*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia verwelkom nuwe koordirigent, Hano van der Walt

Gepubliseer op:  10 Maart 2026

Daar is mense wat musiek maak, en dan is daar diegene wat hul musikale talente gebruik om ruimtes te skep waarbinne musiek nie nét as ʼn vorm van vermaak gedy nie, maar ook ʼn vormingsrol aanneem. Akademia se nuwe* Pretoria-koordirigent, Hano van der Walt, is só ʼn musikant. Van der Walt, wat met die ingang van 2026 by die instelling aangesluit het, glo dat koorsang die goue draad is wat klank, karakter en gemeenskap met mekaar verweef.

“Die Akademia-koor, as ʼn jong koor, het soveel potensiaal, en ek is opgewonde oor die geleentheid om doelgerig op Afrikaanse musiek te fokus. Laasgenoemde is ʼn voorreg wat al skaarser word in vandag se koorwêreld,” sê Van der Walt. Hy voeg by dat hy daarna uitsien om saam met die koor die werke van ou en nuwe komponiste vlerke te gee en só verder aan die Afrikaanse kultuurerfenis te bou.

Passie wat reeds van kindsbeen af aangewakker is

Volgens Van der Walt, ʼn boorling van Rustenburg in Noordwes, is sy liefde vir musiek reeds in sy kinderjare aangewakker. Hy onthou goed hoe sy ma hom as ʼn graadeentjie gevra het watter musiekinstrument hy graag sal wil bespeel. Die antwoord? Die viool, natuurlik! Van der Walt vertel laggend dat sy ma – gedagtig aan die skrilbklanke van ʼn beginnerviolis – hom oorreed het om eerder agter die klavier in te skuif. Die res is soos hulle sê, geskiedenis.

In graad 3 het hy vir die eerste keer sy buiging in die skoolkoor gemaak, onder leiding van Attie Russouw. Op hoërskool het hy die voorreg gehad om kennis te maak met die befaamde koordirigent, Ralf Smith. Smith is vandag die koordirigent van die wêreldbekende Ndlovu-jeugkoor. “Onder Smith se leiding as koordirigent het ek vir die eerste keer ʼn solostuk gelewer én het ek in my matriekjaar die geleentheid gehad om die koor van agter die klavier te begelei,” vertel Van der Walt. Nóg ʼn leermeester in dié tyd, was Madeleen Koch wat aan hom die kans gegee het om, ook in sy matriekjaar, self met die koor te kon werk. Volgens Van der Walt het hierdie ervaringe en mentorskap sy passie vir koormusiek laat ontvlam.

ʼn Keerpunt: Toe word my roeping duidelik

Van der Walt vertel dat, soos menigte ander kunstenaars, hy aanvanklik besluit het om ná skool ʼn “meer praktiese en volhoubare” loopbaanrigting te volg. En só het hy oudiologie aan die Universiteit van Pretoria (UP) as studierigting gekies. Nadat hy egter aanvaar is vir die Tuks Camerata-koor, onder leiding van dr. Michael Barrett, het ʼn nuwe wêreld vol moontlikhede vir hom oopgegaan.

Drie weke later het hy tot die besef gekom dat hy geroepe is vir ʼn loopbaan in musiek en het hy van studieprogram verander – ʼn besluit waaroor hy nog nie een dag spyt is nie. Van der Walt het gevolglik sy studie in klavier as hoofinstrument onder die leiding van Megan-Geoffrey Prins voltooi. “Tydens my studie het my denkwyse oor musiek, en die omvang en impak daarvan, ingrypend verander en sedertdien word dié bewustheid en passie net sterker,” meen Van der Walt.

Ervaring en vorming

Reeds in sy tweede studiejaar is Van der Walt as assistentdirigent van die Camerata-koor aangestel, en het hy waardevolle ervaring opgedoen in repetisietegniek en dirigering. Hy vertel voorts dat internasionale kooroptredes, samewerking met hoog aangeskrewe ensembles en optredes by van die grootste koorkonferensies ter wêreld hom as kunstenaar en individu gevorm het. Die impak van koormusiek as ʼn kunste- en gemeenskapsboublok het ook vir hom duidelik geword.

Hierdie vormingsreis is verder verdiep deur mentorskap deur verskeie vooraanstaande dirigente, soos onder meer Renette Bouwer, asook praktiese ervaring as begeleier én dirigent by verskillende kore regoor Gauteng.

Die waarde van koorsang

Vir Van der Walt is koorsang soveel méér as net nóg ʼn buitemuurse aktiwiteit. “Koorsang vra dat die ek (ego) stil word, en dat daar met die hart geluister word – na jouself, na ander en na die allesomvattende veelheid van klank,” verduidelik Van der Walt.

Volgens hom leer koorsang studente verskeie vaardighede, waaronder:

  • spanwerk;
  • verantwoordelikheid;
  • estetiese sensitiwiteit;
  • verbeterde luistervaardighede;
  • ʼn sin vir uitnemendheid; en
  • dissipline.

ʼn Jaar propvol hoogtepunte

Akademia se koorkalender sorg elke jaar vir verskeie hoogtepunte, en vanjaar sal geen uitsondering wees nie. Geleenthede waarna daar uitgesien kan word sluit in optredes by die instelling se kapeldienste, die Akademia-koorfees en deelname aan verskeie kompetisies en spesiale optredes. Laasgenoemde sluit in deelname aan die Monumentale Koorfees en ʼn optrede saam met die Ierse Claddagh-koor later vanjaar.

Die jaarlikse koorkamp bied voorts aan lede ʼn geleentheid om opwindende nuwe tradisies te begin, terwyl reeds gevestigde en eiesoortige tradisies voortgesit word.

“Die Akademia-koor streef nie nét uitnemendheid na nie, maar dien óók as ʼn vormingsbousteen in die klassieke sin: Dit gee uiting aan die ware, die goeie en die skone en skep ʼn belewenis wat die denke én die hart raak,” sluit Van der Walt af.

*Van der Walt volg in die voetspore van Franco Prinsloo, wat vir vyf jaar as dirigent van die Akademia-koor opgetree het. Onder Prinsloo se leiding het die koor gegroei vanaf slegs ʼn handjievol studente na ʼn volwaardige koor met méér as 60 lede. Akademia wens Prinsloo alles van die beste toe, en bou dankbaar voort op die grondslag wat hy vir die koor geskep het.

Hano van der Walt is met die ingang van 2026 as die nuwe dirigent van die Akademia-koor aangestel. Van der Walt is opgewonde om saam met die koor die werke van ou en nuwe komponiste te verken en só te help bou aan die Afrikaanse kultuurerfenis.
Die Akademia-koor bestaan uit meer as 60 lede.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.