Akademia: ʼn Plek waar tuiskoms nomadiese onverbondenheid vervang

Gepubliseer op: 1 Junie 2025

Geskryf deur prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademia by Akademia.

Enkele dekades gelede het Franse geleerdes geskryf dat ons era – die era van die globalisme – óók as die tydperk van die nomade beskryf kan word. Maar wat is die era van die nomade?

Volgens dié betrokke Franse is dit ʼn era waarin die mens nie hom- of haarself op ʼn bepaalde plek of plekke vestig, daarin tuiskom en dit ook verbou nie. Laasgenoemde verwys na plekke soos ʼn eie woning, ʼn eie stad of ʼn eie land.

In die era van die nomade is die mens eerder iemand wat telkens weer sy of haar tentpenne optrek en verder trek. “Vestiging”, “tuiskoms” en “bou” is nie deel van die nomadiese lewenstyl nie. Eerder die teendeel, die nomadiese lewe is ʼn lewe waarin die vestiging op en tuiskoms in ʼn bepaalde plek as ʼn hindernis op sy nomadiese beweeglikheid ervaar word. As hy of sy op ʼn bepaalde oase tuiskom, is dit hoogs tydelik van aard. Die nomade moet altyd verder trek.

In vele opsigte is die era van die nomade ʼn era waarin grense as ʼn lastigheid ervaar word. Ten diepste strewe die nomade na ʼn grenslose toestand. En dit sluit nie nét die grense tussen plekke soos eie wonings, stede en lande in nie. ʼn Egte nomade is ook iemand wat grense tussen identiteite, tussen tale en kulture, tussen godsdienste, tussen geslagte, ensovoorts, oorskry. Grense van welke aard ook al lê sy of haar beweeglikheid aan bande, dit vertraag sy of haar spoed. Daarom moet daarmee weggedoen word.

Onderliggend aan die nomade se weerstand teen begrensde dinge is dat dit die mens daaraan verbind. Begrensde dinge soos ons eie plekke, identiteite en godsdienste roep mense op om dit te dien; daarvoor te sorg, aan hul sake deel te neem. En dít is presies wat ʼn nomade afwys. ʼn Egte nomade is ʼn onverbonde wese. Groter verbintenisse as die mens self en sy of haar eie beweeglikheid moet vermy word. Die era van die nomade is ook die era van onverbondenheid. Slegs as jy onverbonde is, kan jy werklik ʼn beweeglike lewe lei, sê die nomade.

In die era van die nomade is dit selfs van universiteite waar. Tydens die afgelope globalistiese dekades oefen die idee van die mens as nomade ʼn groot invloed op universiteite uit. Universiteite verstaan hulself dikwels as sentra wat nomades in die wêreld uitstuur, dit is mense wat slegs ʼn “hoë mobiliteit” bo-oor tradisionele grense handhaaf.

In die era van die nomade is universiteite dan ook nie meer tot die strewe na ʼn vaste en onveranderlike ding soos die waarheid verbind nie. Vir universiteite om nog daartoe verbind te wees, beteken dat hulle nog tussen dinge soos waarheid en valsheid kan onderskei. In ʼn era van grensloosheid is dit egter nie meer moontlik nie. In só ʼn era is alles vloeibaar, veranderlik, sonder enige stabiliteit. Ook die grense tussen die ware en die valse is vloeibaar. G’n wonder nie dat die era van die nomade ook dikwels as die era anderkant die waarheid beskryf word (ʼn post-waarheid-era).

Maar is dit alles ʼn korrekte beskrywing van ons era? Verskeie waarnemers van ons tyd wys daarop dat die era van die globalisme onder ernstige druk staan; en dat hedendaagse mense eerder verkies om weer hulself op bepaalde plekke te vestig, daarin tuis te kom en dit ook ter wille van die nageslag uit te bou. In plaas daarvan om soos ʼn nomade alles agterweë te laat en ʼn onverbonde bestaan te voer, soek die hedendaagse mens eerder ou verbintenisse op – met die eie dorp en land, maar ook met die eie identiteite, die eie tale, tradisies en godsdiens.

Ten diepste, sê die hedendaagse mens, is daar nie sin te vind in die onverskilligheid van die nomadiese lewenstyl nie. Ons as mense is sinsoekers, en ons vind dit in die stilstaan by, die luister na en die deelname aan die oeroue bindinge. Ons is eerder tuiskommers en bouers as dat ons ontvlugters en ontduikers is.

Die nuwe sin vir plek en identiteit vind ook vandag (in die era anderkant die nomade) uitdrukking in die universiteitswese. In die besonder vind dit uitdrukking in universiteite wat vandag weer tot die strewe na die waarheid verbind is. Die uitgangspunt is duidelik: Universiteite is sinvolle plekke in die mate waarin hulle weet hoe om tussen die ware en die valse te onderskei (maar ook tussen dinge soos die goeie en die slegte; die mooie en die lelike). Sonder die strewe na waarheid word die sin onder universiteite weggeslaan. Maar met dié sin word universiteite weer plekke van sinvolle deelname, roeping en selfs (in aansluiting by die oudste denkers uit ons geestesgeskiedenis) plekke waar ʼn hoë geluk moontlik is.

Akademia is só ʼn plek – ʼn plek waar die nomadiese onverbondenheid met ʼn tuiskoms in die hoogste ideale van die universiteitswese vervang word. Akademia is Afrikaans en tuis in die universiteitswese.

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademia by Akademia, verduidelik dat die instelling ʼn plek is waar die nomadiese onverbondenheid met ʼn tuiskoms in die hoogste ideale van die universiteitswese vervang word.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.