*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia-hoogleraars verleen statuur en lewenskrag aan Afrikaanse universiteitswese

Gepubliseer op:  9 Februarie 2026

Vir Akademia verteenwoordig die 2026-kalenderjaar ʼn grootse en geskiedkundige hoofstuk in dié onafhanklike hoëronderwysinstelling se vestigingsverhaal. Derhalwe doelgerigte groei, die aanvang van klasse by die Paarl-kampus in die Wes-Kaap asook die toevoeging van verskeie nuwe akademiese programme, het die instelling ook pas bekendgemaak dat hy voortaan die titel van hoogleraar aan gerekende en bewese akademici gaan *toeken.

Dié amp is die hoogste akademiese posisie binne Akademia, en verteenwoordig die toppunt van akademiese erkenning. Die hoogleraars sal elk, as ʼn uitdrukking van hul akademiese kundigheid en ervaring, ʼn intreerede oor die verloop van die jaar lewer.

Hoogleraars beliggaam akademiese vorming

Volgens prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, verleen hoogleraars verdere akademiese gesag tot ʼn hoëronderwysinstelling omdat hulle oor sowel uitnemende akademiese kennis as lewenservaring, wysheid en insig beskik. Hy verduidelik dat ʼn hoogleraar gevolglik op ʼn voortreflike wyse die gedagte van akademiese vorming soos in die klassieke universiteitswese beliggaam.

“Die amp beliggaam nie nét verdere akademies-visioenêre leierskap nie, maar ook vorming met betrekking tot onderrig en leer, navorsing, die studentelewe en ook ʼn roepingsbesef met betrekking tot akademiese leiding en diens aan die gemeenskap,” sê Goosen.

Gedagtig aan die klassieke aard en doel van Akademia, word ʼn hoogleraar aan die volgende eienskappe geken:

  • Strategiese visie en diensleierskap;
  • ʼn Voortreflike kennis en meesterskap van sy of haar eie dissipline;
  • ʼn Onblusbare toewyding aan en soeke na die waarheid, die goedheid en die skoonheid van die werklikheid;
  • ʼn Goedgevormde karakter met ʼn diepe deugdebegronding;
  • ʼn Doseerervaring en bewese onderrigbekwaamheid;
  • Die beoefening en bevordering van akademiese vryheid deur middel van deelname aan die oop gesprek; en
  • ʼn Diepgewortelde erkenning van intellektuele gesag.

ʼn Belangrike grondslag vir ʼn skeppende akademiese kultuur

Goosen voeg by dat Akademia vir sy eie akademiese aantrekkingskrag en statuur van die gesaghebbende amp van hoogleraar afhanklik is. Om dié rede is die aanstelling van hierdie ampsdraers ʼn wesenlike voorwaarde vir die uitbou van ʼn skeppende akademiese kultuur binne die onderskeie dissiplines.

“Met die aanstelling van hierdie ampsdraers gee Akademia ʼn reusetree vorentoe en as ʼn instelling is ons diep verheug en dankbaar oor hierdie stap,” sê Goosen. Hy voeg by dat uit die groei van die afgelope dertien jaar dit duidelik is dat Akademia as een van die vaandeldraers van Afrikaanse hoër onderwys na vore getree het, en dat die toevoeging van hoogleraars dié roeping verdere stukrag gee.

“As ʼn hoëronderwysinstelling is ons diep bewus van die groot verantwoordelikheid wat ons jeens ons geliefde moedertaal het, en tesame met die steun van die res van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe is ons dit eens dat daar ʼn helder toekoms op universitêre Afrikaans wag,” sluit Goosen af.

Akademia koop die woord “hoogleraar” in die WAT

Ter viering van hierdie nuwe akademiese hoofstuk het die instelling die woord “hoogleraar” in die  Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)  gekoop. Die aankoop van dié woord spreek simbolies tot die instelling se verbondenheid tot akademiese uitnemendheid asook die Afrikaanse universiteitswese.

Die  WAT se definisie van die woord “hoogleraar” is soos volg: “Professor aan ‘n universitêre instelling of ‘n teologiese seminarium.”

* Die eerste intreeredes sal in Maart vanjaar plaasvind.

Akademia as onafhanklike hoëronderwysinstelling is passievol en doelgerig verbind tot akademiese uitnemendheid. In die lig hiervan en tot uitbreiding van dié roepingstaak sal die instelling voortaan erkenning aan bewese en ervare akademici gee by wyse van die toekenning van die titel van hoogleraar.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.