Search
Close this search box.

Akademia-seminaar fokus op etiese besluitneming en verantwoordbare leierskap

Gepubliseer op: 26 September 2024

Die Departement Bestuurswetenskappe aan Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het onlangs ʼn baie insiggewende seminaar oor etiese besluitneming en verantwoordbare leierskap aangebied. Dié seminaar, wat op Vrydag 20 September 2024 by die Leriba-kampus in Centurion plaasgevind het, het dit ten doel gehad om die departement se verbondenheid tot hierdie goeie korporatiewe besigheidsbeginsels te beklemtoon.

Volgens Elize-Mari Coetzer, departementshoof van Bestuurswetenskappe, het die seminaar die fokus op beide akademiese begronding én praktyk geplaas as belangrike rigtingwysers om die uitdagende realiteite van etiese vraagstukke te navigeer. Coetzer vergelyk hierdie realiteite met ʼn doolhof wat uit ʼn stelsel van allerlei gange en kronkelpaaie bestaan. “Om die regte besluite te neem, veral in die besigheidskonteks, is nie altyd maklik óf voor die hand liggend nie, maar eerder kompleks,” verduidelik Coetzer. Hiervan getuig die woorde van die bekende Amerikaanse-skrywer, Roy T. Bennet, wat as inleiding tot die seminaar aangehaal is: “Doen wat reg is, nie wat maklik of populêr is nie.”

Akademia-kundiges en -dosente in Bestuurswetenskappe, Bernard Odendaal en dr. Rina Steynberg, het die seminaar begin deur elk ʼn kort akademiese begronding te lewer. Hierdie begronding het die tafel gedek vir gespreksvoering oor die praktiese toepassing van etiese besluitneming en verantwoordelike leierskap in die praktyk. Laasgenoemde is deur praktyksleiers, dr. Pierre le Roux en Hendrik Steynberg, behartig. Le Roux is die besturende direkteur: Moyo Business Advisory en Steynberg die adjunkpresident: Voorsieningsketting by Sasol.

Al die sprekers was dit eens dat gegewe vandag se dinamiese besigheidslandskap, die handhawing van ʼn sterk etiese-aard en verantwoordbare leierskap nie net noodsaaklike besigheidspraktyke verteenwoordig nie, maar ook as ʼn groot strategiese voordeel dien. Etiese gedrag vorm die grondslag van enige vertrouensverhouding wat oor die lang termyn vrugte sal dra – nie net vir werknemers en kliënte nie maar alle belanghebbendes. Hiermee saam kan besighede wetlike en finansiële slaggate vermy en só hul reputasie beskerm en versterk.

Die jaarlikse Bestuurswetenskappe-seminaar het op etiese besluitneming en verantwoordbare leierskap gefokus. Die sprekers het ingesluit, van links: dr. Pierre le Roux (direkteur: Moyo Business Advisory), dr. Rachel Maritz (dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), Bernard Odendaal (dosent: Bestuurswetenskappe), dr. Rina Steynberg (dosent: Bestuurswetenskappe), Hendrik Steynberg (adjunkpresident: Voorsieningsketting by Sasol) en Elize-Mari Coetzer (departementshoof: Bestuurswetenskappe).
 
Salomien Boshoff, vakhoof en dosent in Bestuurswetenskappe, het die paneelbespreking ná afloop van die seminaar behartig. Hier is sy in gesprek met Bernard Odendaal (dosent: Bestuurswetenskappe) en dr. Pierre le Roux (direkteur: Moyo Business Advisory).