Akademia-taalkompetisie vier Afrikaans én vernuftige woordmeesters

Gepubliseer op: 26 Mei 2025

Afrikaans vier vanjaar 100 jaar as ʼn amptelike taal en Akademia voeg trots sy stem by vele ander Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe om dié besonderse mylpaal te herdenk. Een van die maniere waarop die instelling feesvier is deur die bekendstelling van sy eerste Woordmeesters-taalkompetisie in trotse samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en Pretoria FM as mediavennoot.

Dié kompetisie sal deelnemers uitdaag om hul kennis van Afrikaans – van spelling tot betekenis – op die proef te stel. En op dié manier sal taalfundi’s, slimkoppe én woordvrate meeding om as die ware meesters van ons moedertaal gekroon te word. Só, as jy jou idiome én spelreëls soos die palm van jou hand ken, en jou in die fynere nuanses van die taal verkneukel, spits jou ore en bult jou taalspiere. Wie weet? Dalk stap jy op Afrikaanse Taaldag, op 14 Augustus 2025, weg as een van die kompetisie se eerste woordmeesters én met ʼn lekker kontantprys.

Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, verduidelik dat deelname aan die Woordmeesters-taalkompetisie nie net verbeterde taalbegrip en -gebruik aanwakker nie, maar óók help om Afrikaans aktief as onderrigtaal te onderhou en doelgerig te ontwikkel. “Hierdie kompetisie delf dieper in die wetenskap en tegniese aard van die taal, en dit is lekker om ook by wyse van hierdie benadering die veelheid van Afrikaans te kan geniet,” meen Swanepoel. Sy voeg by dat in die lig hiervan ʼn woordmeester iemand is wat verstaan waarom woorde op ʼn sekere manier saamgestring, gebruik én gepraat word.

Vir Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA, is dit vir dié digitale maatskappy belangrik om aktief in die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te werk, plaaslik én internasionaal. “Deur VivA se betrokkenheid by hierdie taalkompetisie word die verskeie gemeenskappe waaruit die taal ontstaan het, gevier,” verduidelik Coetzee. Sy voeg by dat inisiatiewe soos hierdie nie net Afrikaans as moedertaal versterk nie, maar ook die bande tussen die verskillende sprekers van die taal. Terselfdertyd word die taal lewendig, relevant en gemeenskapsgedrewe gehou.

Pretoria FM, mediavennoot van die kompetisie, sê by monde van Belinda Pieterson, regs- en nakomingsbestuurder, dat as ʼn Afrikaanse gemeenskapsradiostasie, Pretoria FM, aktief verbind is tot die bevordering en behoud van Afrikaans as ʼn groeiende en dinamiese taal. “In die eeufeesjaar van ons moedertaal is dit vir Pretoria FM ʼn besonderse voorreg om by hierdie inisiatief betrokke te wees,” meen Pieterson.

Neem só deel

Belangstellendes kan in een van drie kategorieë meeding, naamlik:

  • Skoolleerders vanaf graad tien tot twaalf;
  • Studente verbonde aan enige hoëronderwysinstelling; en
  • Lede van die breë publiek.

Om in aanmerking te kom vir een van die pryse, wat óók kontant insluit moet deelnemers aanlyn via die Akademia-webblad registreer*. Ná afloop van die registrasieproses sal deelnemers ingeskakel moet bly op Pretoria FM en luister vir die taalwenke wat op Maandae en Woensdae vanaf 2 Junie vir vyf weke uitgesaai sal word. Hierdie weeklikse taalwenke sal deelnemers voorberei vir die aanlyn taaltoets (daar sal vyf toetse in geheel wees) wat elke Vrydag gestel sal word. Gereelde kommunikasie sal deelnemers op hoogte hou van die beskikbaarheid van elke nuwe taaltoets.

Die eerste taalwenk, soos verskaf deur VivA, sal op Maandag 2 Junie op die lug gedeel word, en sal op Vrydag 6 Junie met ʼn taaltoets opgevolg word. Hierdie verloop sal vir vyf weke volgehou word tot en met die aankondiging van die topdriedeelnemers in elke kategorie op Vrydag 11 Julie. Die finale ronde sal 14 Augustus op Akademia se Leriba-kampus gehou word.

ʼn Trotse inisiatief vanuit Akademia se L-E-E-S-projek

Swanepoel verduidelik dat die Woordmeesters-taalkompetisie doelgerig by die instelling se
L-E-E-S!-projek inskakel. Dié projek, wat vroeër vanjaar bekendgestel is, verteenwoordig ʼn dinamiese samewerking met verskeie ander lede en inisiatiewe vanuit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Die oorhoofse doel van hierdie projek is om leervaardighede en taalbegrip, veral onder skoolgaande kinders, te bevorder aan die hand van verskeie pret aktiwiteite en kompetisies asook die beskikbaarstelling van nuttige hulpbronne ter ondersteuning van die taalleerervaring.

“Die Woordmeesters-taalkompetisie skep ʼn platform vanwaar die gemeenskap aktief by taalaktiwiteite betrokke kan raak en sodoende hul vermoë om die taal as huistaal, akademiese én gesprekstaal te verbeter,” sê Swanepoel. Sy sluit af deur die borge van die kompetisie, Wolkskool, Skryfnet en Afrikaans.com vir hul betrokkenheid te bedank.

Hou gerus Akademia se Facebook-blad dop vir meer inligting.

*Klik hier vir die bepalings en voorwaardes soos dit met die kompetisie verband hou.

Afrikaans vier in 2025 sy eeufees as amptelike taal. Akademia, as trotse Afrikaanse hoëronderwysinstelling, voeg trots sy stem by dié feesviering en gedenk Afrikaans as hartstaal, gesprekstaal én akademiese taal met die Woordmeesters-taalkompetisie.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.