Gepubliseer op: 25 September 2025
Soos ʼn tapisserie waarin die drade van die verlede, hede en toekoms kunstig verweef is, drapeer die Akademia-syserp die beeld van die instelling se kampusdroom om die skouers van alle afgestudeerde studente. Dit is nie nét bloot ʼn sieraad nie, maar ʼn tasbare simbool van verbondenheid, gemeenskap en ʼn hoopvolle toekoms. Die serp vertel die storie van die vestiging en uitbouing van ʼn klassieke instelling wat nie net in baksteen, beton en studentegetalle geskryf word nie.
Só verwoord Monica Mynhardt, voorsitter van die instelling se alumni-komitee, die rasionaal vir en simboliek van die eerste handelsmerkproduk in samewerking met dié komitee, naamlik die syserp. Hierdie serp is tydens ʼn onlangse alumni-ontbytgeleentheid by die instelling se Leriba-kampus in Pretoria onthul en sal eersdaags beskikbaar wees vir aankoop*. Die onthulling het gepaard gegaan met die bekendmaking dat ʼn gedeelte van die serp se aankoopprys aan die instelling se skenkingsfonds geskenk sal word om by te dra tot die 2028- wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria.
Mynhardt verduidelik dat argiteksketse van dié voorgestelde kampusinfrastruktuur op die serp aangebring is om nie nét die droom grafies vas te vang nie, maar ook simbolies die hartsbegeerte van die Akademia-gemeenskap uit te beeld. Hierdie hartsbegeerte neem die vorm van ʼn hoopvolle en trotse geborgenheid en tuiskoms aan. “Dit maak nie saak hoe jou reis as alumnus aan jou alma mater gestalte gekry het, óf waar jy jou studiereis aangepak het nie. Ons is elkeen deel van die groter Akademia-droom en daarom óók pioniers vir die uitbreiding van die instelling,” verduidelik Mynhardt. Sy voeg by dat elke alumni-voetspoor en storie ten nouste verweef is met dié van die instelling. Gedagtig hieraan moedig sy mede-alumni aan om as die serp, wanneer dit beskikbaar gestel word, aan te koop en só op ʼn elegante manier ʼn ambassadeur te word van hul alma mater se klassieke universitêre nalatenskap van groei, hoop en toekomsgereedheid.
Sy sluit af deur te sê dat alhoewel die instelling ʼn uitgebreide geografiese voetspoor het, sy hartklop ritmies in elke alumnus se hart en lewe pols. “Ons sal dalk nie self op die nuwe kampus studeer nie, maar ons voetspore het hiernatoe gelei. Om ʼn afgestudeerde student te wees spreek tot ʼn trotse voorreg wat deur harde werk en deursettingsvermoë vermag word. Jou status as alumnus verteenwoordig soveel meer as net ʼn kwalifikasie, dit spreek tot ʼn lewensvormende ervaring en ʼn lewenslange verbondenheid aan ʼn gemeenskap van eensgesinde toekomsbouers”.
Is jy ʼn Akademia-alumnus? Indien wel, besoek die alumni-webwerf en word deel van jou alma mater se dinamiese alumni-gemeenskap deur jou besonderhede by te werk, jou suksesverhaal met ons te deel óf op welke ander wyse betrokke te raak. Of laat hoor van jou deur ʼn e-pos te stuur na alumni@akademia.ac.za. Hou Akademia se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor die syserp.
*Besoek gerus Die Winkel se aanlyn platform of kom loer gerus in by die inloopwinkel op die Leriba-kampus.
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.