasie by Akademia wat vrystelling vir agt van die sestien eksamens by CIMA inhou.
Die CIMA-kwalifikasie is opgedeel in vier vlakke. Ná suksesvolle voltooiing van elke vlak ontvang jy ʼn sertifikaat.
- Sertifikaatvlak (vier eksamens, naamlik BA1, BA2, BA3 en BA4)
- Operasionele vlak (drie eksamens, naamlik E1, P1 en F1, asook ʼn gevallestudie-eksamen)
- Bestuursvlak (drie eksamens, naamlik E2, P2 en F2, asook ʼn gevallestudie-eksamen)
- Strategiese vlak (drie eksamens, naamlik E3, P3 en F3, asook ʼn gevallestudie-eksamen)
Die vlakke moet chronologies voltooi word, en jy moet eers al die eksamens in ʼn vlak slaag voordat jy die gevallestudie-eksamens van daardie vlak kan aflê. Die gevallestudie-eksamen is ʼn samevatting van al die inhoud in die E-, P- en F-pilare. (E = Enterprise, P = Performance, F = Financial)
Die stappe om jou CIMA-kwalifikasie en professionele CGMA-benaming te ontvang is soos volg:
- Voltooi jou BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad (dit is ʼn driejaarprogram).
- Registreer as student by CIMA en doen aansoek om vrystellings. Ontvang vrystellings vir BA1, BA2, BA3, BA4, E1, P1, F1 en die operasionele vlak se gevallestudie-eksamen (sertifikaat- en operasionele vlak)
- Skryf die bestuurs- en strategiese vlak via CIMA.
- Doen drie jaar se praktiese ervaring op. Jy kan jou praktiese ervaring opdoen terwyl jy besig is om te studeer. Volg hierdie skakel vir meer inligting met betrekking tot CIMA se vereistes ten opsigte van praktiese ervaring.
- Ontvang jou CIMA-kwalifikasie en word erken as ʼn Chartered Global Management Accountant (CGMA).
Volg hierdie skakel vir verdere inligting oor CIMA.
Die South African Institute of Professional Accountants (SAIPA) is ‘n professionele rekeningkundige organisasie wat daartoe verbind is om die openbare belang te dien en te beskerm. Akademia se BCom (Bestuursrekeningkunde)-program is deur SAIPA geakkrediteer.
Om lidmaatskap by SAIPA te verkry moet die volgende stappe gevolg word:
- Die SAIPA-roete behels dat jy tydens of ná jou BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)- of BCom (Bestuursrekeningkunde)-studies by Akademia, aangestel word as ʼn klerk of vakleerling by ʼn rekeningkundige firma wat as ʼn Approved Training Centre (ATC) by SAIPA geregistreer is.
- Jy voltooi dan ʼn driejaarklerkskap by die goedgekeurde rekeningkundige firma (ATC).
- Aan die einde van die driejaarklerkskap ondergaan jy ʼn professionele evaluasie-eksamen voordat jy ʼn lid van SAIPA word.
Volg hierdie skakel vir meer inligting met betrekking tot die vereistes om ʼn SAIPA-klerk te word.
Die Southern African Institute for Business Accountants (SAIBA) is ʼn erkende beheerliggaam en geregistreerde professionele liggaam vir besigheidsrekenmeesters. SAIBA het ʼn unieke inisiatief saam met Akademia van stapel gestuur, naamlik die SAIBA U²Pro-inisiatief wat studente in staat stel om ʼn professionele rekeningkundige benaming met hul kwalifikasie te behaal wanneer hulle gradueer.
Hoe werk die SAIBA U²Pro-inisiatief:
- Registreer by SAIBA as ʼn student vir die U²Pro-inisiatief.
- SAIBA laat geakkrediteerde tersiêre onderwysinstellings soos Akademia se graduandi toe om gratis studentetoegang tot die U²Pro-inisiatief te ontvang.
- Werkende graduandi: laai hul logboeke of goedgekeurde werkservaring op hul SAIBA-studentprofiele op.
- Werksoekende graduandi: doen aansoek om deel te neem aan die SAIBA- virtuele werkgereedheidprogram.
- Kwalifiserende graduandi sal eenjaarlidmaatskap en ʼn BA(SA)-benaming by SAIBA ontvang.
Volg hierdie skakel vir verdere inligting oor die SAIBA U²Pro-inisiatief.
Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (Financial Sector Conduct Authority – FSCA), voorheen bekend as die Raad op Finansiële Dienste (Financial Services Board – FSB), is die reguleerder vir die markgedrag van finansiële instellings wat finansiële produkte en dienste voorsien en gelisensieerd is ingevolge finansiëlesektor-wetgewing, insluitende banke, versekeraars, aftreefondse en administrateurs en ander finansiëlemark-infrastrukture. Die FSCA poog om die doeltreffendheid en integriteit van finansiële markte te verbeter en te ondersteun, en om finansiële klante te beskerm deur hul billike behandeling deur finansiële instellings te bevorder, asook om finansiële klante finansiële opvoeding te gee. Die FSCA help verder met die handhawing van finansiële stabiliteit in Suid-Afrika.
Finansiële diensteverskaffers, hulle sleutelpersone, verteenwoordigers en voldoeningsbeamptes moet voldoen aan die geskikte en behoorlike vereistes (fit and proper) volgens die FAIS-wet (Financial Advisory and Intermediary Services Act). Een van die vereistes is ʼn goedgekeurde minimum kwalifikasie wat aan die kandidaat die relevante kennis en vaardighede besorg om verantwoordelikhede ingevolge die FAIS-wet uit te voer. Die registrateur van die FSCA erken verskillende soorte kwalifikasies as toepaslik vir verskillende kategorieë van finansiëlediensteverskaffers, verteenwoordigers en sleutelpersone, asook vir verskillende soorte finansiële dienste en produkte.
Die insluiting van die BCom (Bestuursrekeningkunde) op die lys van erkende kwalifikasies ingevolge die geskikte en behoorlike vereistes, beteken dat studente wat die kwalifikasie voltooi het, voldoen aan die FAIS-wetlike vereiste vir ʼn kategorie I-IV- finansiële diensteverskaffer, verteenwoordiger, sleutelpersoon en voldoeningsbeampte.
Dit stel afgestudeerde studente in staat om in die finansiëledienstebedryf ʼn loopbaan te volg.
KWALIFISEER EK OM BCOM (REKENINGKUNDE) TE STUDEER?
MODULES
Alle modules in die BCom (Rekeningkunde)-program is verpligtend.
Die doel van Rekeningkunde I is om kennis en begrip by die student te ontwikkel van die onderliggende beginsels en konsepte met betrekking tot finansiële rekeningkunde en tegniese vaardigheid in die gebruik van dubbelinskrywing rekeningkundige tegnieke, insluitend die opstel van basiese finansiële state. Rekeningkunde I vorm die grondslag vir Rekeningkunde II en Rekeningkunde III wat uiteindelik die student blootstel aan ʼn wye verskeidenheid tegnieke, kennis en vaardighede in die tegniese veld van finansiële rekeningkunde.
Die doel van die Kommersiële Reg-module is om studente toe te rus met ʼn stewige grondslag ten opsigte van die algemene beginsels van Suid-Afrikaanse handelsreg, wat studente in staat sal stel om verwante teorieë binne die kommersiële en besigheidsomgewing toe te pas.
Ná voltooiing van hierdie module behoort studente in staat te wees om die breë elemente van ekonomie en ekonomie in beide ʼn praktiese en teoretiese konteks te konseptualiseer, asook om studente die basis te bied wat nodig is om na meer gevorderde ekonomie oor te gaan. Die kennis wat studente ten opsigte van ekonomie opbou, vorm die teoretiese begronding vir die program as geheel, maar ook meer spesifiek vir sekere modules wat swaar steun op die grondkennis van die impak van ekonomiese terme en teorieë.
Ná voltooiing van hierdie module behoort studente in staat te wees om ʼn data-analiseprojek van projekbeplanning tot ontplooiing met voortdurende verbetering te bestuur. Die student sal in staat wees om duidelike doelwitte te definieer, die data wat geskik is vir die projek in te samel en te evalueer, dataverkenning en -voorbereiding uit te voer, voorspellende modelle te bou en te valideer en bevindinge te kommunikeer. Studente sal ook leer om met belanghebbendes saam te werk om modelle te ontplooi en prestasiemonitering op te stel, modelle en prosesse voortdurend te verbeter op grond van terugvoer en nuwe data te verbeter en die belyning van ontledingsresultate met besigheidsdoelwitte en belanghebbendevereistes te verseker.
Die doel van die module is om kennis en begrip van bestuursrekeningkundige tegnieke te ontwikkel om bestuur te ondersteun in die beplanning, beheer en monitering van prestasie in ʼn verskeidenheid besigheidskontekste. Bestuursrekeningkunde I en Bestuursrekeningkunde II vorm saam deel van die groter geheel van bestuursrekeningkunde en prestasiebestuur vanuit ʼn interne perspektief van ʼn besigheid.
Die hoofdoel van hierdie module is om kennis en begrip van die besigheid, sy omgewing en sy mense bekend te stel. Die leerplan oorweeg die invloed van die omgewing op hoe ondernemings gestruktureer is, die rol van rekeningkunde en ander sleutelbesigheidsfunksies en hoe mense en hul interaksie met tegnologie, data en inligtingstelsels bydra tot die doeltreffende, volhoubare en etiese bestuur en ontwikkeling van ʼn onderneming.
Rekeningkunde II bou voort op die kennis van Rekeningkunde I met die doel om kennis en begrip van studente te ontwikkel in die gebruik en interpretasie van begrip en toepassing van IFRS- rekeningkundige standaarde en die teoretiese raamwerk vir finansiële verslagdoening in die opstel van finansiële state en uiteindelik die opstel van basiese groepstate, sowel as die ontleding en vertolking van finansiële state wat voldoen aan die vereistes van die regulatoriese raamwerk vir finansiële verslagdoening.
Die doel van hierdie module is om kennis en vaardighede van studente te ontwikkel in die toepassing van bestuursrekeningkundige tegnieke om prestasiebestuur van ʼn besigheid toe te pas. Bestuursrekeningkunde II bou voort op die kennis en vaardighede wat reeds in Bestuursrekeningkunde I opgedoen is.
Die doel van hierdie module is vir die student om ʼn gedetailleerde kennis en begrip te ontwikkel van maniere waarop ondernemings hul bedrywighede finansier, kontantvloei beplan en beheer, hul gebruik van bedryfskapitaal optimaliseer en hulpbronne aan langtermynbeleggingsprojekte toewys. Finansiële bestuur I vorm die eerste boublok in ʼn reeks boublokke wat studente benodig om ʼn volledige beeld te kan vorm van die basiese aspekte van finansiële bestuur in die korporatiewe omgewing. Finansiële Bestuur II volg op hierdie module en saam vorm die twee modules die wegspringblok wat benodig word om strategiese impak deur verantwoordelike finansiële bestuur in ʼn besigheid te maak.
Hierdie module ontwikkel basiese vaardighede deur studente se goeie kennis en vaardighede rakende ouditpraktyk en -teorie op te skerp. Hierdie module konseptualiseer basiese ouditbeginsels, die internasionale ouditstandaarde, interne beheer, korporatiewe bestuursbeginsels, etiese beginsels en statutêre aangeleenthede. Ná voltooiing van hierdie module kan studente hul kennis van die internasionale ouditstandaarde toepas in ʼn eksterne statutêre oudit van ʼn maatskappy wat goedere verhandel of dienste in Suid-Afrika lewer. Oudit I en Oudit II vorm saam ʼn geheel en bied die kennis en basiese vaardigheid wat van ʼn leerlingrekenmeester verwag word.
Die doel van hierdie module is om studente te voorsien van die noodsaaklike kennis rakende belasting vir individue en belasting vir besigheidsomgewings in Suid-Afrika. Belasting is ʼn omvattende veld wat blootgestel is aan gedurige verandering in die belastingwet en die impak daarvan op die belasbare inkomste van belastingpligtige persone. Belasting I en II gee studente ʼn breedvorige blootstelling aan kritiese konsepte van belasting wat benodig word om effektief ʼn bydrae te maak in praktyk.
Die doel van hierdie module is om kennis en vaardighede te ontwikkel in die begrip en toepassing van IFRS- rekeningkundige standaarde en die teoretiese raamwerk vir finansiële verslagdoening in die opstel van finansiële state van entiteite, insluitende groepe en hoe om daardie finansiële state te ontleed en te interpreteer. Rekeningkunde III bou voort op die kennis wat in Rekeningkunde I en Rekeningkunde II opgedoen is, en ontwikkel en pas dit verder en in groter diepte toe.
Die doel van die Finansiële Bestuur II is om die kennis en vaardighede wat van ʼn finansiële bestuurder verwag word, met betrekking tot beleggings-, finansierings- en dividendbeleidsbesluite te ontwikkel. Finansiële Bestuur II bou voort op die kennis van Finansiële Bestuur I, en is ontwerp om studente toe te rus met die vaardighede wat verwag word van ʼn finansiële bestuurder wat verantwoordelik is vir die finansiële funksie van ʼn besigheid.
Hierdie module ontwikkel studente se gevorderde vaardighede deur studente te voorsien van diepgaande kennis en vaardighede rakende ouditpraktyk en -teorie. Hierdie module konseptualiseer gevorderde ouditbeginsels, die internasionale ouditstandaarde en die ouditproses. Ná voltooiing van hierdie module kan studente hul kennis van die internasionale ouditstandaarde toepas in ʼn eksterne statutêre oudit van ʼn maatskappy wat goedere verhandel of dienste in Suid-Afrika lewer. Oudit II bou voort op Oudit I wat Oudit I ʼn voorvereiste vir Oudit II maak.
Belasting II bou voort op die kennis en vaardighede van Belasting I, en het ten doel om studente te voorsien van geïntegreerde en gespesialiseerde kennis rakende die belasting van maatskappye en natuurlike persone. Verder rus die module studente toe met die vermoë om komplekse belastingprobleme te identifiseer, te evalueer, krities na te dink, en aan te spreek deur teorie en wetgewende gedrewe argumente toe te pas.
Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met die nodige etiese en professionele kennis en vaardighede om hulle in staat te stel om hulself op ʼn etiese en professionele wyse in die werkplek te handhaaf.
ANDER INLIGTING
Die minimum tydsduur vir die program is drie jaar en die maksimum toelaatbare tyd vir die voltooiing van die program is sewe jaar.
Om in aanmerking te kom vir toelating word die volgende benodig:
- Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat graadstudies spesifiseer met ʼn toelatingspunt (TP) van 32 (Lewensoriëntering uitgesluit), met:
- Afrikaans 60%
- Engels 50%
- Wiskunde 60% en
- Rekeningkunde word aanbeveel.
- Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf (Universiteite Suid-Afrika) indien ʼn ander skoolverlaterkwalifikasie as NSS behaal is
- ʼn Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde met ʼn minimum gemiddeld van 65%
Let asseblief op dat meriete sal voorkeur kry vir toelating wanneer daar ʼn getalbeperking vir hierdie program geld.
OF
ʼn Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde (aan Akademia voltooi) met ʼn gemiddeld van 65% plus.
Hoe bereken ek my TP? Klik hier.
Programkoste vir 2025
Jaar een: R59 020 | Jaar twee: Vanaf R61 600 | Jaar drie: Vanaf R61 600
Handboeklyste vir 2025 word ná suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.
ALGEMENE INLIGTING EN GEREELDE VRAE
Wat is die doel van BCom (Rekeningkunde)
Die BCom (Rekeningkunde)-program is Akademia se antwoord op die Afrikaanse gemeenskap se oproep vir ʼn akademiese en Afrikaanse program wat die weg baan tot die gesogte titel: geoktrooieerde rekenmeester.
Wie is die ACCA?
Die ACCA staan vir die Association of Chartered Certified Accountants oftewel die Vereniging van Geoktrooieerde Gesertifiseerde Rekenmeesters in Afrikaans. Die ACCA is ʼn internasionale beheerliggaam vir geoktrooieerde rekenmeesters wat onlangs by IRBA (Independent Regulatory Board for Auditors) in Suid-Afrika geakkrediteer is as een van twee liggame wat ʼn roete bied na die oudit-spesialisasieprogram vir voornemende geregistreerde ouditeure. Dit beteken dat lede met die ACCA-titel (Associate Chartered Certified Accountant oftewel Assosiaat Geoktrooieerde Gesertifiseerde Rekenmeester) by IRBA kan aansoek doen vir lidmaatskap en registrasie as registered auditor (RA) oftewel geregistreerde ouditeur (GO) waarna hulle dan beide titels, naamlik ACCA, RA, agter hul name kan voeg.
Hoekom het Akademia besluit om by die ACCA-aansoek te doen vir die akkreditasie van die BCom (Rekeningkunde)?
Deur met die ACCA saam te werk (d.m.v. akkreditasie), bied Akademia aan die Afrikaansprekende gemeenskap ʼn alternatiewe akademiese roete om by geoktrooieerde rekenmeesterskap uit te kom. Nie net is dit die alternatief op die tradisionele roete wat by universiteite in Suid-Afrika beskikbaar is nie, dit bring jou dadelik en direk in die globale arena van rekenmeesters wat dwarsoor die wêreld bekend is. Dit beteken byvoorbeeld dat jou kwalifikasie dadelik sonder enige oorgangseksamens erken word.
Wat sal die ACCA-akkreditasie vir ons BCom (Rekeningkunde) beteken?
Die ACCA-akkreditasie sal vir Akademia se BCom (Rekeningkunde)-graduandi maksimum vrystelling van die ACCA- professionele eksamens bied. Studente sal voorkeurbehandeling by die ACCA geniet deur middel van Akademia se samewerking met die Suid-Afrikaanse ACCA-kantoor om die loopbaan tot geoktrooieerde rekenmeesterskap so glad en so spoedig moontlik te maak.
Wat behels die akkreditasieproses?
Akademia se BCom (Rekeningkunde)-program is spesifiek so ontwikkel om ten volle met die ACCA se modules en leeruitkomstes te belyn. Die ontwikkelingsfase is in samewerking met die Suid-Afrikaanse ACCA-kantoor aangepak om maksimum waarde en eenvormigheid daar te stel.
Die ACCA het ʼn streng en gedetailleerde proses wat gevolg word waarin voornemende vennote se programme geëvalueer word alvorens akkreditasie vir enige van die ACCA- professionele modules toegeken word. Buiten die toepaslikheid van die programstruktuur en -uitkomste, word daar noukeurig na ander aspekte van die volle BCom (Rekeningkunde)-program gekyk, insluitende volledige eksamenvraestelle wat deur BCom (Rekeningkunde)-studente afgelê sal moet word en uiteindelik werklik afgelê sal wees wanneer Akademia se eerste studente hulle derde jaar voltooi het. Omdat Akademia se program splinternuut is, moes daar vir die meeste van die program se modules voorlopige eksamenvraestelle opgestel word. Personeel van Akademia, in samewerking met eksterne konsultante, het vraestelle vir hierdie modules opgestel om aan die ACCA se vereistes te voldoen en dit dien tans by die akkreditasiekomitee van die ACCA.
Bestaande Akademia-modules wat reeds in ander programme is en wat aan die ACCA-vereistes voldoen, sal onmiddellik geakkrediteer word gebaseer op historiese inligting en afgehandelde vraestelle wat ingedien kon word. Aan die nuwe modules waarvoor voorlopige vraestelle opgestel moes word, sal voorlopige akkreditasie toegeken word. Hierdie voorlopige akkreditasie word dan volledige akkreditasie sodra die werklike vraestel wat studente skryf, en dus gepubliseer word, by die ACCA ingedien is vir finale hersiening en goedkeuring.
Die proses van akkreditasie by die ACCA is dus ʼn lang proses wat saam met elke eerste aanbieding van ʼn jaar van die BCom (Rekeningkunde) sal uitrol tot finale en volle akkreditasie vir alle relevante BCom (Rekeningkunde)-modules om maksimum vrystelling vir ACCA- professionele modules/vraestelle te bewerkstellig.
Daarna sal Akademia elke drie tot vyf jaar aansoek doen om die akkreditasie by die ACCA te hernu deur ʼn proses wat ʼn gedetailleerde hersiening van die inhoud van die BCom (Rekeningkunde)-program, historiese eksamens en ander vraestelle insluit. Dit beteken dat Akademia se BCom (Rekeningkunde)-program voldoen aan die hoë vereistes van die ACCA en dien dus ook as ʼn faktor wat gerusstelling bied aan die Akademia-gemeenskap en -alumni wat die gehalte en waarde van hulle kwalifikasies betref.
Akademia beplan om in die nabye toekoms die BCom (Rekeningkunde)-program ook op die kampusmodel uit te rol. Hou hierdie ruimte dop.
BLITSFEITE OOR DIE ACCA
- Die ACCA is in 1904 gestig om toegang tot die rekenmeestersprofessie te verbreed, die vereniging beywer hulle lank reeds vir insluiting en hulle ondersteun vandag met trots ʼn diverse gemeenskap van meer as 252 500 lede en 526 000 toekomstige lede in 180 lande.
- Die ACCA is wêreldwyd die voorkeurkeuse van werkgewers met ʼn Net Promoter-telling van +51,5 en 93% werkgewers wat saamstem dat die ACCA-kwalifikasie relevante vaardighede aan hul organisasies verskaf.
- Die ACCA is die kampvegter vir die rol wat die professie in die uitbou van volhoubare ekonomieë en organisasies speel deur die Accounting for a better world-inisiatief en hulle teenwoordigheid by COP28.
- Die ACCA het oudit-erkenning in Suid-Afrika en die Oekraïne verkry. Dit bied nuwe geleenthede vir geregistreerde ouditeurstatus vir ACCA-lede tesame met bestaande oudit-erkenning in die VK, Ierland en Zimbabwe.
- Hulle het die ACCA Study Hub wêreldwyd ontplooi, wat uitstekende studiemateriaal en leerhulpbronne aan studente en tutors dwarsoor die wêreld verskaf.
DOEN NOU AANSOEK OM BCOM (REKENINGKUNDE) TE STUDEER