Alumni-komitee kyk terug op hul eerste seisoen van diens

Gepubliseer op:  1 Oktober 2025

ʼn Jaar het verloop sedert Akademia sy eerste alumni-komitee in die lewe geroep het. Sedertdien het dié komitee van trotste oud-Fonties, onder die leiding van Monica Mynhardt, hul opgelegde taak (wat oor twee dienstermyne strek) soos pioniers van ouds aangepak en hulle kyk terug op ʼn eerste dienstermyn propvol waardetoevoegende groeigeleenthede en -aktiwiteite.

Die komitee bestaan, naas Mynhardt, uit:

  • Marzelle Vonk, sekretaris
  • Megan Galvin, projekte
  • Lindy du Preez, kommunikasie

Volgens Mynhardt is dit vir haar en die komiteelede lekker om ná ʼn jaar te kan sê dat hulle feitlik alles wat hulle by uitstek beplan het om te vermag, reggekry het. Dié doelwitte vorm volgens haar die gesonde grondslag waarop daar voortgebou kan word, nie net vir die komitee se volgende termyn nie, maar ook vir toekomstige alumni-leiers. “Dit was vir ons ʼn prioriteit om in ons beplanning en uitvoering terug te gaan na die kern en ʼn dinamiese alumni-netwerk te bou deur ons Fontie-alumni beter te leer ken, betroubare inligting in te samel en onsself van die alumni se behoeftes en eietydse tradisies te vergewis,” verduidelik Mynhardt.

Verbondenheid as die komitee se sleuteldoelwit

Die hoeksteen van die komitee se jaarbeplanning het op die kweek van ʼn verbondenheidskultuur gerus, en Mynhardt verduidelik dat dié verbondenheid die spil verteenwoordig waarom lewenslange lojaliteit en trots draai.

Gedagtig hieraan het die komitee hulself daartoe verbind om op geleenthede voort te bou, of te skep, om met alumni in gesprek te tree. Hierdie geleenthede versterk die komitee se hande en stel hul in staat om ʼn beter geheelbeeld van die instelling se uitgebreide alumni-netwerk te kry. Inisiatiewe wat tot hierdie strategiese fokus spreek sluit in:

  • Alumni-nuusbrief

Dié nuusbrief wat kwartaalliks verskyn het dit ten doel om alumni nie nét in te lig oor verwikkelinge by hul alma mater nie, maar óók om suksesverhale vanuit dié gemeenskap te deel. Hierbenewens word geleenthede vir voortgesette leer, spesiale netwerkgeleenthede en praktiese adviesartikels deur Akademia-kundiges aan lede voorgehou. Klik gerus hier om as alumnus jou inligting by te werk en só op die nuusbrief se verspreidingslys te kom. Alumni kan ook via die webblad hulle eie suksesverhaal met die instelling deel.

  • Webinare en netwerkgeleenthede

Verskeie webinare is reeds oor die bestek van die jaar gehou, en verteenwoordig ʼn nuwe inisiatief deur die komitee. Tydens diesulke geleenthede word Akademia-kenners genader om oor relevante onderwerpe soos onder meer goeie beleggingspraktyk, effektiewe belastingbestuur, hoe om kritiese vrae in die werkplek te vra en goeie geestesgesondheid te gesels.

ʼn LinkedIn-netwerkgeleentheid vroeër vanjaar het ook aan deelnemers die geleentheid gebied om hul professionele teenwoordigheid op dié platform te verhoog. Hou gerus die alumni-webblad en Akademia se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor die volgende webinare en netwerkgeleenthede.

  • Spesiale gebeurlikhede

Vanjaar se alumni-gebeurlikheidskalender was propvol en lede kon byvoorbeeld vir die eerste keer aan die instelling se Fontie-spele deelneem. ʼn Alumni-span het hulself behoorlik op die netbalbaan laat geld en daar heers reeds groot opgewondenheid oor volgende jaar se spele.

Alumni in die Pretoria-omgewing het ook byeengekom vir ʼn gesellige ontbyt, terwyl finalejaar-Fonties, wat eersdaags by die alumni-netwerk aansluit, in Bloemfontein, George en die Paarl ook saamgekuier het.

Die komitee sal in 2026 hul aandag daarop fokus om meer geleenthede in die Wes-Kaap aan te bied, om groter alumni-betrokkenheid in terme van die Toekomsbouer-veldtog aan te moedig, en om eiesoortige alumni-handelsmerkprodukte beskikbaar te stel.

Om te meet is om te weet

Die instelling se betrokkenheids- en kommunikasiepeiling, wat tot en met die einde-Oktober beskikbaar is vir alumni om te voltooi, is nóg ʼn veer in die komitee se hoed. Mynhardt verduidelik dat dié dataprojek van stapel gestuur is om elke alumnus die geleentheid te bied om hul voorkeure te kommunikeer. Op hierdie manier kan geleenthede pasgemaak word en só verseker dat die tuiskomservaring van elke oud-Fontie positief en impakvol is. Hierdie projek sal in 2026 verder uitgebrei word.

Die komitee se harte bokspring van opgewondenheid oor die toekoms

Die komiteelede is dit eens dat dit hul opgewonde maak kom te sien hoe ʼn uiteenlopende groep alumni almal ewe tuis is by hul alma mater en hoe hulle daarna hunker om steeds betrokke te wees.

“Dit is só lekker om te sien hoe elkeen van Akademia se alumni ʼn stukkie tot die fondasie van die instelling bydra en op die manier, ongeag die vorm of fase van hul betrokkenheid, tot die hart van die instelling spreek,” meen Mynhardt. Sy voeg by dat dit ʼn voorreg is om eerstehands te ervaar hoe afgestudeerde Fonties in hul alma mater terugploeg op dieselfde manier waarop die instelling hulle gevorm het. “En hoe spesiaal is dit nie deur betrokkenheid in ʼn posisie te wees om te mag dien nie? Dit maak nie saak in watter ontwikkelingsfase jy as alumnus verkeer nie, jou deelname en passie maak van jou ʼn Akademia-ambassadeur en só help bou jy aan ʼn hoopvolle toekoms, nie nét vir jou alma mater nie, maar ook vir jou gemeenskap,” sê Mynhardt.

Op die vraag wat hulle droom vir Akademia se alumni-gemeenskap is, antwoord die viertal eenparig: om oud-Fonties in staat te stel en te begeester om trots hul plek in te neem binne die intergenerasionele verbondsverhouding waarbinne Akademia as klassieke gemeenskapsinstelling bestaan.

Akademia se eerste alumni-komitee kyk trots terug op hul eerste diensjaar. Van links is Lindy du Preez, Megan Galvin, Marzelle Vonk en Monica Mynhardt.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.