Joernalistiek-simposium 2025: Die Afrikaanse nuusmedia getuig van innovasie én volhoubaarheid

Gepubliseer op: 17 April 2025

Die Afrikaanse nuusmedia bevind homself in ʼn tyd van gróót omwenteling en verandering, maar sy polsslag is sterk. Dit is die mening van verskeie hoëvlakrolspelers in dié dinamiese bedryf wat deelgeneem het aan Akademia se Departement Tale en Kultuurwetenskappe se jaarlikse Joernalistiek-simposium*. Hierdie geleentheid het op Woensdag 16 April op die instelling se Leriba-kampus in Centurion plaasgevind.

Vanjaar se tema het gefokus op innovasie en die volhoubaarheid van die Afrikaanse nuusmedia en verskeie mediapersone van dwarsoor die land het die simposium meegemaak en ook as sprekers opgetree. Akademici en studente vanuit die instelling se BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program het óók die geleentheid, wat vanjaar vir die derde keer aangebied is, bygewoon.

ʼn Viering van die Afrikaanse nuusmedia

In haar verwelkomingsboodskap het dr. Alé Steyn, departementshoof: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia, vertel dat dié simposium as ʼn viering van die Afrikaanse nuusmedia gesien moet word. “Die gedagte was nooit om van dié byeenkoms ʼn streng akademiese geleentheid te maak nie, maar eerder ʼn bymekaarkomgeleentheid vir rolspelers – huidig én toekomstig, om gedagtes uit te ruil, idees met mekaar te klankbord en saam te gesels oor die ontwikkeling en uitbouing van die bedryf,” sê Steyn.

Volgens Steyn kan die sukses van die simposium toegeskryf word aan die aktiewe en passievolle betrokkenheid van rolspelers in die bedryf, hetsy die akademici wat verantwoordelik is vir die toerus van nuwe generasies van intreejoernaliste óf mediapersone wat hulself daagliks in dié bedryf besig. Ter illustrasie hiervan noem Steyn dat vorige sprekers onder meer hoëvlakpersone soos Tim du Plessis (onafhanklike joernalis en politieke skrywer), Magdaleen Krüger (voormalige stasiebestuurder van RSG), Bernard Beukman (voorsitter van die Afrikaanse Mediastigting), Heindrich Wyngaard (uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum MSW), Susan Lombaard (uitvoerende hoof van Maroela Media) en Kabous Meiring (televisievervaardiger, -regisseur en -aanbieder) ingesluit het. Ervare Afrikaanse joernaliste soos Maygene de Wee, Antoinette Slabbert, Pieter Strydom, Gert van der Westhuizen, Suzanne Paxton en Christel Cornelissen het óók al in die verlede aan gesprekke tydens die simposium deelgeneem.

Vanjaar se sprekers en hul gesprekstemas het as volg daaruit gesien:

  • Ryk van Niekerk, redakteur: Moneyweb

Wie betaal vir die waarheid? Die stryd om ʼn volhoubare joernalistieke model

  • Waldimar Pelser, M-Net se direkteur van premiumkanale

Maak dit nog sin om in die Joernalistiek te studeer?

  • Susann Lombaard, uitvoerende hoof: Maroela Media

ʼn Nuwe dagbreek vir mediawese

  • Inge Kűhne, redakteur: Rapport

Van papier tot paljas: Lesse geleer by die sluiting van ʼn koerant

  • Bernard Beukman, voorsitter: Afrikaanse Mediastigting

Belangrike bakens op die roetekaart vir navigasie na ʼn steeds volhoubare media

  • Marietta Lombard, hoofredakteur: Caxton Joburg Metro

SA media and the digital news transformation

Joernaliste as nuusentrepreneurs

Volgens Steyn, en die deelnemende sprekers, is die skrif aan die muur wat tradisionele nuuspleging betref. Die dae is lank verby dat joernaliste slegs nuus op ʼn eendimensionele manier geskep én gedeel het. “Vandag neem nuus ʼn veel breër skeppingsdimensie in, en sluit dit onder meer potgooie, dokumentêre programme en selfs boeke in,” meen Steyn. Sy voeg by dat joernalistieke entrepreneurskap daarom ʼn belangrike komponent van enige akademiese opleidingsprogram moet wees ten einde intreejoernaliste effektief voor te berei vir die veranderende beroepsveld en die gepaardgaande verwagtinge. Binne hierdie opleidingsmilieu is dit veral lees-, skryf- en kritiese denkvaardighede wat aandag moet geniet.

“Die kommerwekkende realiteit is dat joernalistiekstudente nie oortuig is van die volhoubaarheid asook die lonendheid van die bedryf nie, en daarom hulself eerder in die korporatiewe kommunikasieveld begeef,” sê Steyn. In die lig hiervan is sy opgewonde oor die impak van die simposium en die waarde wat goed gevestigde deelnemende joernaliste tot intree-joernaliste voeg.

Van krag tot krag

Volgens Steyn lyk die toekoms van die Afrikaanse nuusmedia blink, en sy vertel trots hoe Akademia se Departement Tale en Kultuurwetenskappe sedert 2021 van krag tot krag gaan. Dié departement het die lig gesien gedurende 2021 met slegs drie personeellede, dertien studente en ʼn enkele akademiese program.

Vandag kan studente wat via die instelling se voltydse kampusmodel studeer kies tussen drie programme, naamlik BA (Kommunikasie en Joernalistiek), BA (Taalstudies) en die BAHons (Media en Kommunikasie). Die departement het ook tydens die verlede jaar se kwalifikasieplegtigheid sy eerste studente suksesvol afgelewer. ʼn Gróót hoogtepunt is volgens Steyn die uitbreiding van die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program in 2026 na die instelling se voltydse kampus in die Paarl.

Indien jy belangstel in ʼn loopbaan in die nuusmedia, doen vandag nog aansoek vir een van die programme in die Departement Tale en Kultuurwetenskappe, soos gesetel in die Fakulteit Geesteswetenskappe. Studieaansoeke vir 2026 is reeds oop. Vir meer inligting besoek die Akademia-webblad.

*Om foto’s van dié geleentheid te besigtig besoek gerus Akademia se sosialemediaplatforms.

Dr. Alé Steyn, departementshoof: Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia, meen die jaarlikse Joernalistiek-simposium is ʼn viering van die Afrikaanse nuusmedia.
Ryk van Niekerk, redakteur: Moneyweb, het as die hoofspreker opgetree. Van Niekerk is ʼn bekroonde finansiële joernalis met méér as 25 jaar se ondervinding.
Vanjaar se sprekerspaneel het bestaan uit Waldimar Pelser (M-Net se direkteur van premiumkanale), Susan Lombaard (uitvoerende hoof van Maroela Media), Inge Kűhne (redakteur van Rapport), Bernard Beukman (voorsitter van die Afrikaanse Mediastigting) en Marietta Lombard (hoofredakteur van Caxton Joburg Metro).
Anton Meijer, vervaardiger, aanbieder en bulletinskrywer by Pretoria FM het as fasiliteerder opgetree tydens die simposium.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.