Akademia saai toekomsdrome met die bekendstelling van sy Landbouskenkingsfonds

Gepubliseer op:  2 Oktober 2025

Die onafhanklike hoëronderwysinstelling, Akademia, het op Donderdag 2 Oktober 2025 verdere stukrag aan sy voorneme om tot die landbouopleidingsarena toe te tree verleen deur ʼn strategies-gefokusde landbouskenkingsfonds in die lewe te roep. Dié fonds, ter ondersteuning van die instelling se voorgestelde landboustroom, vorm deel van sy 2028- wêreldklas kampusontwikkeling in die ooste van Pretoria. Laasgenoemde ontwikkeling verteenwoordig ʼn dinamiese en geskiedkundige samewerking* tussen Akademia en die eiendomsbeleggingsmaatskappy, Kanton.

Die bekendstelling van die Akademia-landbouskenkingsfonds is gemaak tydens die OBARO-gholfdag wat by die Silver Lakes-gholfklub in Pretoria-Oos aangebied is. OBARO, as kommersiële agrimaatskappy, ondersteun met trots hierdie inisiatief as een van die eerste vennote.

“OBARO glo in meer as net suksesvolle oeste, ons glo in die ontwikkeling van die jeug en die bou van ‘n volhoubare landboutoekoms. Laasgenoemde sluit in die uitbouing en versterking van die landbouwaardeketting en die vestiging van kundigheid binne dié sektor,” sê Nic Bronkhorst, hoof-uitvoerendebeampte van OBARO. Hy voeg by dat Akademia se visie ten nouste hiermee belyn is en daarom is dit vir dié agrimaatskappy ‘n hartsaak om saam met sy gewaardeerde kliënte en vennote hierdie inisiatief te ondersteun.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, spreek die doelstelling van die fonds direk tot die instelling se begronding, naamlik om ʼn akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms. “Deur die daarstelling van dié fonds erken Akademia die uiters kritieke rol wat landbou speel, nie nét wat voedselvoorsiening betref nie, maar óók in terme van ekonomiese stabiliteit, volgehoue werkskepping en die doelgerigte ontwikkeling van gemeenskappe dwarsoor die land,” sê Visser.

“By wyse van dié fonds sal Akademia help om te verseker dat toekomstige generasies op ʼn roepingsgedrewe manier as landboukundiges opgelei word wat hierdie sektor, as een van die hoekstene van die Suid-Afrikaanse ekonomie, se volhoubaarheid en impak positief sal versterk,” meen Visser.

Dit is volgens Visser die instelling se strewe om teen 2030 jaarliks om en by 250 nuwe eerstejaarstudente in verskeie landbouprogramme op die Pretoria-kampus te verwelkom. Die uiteindelike droom is om ʼn omvattende aanbod binne ʼn uitgebreide landboudissipline daar te stel wat wissel vanaf hoër sertifikate tot en met doktorale studiegeleenthede. In die lig hiervan word die volgende programme tans beplan en ontwikkel:

  • BAgric (Landbou)
  • BSc (Landbouwetenskappe)
  • Hoër Sertifikaat in Diereproduksie
  • Hoër Sertifikaat in Gewasproduksie

Die fonds sal oor die lang termyn ook aangewend word vir die uitbouing van akademiese navorsing in landbou-ekonomie, volhoubare boerderypraktyk asook landboubestuur.

Só sal die Landbouskenkingsfonds daaruit sien

Volgens Visser beoog die instelling om by wyse van dié fonds ʼn totaal van R78 miljoen in bevestigde skenkings of formele verbintenisse te verseker. Hierdie kapitaal sal die volledige ontwikkeling en gepaardgaande instandhouding van onder meer ʼn toegewyde proefplaas vir navorsing, praktykgerigte opleiding én die ontsluiting van vindingryke asook toekomsgerigte landboupraktyke insluit.

Die proefplaas word vir fase twee van die kampusontwikkeling geoogmerk, en sal in Januarie 2028 ʼn aanvang neem. Dit word voorsien dat dié fase tot en met Desember van dieselfde jaar sal duur. Volgens Visser word die beoogde ingebruikneming van die proefplaas vir Januarie 2029 in die vooruitsig gestel.

Oorkoepelend, sal die fonds ook deur toegewysde fases tot die volgende strategiese prioriteite spreek:

  • studiebefondsing en -ondersteuning
  • akademiese program- en kurrikulumontwikkeling
  • daarstelling van implemente, toerusting en digitale tegnologieë vir praktiese leerervarings
  • ereleerstoele en die bevordering van akademiese navorsing

Gemeenskapsbetrokkenheid as ʼn belegging in Afrikaanse landbouopleiding

“Akademia is ʼn gemeenskapsinstelling en dit is vir ons belangrik om hande te vat en die toekoms tesame en op ʼn hoopvolle wyse te betree,” sê Visser en voeg by dat deur betrokke te raak, gemeenskappe, ondernemings en individue kan help om ʼn generasie vaardige, roepingsgedrewe landboukundiges op te lei wat die sektor se volhoubaarheid en veerkragtigheid kan versterk.

Betrokkenes geniet as skenkers ook verskeie voordele, waaronder:

  • belastingvoordele aan die hand van die uitreiking van ʼn artikel 18A-sertifikaat
  • skepping van ʼn blywende nalatenskap
  • toegang tot toekomstige gehalte Akademia-landboustudente en -kennis

“Betrokkenheid in terme van die Landbouskenkingsfonds spreek tot soveel méér as net ʼn daad van ondersteuning,” sê Visser en verduidelik dat dit in wese ʼn strategiese belegging in die toekoms van landbou, die Afrikaanse universiteitswese asook die gemeenskap verteenwoordig.

* Klik hier vir meer inligting oor die Toekomsbouer-veldtog.

Die Akademia-landbouskenkingsfonds is op 2 Oktober 2025 tydens die OBARO-gholfdag in Pretoria aangekondig. Nic Bronkhorst, hoof-uitvoerendebeampte van OBARO, skud blad met Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. Dié agrimaatskappy is ʼn trotse ondersteuner en vennoot van hierdie toekomsgerigte inisiatief.
Akademia beplan om teen 2030 sy eerste groep landboustudente op sy wêreldklas kampus in Pretoria te verwelkom. Dié kampus sal oor ʼn moderne proefplaas beskik waar praktiese vaardighede en tegnologiese kennis geslyp sal word met die oog op vindingryke landboubestuur en volhoubare praktyke.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.