Akademia-skenkingsfonds: Só neem jou ondersteuning ewigheidswaarde aan

Gepubliseer op: 11 Maart 2025

Dertien jaar ná Akademia sy deure vir klasgee oopgemaak het, geniet dié onafhanklike Afrikaanse hoëronderwysinstelling ʼn bloeitydperk wat groei en vestiging betref. Nie nét het die instelling vanjaar méér as 3 800 Fonties* – voltyds op kampus én nauurs oor afstand – in sy midde verwelkom nie, daar word ook opgewonde uitgesien na gróót geografiese uitbreidings. Laasgenoemde sluit in die vestiging van ʼn satellietkampus in die Wes-Kaap in 2026 én die ontwikkeling van ʼn omvattende residensiële kampus met die oog op 2028 in.

Die instelling se droom van ʼn wêreldklas kampus en moedertaalstudietuiste in Pretoria neem doelgerig vorm aan en dié kampusontwikkelingsprojek, wat in samehang met Kanton gedryf word, neem in 2025 opwindende afmetings aan. Daar is veral drie prioriteitsareas wat aandag geniet, naamlik ontwerpsontwikkeling, massagrondwerke en kapitaalwerwing. Laasgenoemde kapitaalwerwing, by wyse van die Toekomsbouerveldtog, sal die baan weg vir die konstruksiefase wat in 2026 ʼn aanvang sal neem.

Volgens Zander Botha, skenkingsfondsbestuur: Akademia-skenkingsfonds, neem bydraes wat tot dié fonds gemaak word – in die lig van die omvang van die kampusontwikkelingsprojek, ewigheidswaarde aan. Hy verduidelik dat skenkings wat op hierdie wyse vir en vanuit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe gemaak word nie net ʼn blywende nalatenskap verteenwoordig nie, maar óók lewenskragtigheid aan die ontwikkelingsproses bied.

“In ʼn wêreld waar individue soveel verskillende geleenthede het om hul geld vir hulself te laat werk, is dit verblydend om te ervaar hoe die deug van verantwoordelike rentmeesterskap steeds gedy,” vertel Botha. Hy voeg by deur te verduidelik dat ware welvaart nie slegs opgesluit is in persoonlike wins nie, maar in die nalatenskap waarop daar voortgebou word vir toekomstige geslagte. In die geval van die Akademia-skenkingsfonds verteenwoordig dié nalatenskap volhoubare en impakvolle gehalte onderrig in Afrikaans.

Hiermee dertien blitsfeite oor die Akademia-skenkingsfonds:

  1. Die Akademia-skenkingsfonds is ʼn fonds wat bestaan uit ʼn versameling van finansiële bates / kapitaal wat aan die instelling geskenk word.

  2. By wyse van die Akademia-skenkingsfonds word daar gepoog om langtermyn- finansiële volhoubaarheid vir die instelling te bewerkstellig. Die fonds is daarop gerig om studente, fakulteite en projekte te ondersteun, soos nou die geval is met die ontwikkeling van die wêreldklas kampus in Pretoria.

  3. Deur hande te vat met Kanton word daar ʼn dinamiese vennootskap tussen kultuur en kapitaal geskep en só word daar nie net fisiese strukture opgerig nie, maar word die intellektuele en kulturele erfenis van Afrikaans bewaar.

  4. Elke bydrae tot die Akademia-skenkingsfonds is ʼn belegging in die uitbouing en bewaring van die Afrikaanse universiteitswese.

  5. Enige skenkingsbedrag is welkom en die fokus van die skenkingsfonds is om Akademia as ʼn gemeenskapsinstelling vir en vanuit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te bevorder.

  6. Eenmalige skenkings sal die instelling help met onmiddellike en dringende behoeftes, soos byvoorbeeld die bou van nnie-kommersiële fasiliteite soos byvoorbeeld sportinfrastruktuur.

  7. By wyse van ʼn maandelikse bydrae kan individue oor tyd ʼn gereelde skenking maak wat die instelling sal help om ʼn stabiele inkomste te handhaaf en só projekte volhoubaar aan te pak. Hierdie opsie stel skenkers in staat om hul bydraes gemaklik oor ʼn tydperk te versprei.

  8. ʼn Legaat of erflating in jou testament is nóg ʼn manier om ʼn bydrae te maak. Dit verseker dat jou nalatenskap voortleef in die uitbouing van Afrikaanse hoër onderwys vir toekomstige geslagte, sonder dat jou huidige finansiële posisie beïnvloed word.

  9. Die Akademia-skenkingsfonds bied jou voorts die geleentheid om jou skenking aan ʼn spesifieke ontwikkelingstaak soos die ontwikkeling van bykomende programme toe te ken. Hierdie keuse gee aan jou die gemoedsrus dat jou bydrae presies volgens jou wens aangewend sal word.

  10. Ongespesifiseerde skenkings gee aan die instelling die vryheid om jou skenking aan te wend waar dit die nodigste is, en sal voorts help om algemene ontwikkelingskoste te delg.

  11. Hoe jy ook al besluit om tot dié fonds by te dra, jy sal kwalifiseer vir belastingaftrekkings by wyse van ʼn artikel 18A-belastingsertifikaat. Die Akademia-skenkingsfonds is ʼn erkende Openbare Weldaadorganisasie (OWO) met artikel 18A-status, wat ons daarom in staat stel om aan ons donateurs ʼn artikel 18A-belastingsertifikaat uitreik. Dit stel individue, maatskappye en trusts in staat om hul skenkings aan Akademia tot ʼn maksimum van 10% van hul belasbare inkomste af te trek, soos bepaal deur die Inkomstebelastingwet.

  12. Die bankbesonderhede vir bydraes tot die Akademia-skenkingsfonds is:
    Kampus Trust IT 1807/12
    Eerste Nasionale Bank
    Rekeningnommer: 62857561445
    Takkode: 210554
    Verwysing: Jou selfoonnommer

  1. Vir meer inligting besoek die Akademia-webblad of stuur gerus ʼn e-pos na skenking@akademia.ac.za

“Uit bogenoemde blitsfeite is dit duidelik dat dit maklik is om betrokke te raak, en op dié wyse verdere momentum aan die kragtige impak van samehorigheid en ʼn gedeelde toekomsvisie te bied,” sê Botha. Hy sluit af deur te vra dat as jy aan die dag van môre dink – aan die toekoms van jou kinders, kleinkinders en selfs agterkleinkinders, watter hoed jy dra? Is jy ʼn toeskouer wat onbetrokke vanaf die kantlyn toekyk, óf is jy ʼn toekomsbouer wat jou moue oprol, saam droom én aktief bou?

Zander Botha, skenkingsfondsbestuur: Akademia-skenkingsfonds, meen bydraes wat tot dié fonds gemaak word neem ewigheidswaarde aan veral gegewe die omvang van die Toekomsbouer-veldtog.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.