Search
Close this search box.

Akademia-kenner praat by internasionale kongres oor die regswese en geestesgesondheid

Gepubliseer op: 30 Julie 2024

ʼn Groot eer het vroeër vandeesmaand vir Chrislie Boers, ʼn dosent in Regsgeleerdheid aan Akademia, te beurt geval. Boers, ʼn ontluikende interdissiplinêre navorser, het op 25 Julie 2024 ʼn referaat tydens die Internasionale kongres van die Akademie vir Regte en Geestesgesondheid (IALMH) in Barcelona, Spanje aangebied. Die tema van haar referaat was: Strafregtelike aanspreeklikheid vir ʼn late – Die regsetiese plig van ouers om hul kinders te beskerm.

Die IALMH-kongres vind elke twee jaar plaas en het dit ten doel om kwessies wat voortspruit uit die interaksie tussen die regswese en geestesgesondheid te ondersoek. Hierdie kwessies word gevolglik deur middel van multidissiplinêre en internasionale benaderinge vanuit die reg, die gesondheidsberoepsveld, die sosiale wetenskappe en die geesteswetenskappe bekyk. Volgens Boers verteenwoordig die kongres voorts ʼn internasionale gemeenskap van navorsers, akademici, beroepspraktisyns en professionele persone vanuit die genoemde velde.

Boers verduidelik dat sy haar referaat gelewer het as deel van só ʼn multidissiplinêre afvaardiging. Hierdie afvaardiging het bestaan uit Boers, dr. Chazanne Grobler, Universiteit van die Witwatersrand (Wits), dr. Marozane Spamers, Canterbury Universiteit, en prof. Magdaleen Swanepoel, Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Die oorhoofse tema vir hul paneelbespreking was “ʼn Vergelykende ontleding van die verweer van patologiese ontoerekeningsvatbaarheid in Nieu-Seeland en Suid-Afrika: Die saak van Lauren Dickason” en hul individuele aanbiedings het op die volgende temas gefokus:

  • Postnatale-psigose: Die trauma van migrasie en kriminele verantwoordelikheid.
  • Persepsies van botsende geestesgesondheidsdeskundiges: ʼn Vergelyking van die besluitneming van beoordelaars en juries.
  • Strafregterlike aanspreeklikheid vir ʼn late – Die regsetiese plig van ouers om hul kinders te beskerm.

“As ʼn ontluikende navorser was my deelname aan hierdie kongres van onskatbare waarde. Nie net het dit my die geleentheid gebied om op hoogte te bly van die nuutste ontwikkelinge op die gebied van mediese reg en etiek nie, maar ek kon ook by internasionale eweknieë leer,” sê Boers. Sy voeg by dat dié hoogs gespesialiseerde veld ʼn dinamiese navorsingsfokus verteenwoordig wat hoogs relevant is.

Boers is tans besig met die voorbereiding vir ʼn doktorale proefskrif in mediese reg en bio-etiek. Haar navorsingsfokus sluit in: bio-etiese en reguleringsriglyne vir menslikegenoomredigering.

Chrislie Boers is ʼn dosent in Regsgeleerdheid by Akademia en het onlangs ʼn referaat by die Internasionale kongres van die Akademie vir Regte en Geestesgesondheid (IALMH) in Barcelona, Spanje aangebied.
Die multidissiplinêre afvaardiging waarvan Boers deel was, sluit in, van links: prof. Magdaleen Swanepoel, dr. Chazanne Grobler, Boers, en dr. Marozane Spamers.