BA (Algemeen)

Die BA (Algemeen)-program verskaf afgeronde en breë opleiding wat graduandi toerus met ʼn kennisgrondslag – wat insluit die toepassing van teorie en gebruik van metodologie – om inisiatief en verantwoordelikheid in ʼn akademiese konteks te kan neem. Die program begin op ʼn breë basis in die eerste jaar van studie, terwyl studente in die tweede en derde jaar van studie ʼn meer gespesialiseerde fokus ontwikkel. Die program het verder ten doel om studente toe te rus met kennis en vaardighede wat nodig is vir indiensneming of vir verdere studie op honneurs-, meesters- of doktorale vlak.

WAT KAN EK MET DIE BA (ALGEMEEN)-PROGRAM DOEN?

ʼn Klassieke vorming word in Akademia se BA (Algemeen)-program beklemtoon. Daar is ʼn noue verband tussen klassieke vorming en die wêreld van werk. ʼn Klassieke vorming – wat tot die verstand én hartstogte spreek – lei ʼn student op om met duidelikheid te kommunikeer en die verband tussen dinge te sien. Gevolglik is die BA (Algemeen)-program ʼn ideale tree na verdere gespesialiseerde opleiding.

WAT BEHELS DIE PROGRAM?

NKR-vlak 7

375 tot 409 krediete

SAKO-nommer: 123566

ONDERRIGLEERMODEL: Voltydse kampusmodel (Centurion-kampus)

KWALIFISEER EK OM BA (ALGEMEEN) TE STUDEER?

MODULES

Keusemodules (Kies ses uit die tien)

Die doel van die module is om studente op te lei in die studie van die taal- en letterkunde van Afrikaans en Nederlands deur middel van inleidings tot aspekte van die linguistiese en letterkundige samestelling van Afrikaans – ook in sy verhouding tot Nederlands. Daarom sal ʼn kort oorsig gegee word van die verskillende komponente van die taalkunde van Afrikaans en van sy geskiedenis. Om die student voor te berei vir die akademiese diskoers oor Afrikaans sal normatiewe besinning oor die gebruik van Afrikaans deel vorm van die kursusinhoud in die eerste jaar. In die letterkundekomponent word verteenwoordigende poësie-, prosa- en dramatekste bestudeer in die raamwerk van ʼn oorsig oor die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en van die sentrale temas en poëtiese raamwerke daarvan. Studente sal ook opgelei word in die vakkundige lees en ontleding van tekste.

In hierdie module word die geografie van Israel en die antieke Nabye-Oosterse streek en belangrike argeologiese ontdekkings vanuit die Bybelse tydperk bestudeer. Hierdeur ontvang studente ʼn grondige kennis van die wyer historiese en kulturele agtergrond tot Bybelse narratiewe van beide die Ou en Nuwe Testament.

Hierdie is ʼn inleidende module waarin die student blootgestel word aan sommige van die belangrikste vrae wat in die filosofie bestaan, met ʼn fokus op die metafisiese, antropologiese en etiese grondslae van Klassieke en Middeleeuse filosofie. Die module het eerstens ten doel om filosofiese vrae en verwante sleutelterme bekend te stel en poog dan om vrae te beantwoord deur die studie van verskeie filosofieë uit die Klassieke en Middeleeuse tydperke. Só word die dinamiese aard van filosofie as ʼn dissipline aan die student gedemonstreer. Verder lê hierdie module die grondslag in terme van die inhoud sowel as die gereedskap wat vir verdere studie in die dissipline benodig word.

Die module fokus eerstens daarop om studente bewus te maak van die basiese kompleksiteite van geskiedskrywing en hoe die verlede op verskillende wyses vertolk kan word. Die klem verskuif dan na die belangrike temas in die internasionale geskiedenis en hoe dit ʼn rol in die vorming van ʼn moderne Suid-Afrika gespeel het. Temas wat hier aan die orde kom sluit in die opkoms van wêreldryke, Europese uitbreiding en die slawehandel. Die module fokus ook op die vroeë beginjare van ʼn moderne Suid-Afrika – die sogenaamde prekoloniale Suid-Afrika. Daar word ook op die vestiging en ontwikkeling van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap, sowel as die vroeë fases van Britse heerskappy aan die Kaap gefokus. Die verhoudings tussen onderskeie groepe mense, die uitbreiding na die binneland, die vestiging van die Boererepublieke en die gevolge van die ontdekking van minerale word ook in hierdie module ondersoek.

Hierdie module stel studente bekend aan die teorieë en praktyke van globale politiek, die aard van die globale politieke arena, akteurs, kwessies en internasionale reg se regulering van globale politiek. Konsepte soos “globaal”, “internasionaal” en “transnasionaal” bevestig ʼn veelvlakkige benadering tot die ontleding van globale politieke ekonomie, die volhoubaarheid van die globale gemenebes en menslike veiligheid. Die module oordink die toekoms van multilaterale bestuur, die “internasionale-globale-debat” en die impak van globale politiek op die mensdom.

Die doel van hierdie module is om studente aan die Latynse taal bekend te stel en die grondslag vir die begrip van Latynse grammatika, woordeskat en sintaksis te lê. Studente ondersoek ook aspekte van die Romeinse geskiedenis, kultuur en mitologie wat hulle in staat stel om die historiese konteks en nalatenskap van die Latynse taal te verstaan. Die doel is verder om ʼn basiese vaardigheid in die lees, skryf en vertaling van Latyn te ontwikkel. Studente word vertroud met noodsaaklike Latynse grammatika, insluitend naamwoordverbuigings, werkwoordvervoegings en sinstruktuur. Aan die einde van die module behoort studente in staat te wees om eenvoudige Latynse tekste te lees en basiese grammatikale konstruksies te verstaan.

Die doel van hierdie inleidende module is om studente te voorsien met ʼn grondliggende begrip van die aard, omvang en toepassings van mediastudies, die historiese ontwikkelings wat die media gevorm het (spesifiek binne die Suid-Afrikaanse konteks), ʼn vaste begrip van die rol van media in die samelewing, asook kennis van sleutelteoretiese benaderings tot die bestudering van die media. Studente word verder toegerus met mediageletterdheidsvaardighede om ʼn verskeidenheid mediaboodskappe te verken.

Hierdie inleidende module in Politiek fokus op die basis van politieke wetenskap deur studente te lei om konsepte, teorie, modelle, ideologieë en breë politieke strukture te verstaan en te begin toepas om sin te maak van spesifieke politieke gevallestudies. Konsepte en teorie – wat definisies van politiek, die staat, politieke stelsels en owerheidsvorme, partystelsels, kiesstelsels, die verdeling van magte en staatsvorme insluit – word ook toegepas op voorbeelde vanuit die Suid-Afrikaanse politiek.

Die veld van sielkunde as wetenskap is ʼn uiters omvangryke dissipline. Die doel van hierdie module is om ʼn bondige oorsig te gee van wat Sielkunde as vakgebied behels. Die Biopsigososiale model word as grondslag vir die module gebruik. Hierdie benadering berus op drie hoofaspekte, soos aangedui deur die naam self: die biologiese, psigologiese en sosiale aspekte van menslike funksionering. Die doel van hierdie module is nie net om ʼn wetenskaplik gefundeerde kennisbasis in Sielkunde te bied nie, maar ook om die ontwikkeling van verskeie vaardighede – wat van waarde sal wees in verdere studie in die dissipline – te fasiliteer.

Hierdie module stel die sentrale en grondbeginsels van visuele kultuur bekend deur na die sleutelmomente van sy oorsprong te kyk. Dit verwys na die verhouding tussen die visuele en kultuur, en die verhouding tussen kuns, kunsgeskiedenis en visuele kultuur, sowel as visuele kultuur in verhouding tot kunsvlyt, volkskuns en populêre kultuur. Tesame met die vasstelling van grondbeginsels, word studente bekendgestel aan die mediums en platforms waarop visuele kultuur manifesteer. Sodoende word die vraag gevra oor “hoe” visuele kultuur verskyn en realiseer. Hierdie mediums en platforms kan insluit advertensies, film, televisie, kuns, fotografie, ontwerp, argitektuur, videospeletjies en skermkulture. Die module stel studente ook bekend aan die “hoekom” en “wat” van visuele kultuur deur idees en ideologieë te verken. Onderwerpe sluit idees in skopiese regimes, okulsentrisme, die blik, die panoptikon, ikonoklasme, ikonofobie en ikonofilie en die samelewing van die skouspel. Ideologieë wat die interpretasie, kodifikasie en uitpak van visuele kultuur inlig, is identiteite (ras, geslag, klas en vermoë), mites en argetipes, afgode en ikone, en bekendes en personas.

Keusemodules (Kies ses uit die nege)

Die doel van hierdie module is om aan studente ʼn grondige kennis van die beroepsgeskiedenis van die verskillende geografiese terreine van die antieke Nabye-Ooste te gee. Dit sluit in die kennis en ʼn begrip van antieke Nabye-Oosterse kultuurgroepe, volke en ryke wat die Bybelse wêreld van beide die Ou en Nuwe Testament beïnvloed het. Dit sluit die studie van die Sumeriërs, Akkadiërs, Egiptenare, Filistyne, Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete, Jebusiete, Assiriërs, Babiloniërs, Perse, Fenisiërs, Grieke en Romeine in.

Die doel van hierdie module is om studente in staat te stel om insig te verkry in en kennis te beskryf, van die sleutelfigure, bewegings, beginsels en teorieë wat verband hou met moderne filosofie, insluitend vroeë moderne Italiaanse filosofie, en die Britse, Franse en Duitse Verligting, om studente in staat te stel om oplossings vir relevante probleme binne moderne filosofie te formuleer.

In hierdie module word studente in staat gestel om groot veranderinge in die samelewing, beide internasionaal en plaaslik, te verstaan. Hierdie veranderinge was dikwels gewelddadig en het gebreek met tendense wat dit voorafgegaan het.

Studente word gelei om oor kontinuïteite en diskontinuïteite na te dink. Verskeie temas van die agtiende tot die twintigste eeue word oorweeg, soos globalisering, die kolonisering van Afrika, Groot Mag-wedywering en die tydperk van die Eerste Wêreldoorlog tot die Tweede Wêreldoorlog. In ʼn plaaslike konteks word die volgende temas in die tydperk van 1886 tot 1948 oorweeg: die ontdekking van diamante en goud, gebeure rondom die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902), Uniewording (1910), Suid-Afrika se betrokkenheid by die Eerste Wêreldoorlog, die ekonomiese depressie van die vroeë 1930’s, die armblankevraagstuk, Afrikanernasionalisme, en die opkoms van die Nasionale Party en swart politieke organisasies tydens die eerste helfte van die twintigste eeu.

Deur ʼn studie van dié temas word die student van die basiese kompleksiteite van Suid-Afrikaanse geskiedskrywing bewus gemaak.

Hierdie module verdiep studente se kennis oor en insig van globale politiek en bied aan studente ruim geleentheid om ʼn dieper begrip van vier onderling verwante temas te verkry, naamlik buitelandse beleid, diplomasie, multilateralisme en globale politieke ekonomie. Studente ondersoek die waarde van teoretiese raamwerke vir die ontleding van die interne en eksterne determinante van buitelandse beleid, die organisasies wat multilaterale samewerking versterk en die impak van die wettige en onwettige globale politieke ekonomie op mense en hul omgewing.

Die doel van hierdie module is om studente se begrip van Latynse grammatika en sintaksis te verdiep terwyl hulle aan meer komplekse Latynse tekste bekendgestel word. Romeinse kultuur en geskiedenis word verder verken, met ʼn fokus op literêre sleutelfigure en hul werke. Studente se vaardigheid in die lees, skryf en vertaling van Latyn word verbeter. Studente lees ook ʼn breër reeks Latynse letterkunde, insluitend poësie, redevoering en geskiedskrywing, wat hulle in staat stel om die rykdom van die Latynse literêre tradisie te waardeer.

Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met diepgaande kennis van en insig in mediaregulering deur na te dink oor die teoretiese en normatiewe grondslae van media-etiek en -regulering in Suid-Afrika. Om dit te bereik, fokus die module op beste praktyk en bied dit ʼn oorsig van mediabeleid en -regulering, en kontemporêre etiese kwessies en debatte. Studente word verder aangemoedig om media-eienaarskap te oorweeg en hoe die media individue en groepe verteenwoordig. Die module rus studente toe met kennis, praktiese vaardighede en insig om as deurdagte en oordeelkundige mediapraktisyns te funksioneer binne die etiese en regulatoriese raamwerke wat die bedryf in Suid-Afrika rig.

Hierdie module dien as ʼn intermediêre basis waaruit die studie van politiek verder ontwikkel word as politieke wetenskap en politieke teorie in die konteks van ʼn spesifieke tradisie. Die module het gevolglik twee breë kategorieë: (i) Vergelykende Politiek en (ii) Politieke Teorie. Studente word in die eerste helfte van die module toegerus om politiek as ʼn wetenskap te verstaan wat sistematies op politieke probleme toegepas kan word. In die tweede helfte van die module word politiek as teorie bestudeer. Hier is die studie van politieke teorie ook die studie van die geskiedenis van politieke denke.

Hierdie studie word gedoen teen ʼn agtergrond waarin die aard van politiek verken word en handeling telkens van politieke denke onderskei word. Gevolglik word die aktiewe lewe, of Vita Activa, en die beskouende lewe, of Vita Contemplativa van mekaar onderskei. Anders as in die geval van politiek as wetenskap in die eerste helfte van die module (waarin politieke probleme bestudeer word), is daar die erkenning in die tweede helfte van die module dat politieke teorie as die geskiedenis van politieke denke en handeling ook deur ʼn misterie onderlê word wat nie in die styl van politieke probleme bestudeer kan word nie.

Hierdie module bestaan uit ʼn studie van ontwikkelingsielkunde en personologie. Ontwikkelingsielkunde is die tak van sielkunde wat die sistematiese kontinuïteit en veranderinge bestudeer wat ʼn in ʼn individu in die loop van ʼn leeftyd plaasvind. Studente word gelei om ʼn begrip te ontwikkel van die basiese konsepte en meganismes inherent aan die proses van menslike ontwikkeling oor ʼn leeftyd heen. Menslike ontwikkeling is ʼn voortdurend ontwikkelende strewe wat verskeie funksioneringsdomeine behels, soos fisiese, kognitiewe, psigologiese en sosiale domeine wat binne verskeie ontwikkelingstadia van ʼn leeftyd manifesteer. Die hoofklem van hierdie module is op normale groei en ontwikkeling wat goed geïntegreerde teoretiese en wetenskaplike kennis insluit, gebaseer op die mees onlangse navorsing vir die beskrywing, verduideliking en selfs voorspelling van menslike handelinge, gedrag, groei en funksionering. Nie net is die verkryging en integrasie van hierdie inhoud waardevol om ons begrip van menslike gedrag in die algemeen te verbeter nie, maar is dit ook waardevol om die student te lei om krities oor hul eie ontwikkeling en groei te besin.

In die studie van personologie word studente in die tweede helfte van dié module gelei om te verstaan dat die konsep “persoonlikheid”, in interpersoonlike interaksie met mense en groepe, dikwels in die kern van die begrip en voorspelling van menslike funksionering en gedrag is. Persoonlikheid is ʼn unieke en konsekwente gedragspatroon wat kenmerkend is van almal. In die bestuur en optimalisering van interpersoonlike verhoudings is dit waardevol om te verstaan wat persoonlikheid is en hoe iemand se persoonlikheid funksioneer en ontwikkel. Gevolglik is persoonlikheidsteorieë pogings om die struktuur te verstaan en ʼn wetenskaplike basis aan pogings om mense se gedrag en optrede te verstaan, te verduidelik. Personologie fokus op ʼn studie van die siening van die mens, ontwikkeling van persoonlikheid, psigopatologie en optimale funksionering in verskeie teoretiese benaderings.

Hierdie module het ten doel om uit te brei op die grondbeginsels van visuele kultuurstudies deur te fokus op geselekteerde temas soos die menslike subjek, ruimte, plek en landskappe. Die tema van die menslike subjek stem ooreen met kontekstualisering van die self, terwyl die tema van ruimte, plek en landskappe die onderwerp uitbrei om die self binne die wêreld te situeer. Hierdie twee onderwerpe, self en wêreld, is waarskynlik die belangrikste aspekte van die ondersoek en uitbreiding van die studie van visuele kultuur.

Die onderwerp van die menslike handel oor die voorstellings van die menslike gesig, identiteit, status en konteks met ʼn lang tradisie in die meeste kulture. Deur op die menslike onderwerp te fokus, word studente bekendgestel aan die genres waarin die menslike onderwerp algemeen uitgebeeld word, soos portrette, fotografie en sosiale media. Terselfdertyd word die omvang verskraal deur na spesifieke tydperke en eras te kyk en te vra watter sosiopolitieke vrae en estetika die uitbeeldings beïnvloed. Die doel is om historiese tydperke, genres en voorstellings te bestudeer tot die jongste kritiese evaluerings van die mens, insluitend postmenslike, niemenslike en transmenslike verkennings. Die onderwerp van ruimte, plek en landskap word vervolgens bespreek waarin die subjek in die wêreld gesetel is deur die kritiese teoretiese verkennings van ruimte en plek. Dit is veral in die landskap as genre dat idees oor ruimte en plek visueel onthul word. Die genre van die landskap word uitgebrei om kontemporêre Antroposeen-debatte oor die aarde en buiteaardse omgewings in te sluit soos dit in die hedendaagse media uitgebeeld en verbeeld word.

Keusemodules (Kies drie uit die sewe)

Ná voltooiing van hierdie module sal studente in staat wees om ʼn diepgaande insig te demonstreer in die studie van Bybelse argeologie, soos dit betrekking het op Israel se belangrikste argeologiese terreine, en vondste wat die Bybelse wêreld van beide die Ou en Nuwe Testament in konteks plaas. Dit sluit in die studie van argeologiese terreine en vondste in die Noorde en Suide van Israel en die kus van die Middellandse See.

Die doel van hierdie module is om studente in staat te stel om insig te verkry in en ʼn geïntegreerde kennis te verkry van die sleutelfigure, bewegings, beginsels en teorieë wat verband hou met kontemporêre filosofie, insluitend Marxisme, Kritiese Teorie, vroeë fenomenologie, kontemporêre fenomenologie en Suid-Afrikaanse intellektuele geskiedenis. Dit stel studente in staat om wesensvrae te opper en oplossings vir relevante probleme binne kontemporêre filosofie te formuleer.

Die doel van hierdie module is om studente in staat te stel om belangrike historiese tendense en kragte in Suid-Afrika en die wyer wêreld gedurende die laaste deel van die 20ste eeu (wat tot die 21ste eeu gelei het) te verstaan. Studente word gelei om ʼn selfstandige begrip van die kompleksiteit van historiese prosesse te demonstreer en word bewus gemaak van hoe geskiedenis op verskillende vlakke van die samelewing kan afspeel. Die volgende temas word oorweeg: Amerika as ʼn wêreldmoondheid, die jeugprotes van die 1960’s en 1970’s, die dekolonisasieproses in Afrika en elders, asook die ineenstorting van die USSR en die opkoms van China. In ʼn plaaslike konteks word die volgende temas oorweeg: Afrikanerheerskappy (1948 tot 1994) en die ekonomiese en sosiaal-kulturele implikasies daarvan, swart politieke reaksie, die Grensoorlog en die politieke oorgang van die 1990’s.

Die doel van hierdie module is om studente bekend te stel aan die debatte, kwessies en uitdagings wat mediastudies in die hedendaagse samelewing onderlê, insluitend hoe die media ideologie en openbare diskoers vorm. Teen hierdie agtergrond ontwikkel die module studente se kritiese en analitiese vaardighede verder om media se rol in die samelewing te oorweeg en te evalueer, mediageskiedenis te skryf en basiese navorsing in mediastudies te doen.

Politiek 3 stimuleer analitiese en kritiese denke en bied in-diepte ontledings van vier onderling verwante temas, naamlik demokrasie, openbare beleid, Afrika se interne en eksterne verhoudings, en globale kwessies. Die module moedig studente aan om teoretiese raamwerke en ʼn multivlakbenadering toe te pas terwyl inligting ontleed, evalueer en vergelyk word. Dit is die doel van hierdie module om studente se vermoë te versterk om met selfvertroue te kommunikeer en hul eie oplossings te verdedig vir die kwessies en krisisse wat gemeenskappe konfronteer.

Hierdie module bestaan uit ʼn studie van psigopatologie en psigofortologie. Die studie van psigopatologie is ʼn wye area binne sielkunde. Die samelewing is vol wanopvattings, oordele en vooroordeel rakende geestesgesondheidskwessies. Die doel van die studie van psigopatologie is om die student die geleentheid te bied om ʼn beter begrip van hierdie veld te verkry. Die inhoud hiervan fokus op die identifisering van psigologiese versteurings of abnormale gedrag. Studente verwerf die kennis om verskillende psigologiese afwykings te identifiseer en te verstaan, en om psigopatologie/psigologiese versteurings te konseptualiseer met behulp van die toepaslike etiologiese modelle, teoretiese perspektiewe en kriteria. Aandag word ook gegee aan moontlike beskermende en risikofaktore, kliniese beskrywings en diagnostiese kriteria vir sielkundige afwykings.

Psigofortologie is ʼn vinnig groeiende veld in sielkunde wat fokus op sielkundige gesondheid en welstand. In die tweede helfte van hierdie module word daar erken dat hoewel gesondheid as optimale funksionering gedefinieer word, die hooffokus van navorsing en onderrig in sielkunde vir baie jare op siektes en afwykings was. Die doel van die studie van psigofortologie is om ʼn werkbare balans in mensbeskouing terug te bring en om wetenskap in die bevordering van welstand, sterkpunte en welstand aan te wend, in teenstelling met die normale fokus op patologie, simptome en afwykings. Psigofortologie fokus op die optimalisering van menslike funksionering en florering, en is geposisioneer as die wetenskap van psigologiese sterkpunte, soos die aard, patrone, manifestasies, oorsprong, dinamika en verbeterings van sterkpunte op individuele, groep- en gemeenskapsvlakke.

Die doel van hierdie module is om die ondersoek na die studie van visuele kultuur af te sluit deur betrokke te raak by kritiese en invloedryke diskoerse en debatte wat tans die veld vorm. Studente word blootgestel aan die noodsaaklike teorieë, ook om hulle van die kennis en vaardighede te voorsien om primêre navorsingsprojekte uit te voer deur geselekteerde benaderings en metodologieë te implementeer. Die verkenning sluit die nuutste veld van digitale geesteswetenskappe in met ʼn fokus op visuele kultuur. In die afdeling vir gevorderde diskoerse en debatte word die kritiese teorieë en idees wat die studie van visuele kultuurvorm, ondersoek. Dit kan verteenwoordigende tekste en teoretici in modernisme, postmodernisme en die daaropvolgende intellektuele “draaie” insluit, bv. die linguistiese wending, die pikturale wending, die ikoniese wending en die ontologiese wending. Die ondersoek kan ook huidige kwessies, soos affekteteorie, die dekolonisering van visie en interseksionaliteit, insluit.

Die volgende afdeling oor benaderings en metodologieë het ten doel om studente toe te laat om hul kennis en vaardighede toe te pas om ʼn basiese literatuuroorsig of gedeelte van ʼn navorsingsvoorstel saam te stel. Die prosedures en metodologieë wat die mees geskikte en relevant is vir visuele kultuurstudies word bekendgestel. Dit kan kritiese ikonologie, visuele hermeneutiek, sosiale semiotiek, vergelykende en diskoersanalise insluit. In die laaste deel van die module word studente blootgestel aan die nuutste navorsing en idees oor die navorsing van digitale visuele kultuur deur te fokus op die fundamentele konsepte wat digitale geesteswetenskappe vir visuele kultuur onderlê. Dit sluit in die verkenning van die interpretasie, dokumentasie en argivering van beelde vir digitale beeldargiewe.

Verpligte module

Die kernintegrasieprojek dien as ʼn samevatting van ʼn student se studie in die program BA (Algemeen) en is ontwerp om te verseker dat studente die verskillende teorieë uit hulle kerndissiplines integreer. Die module is uiteraard selfbesinnend en stel studente in staat om toevallige of teenstrydige teorieë binne die verskillende dissiplines te identifiseer. Studente ontvang in hierdie module studieleiding om ʼn navorsingsvoorstel en artikel te voltooi.

ANDER INLIGTING

Die minimum tydsduur vir die program is drie jaar en die maksimum toelaatbare tyd vir die voltooiing van die program is sewe jaar.

  • ʼn Nasionale Senior Sertifikaat wat graadstudie spesifiseer met 50% vir Afrikaans.
  • ʼn Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf indien die aansoeker ʼn ander skoolverlaterkwalifikasie as ʼn NSS behaal het.
  • ʼn Hoër sertifikaat in ʼn ooreenstemmende studieveld.

Besoek die betalingsopsies-blad vir die nuutste programkostes.

Handboeklyste word ná suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.

DOEN NOU AANSOEK OM VIR BA (ALGEMEEN) TE STUDEER

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.