Akademia huldig pas verkose studenteraad vir 2025/2026 in

Gepubliseer op: 15 Augustus 2025

Op Woensdag 13 Augustus is Akademia se pas verkose studenteraad (SR) vir die 2025/2026-termyn op luisterryke wyse op die instelling se Gerhardstraat-kampus in Pretoria ingehuldig. Tydens dié geleentheid is die uittredende SR-lede ook vereer vir hul bydrae tot die instelling se dinamiese studentelewe.

Die onontbeerlike waarde van die Akademia-studentelewe

In haar openingsrede het dr. Heleen Coetzee, hoof van Studentesake by Akademia, gesê dat dié inhuldigingsgeleentheid jaarliks ʼn hoofletterdag in die instelling se studentelewekalender verteenwoordig. Sy het die studenteleiers, die uittredende asook die pas verkose groep, geprys vir hul verbintenis tot die uitbouing van Akademia se bruisende en lewenskragtige studentelewe.

“Akademia is baie trots op sy studentelewe en die sleutelrol wat dit in die vorming van studente speel. Tydens ʼn spesiale geleentheid soos hierdie inhuldigingseremonie word dié grootse rol verder beklemtoon en put die instellingsgemeenskap hoop uit die wete dat ons Fontie-studenteleiers voorloop en aktief deelneem aan hierdie vormingstrewe,” sê Coetzee. Sy het bygevoeg dat dit vir haar en die Studentesake-afdeling ʼn groot voorreg is om elke jaar eerstehands te kan ervaar nie net hoe die leiers persoonlike groei toon nie, maar ook hoe die instelling se studentelewe gedy.

Volgens Marthinus Visser, Akademia se besturende direkteur, was dit ʼn voorreg om te sien hoe die uittredende leierskapsgroep gestalte gegee het aan hul ampstermyn. Visser meen dat dié groep hulself as dienende leiers onderskei het. “Dienende leierskap verwys nie daarna om ander mense te dien nie, maar eerder om die saak waarvoor jy aangestel is met oortuiging en onderskeiding te dien,” verduidelik Visser en voeg by dat die groei en dinamika van die instelling se studentelewe danksy hierdie diensbaarheid van krag tot krag gaan. Gedagtig hieraan het hy die pas verkose studenteleiers aangemoedig om hulself ook heelhartig aan die Akademia-dienssaak oor te gee en só vir ander studente geleenthede te skep om self ook doelgerig en vervullend by dié karakterontwikkelingsproses te baat. Hierdie vormingsproses verteenwoordig volgens Visser die hartklop van die instelling se studentelewe en kan gesien word as ʼn spreekwoordelike rugsak wat die studente vir hul lewensreis pak.

Visser som die waarde van die studentelewe soos volg op:

  • Dit leer studente om betekenisvol te leef. Tydens die studente se studietydperk word hulle by wyse van die studentelewe voorberei om die werksplek, die gemeenskap en die toekoms betekenisvol te betree.
  • Deur studente se betrokkenheid in die bruisende studentelewe word daar klem gelê op die vorming van betekenisvolle, langtermyn- en diepgewortelde vriendskappe. Hierdie verbondenheid het besliste ewigheidswaarde.
  • Dit leer studente om balans te handhaaf te midde van veelvuldige verantwoordelikhede. Fonties leer vanaf hul eerste kennismaking met die instelling dat hul akademiese verpligtinge nie meeding met hul studentelewe nie, maar eerder ʼn dinamiese wisselwerking veronderstel.
  • Die studentelewe leer studente dat hulle kan feesvier en vrolik verkeer ná afloop van harde werk en inspanning.
  • Danksy ʼn gesonde studentelewe kan elke Fontie die waarde van mekaar, die groep en uiteindelik die groter gemeenskap erken en besef.

ʼn Leierskapsblik van gister tot vandag

Vir Johannes van Jaarsveld, uittredende SR-voorsitter, verteenwoordig die inhuldigingseremonie ʼn unieke blik op studenteleierskap. Aan die een kant word daar met dankbaarheid bestek geneem van dít wat reeds vermag is, terwyl daar aan die ander kant vorentoe gekyk word met groot drome en ʼn duidelike toekomsvisie.

“Dit was vir my ʼn ongelooflike voorreg om my vormingsreis gedurende die vorige leierskapstermyn met elkeen van die uittredende Fontie-leiers te kon aanpak. Vandag kan ons opgewonde en sonder twyfel sê dat ons in ons doelwitte geslaag het. Elke opoffering was die moeite werd!” sê Van Jaarsveld. Hy het veral drie waarhede met die nuwe SR gedeel:

  • Moenie beweging met vordering verwar nie.
  • Vertrou in God se voorsiening en genade, en maak jou geloof die vlerke waarmee jy hoog en ver vlieg.
  • Vra jouself altyd af: Wat is die Akademia-manier?

Hierdie wyshede dien as rigtingwysers op die pad en ontsluit nie net elke Fontie se identiteit nie, maar verteenwoordig ook die hartklop van die instelling se gemeenskap.

Marzé Becker, Akademia se nuwe SR-voorsitter, het die geleentheid afgesluit deur te sê dat sy en haar raad diensgereed is. Sy het die uittredende SR geloof vir die grondslag wat hulle gelê het, asook die mentorskap waarby die nuwe leiers kon baat. Becker spreek die hoop uit dat die nuwe leierskapstruktuur doelgerig sal optree as mede-outeurs van die Akademia-storie en dat hulle gedurende hul ampstermyn nie net impakvolle stories sal kan vertel nie, maar ook stories wat tot die toekoms en voornemende geslagte van Fonties sal spreek.

Die SR vir 2025/2026 en hul portefeuljes is soos volg toegeken:

  • SR-voorsitter: Marzé Becker
  • Adjunkvoorsitter: Matthew Lües
  • Koshuisraad: Elsomé Thuynsma
  • Gemeenskap: Annemé Kriel
  • Finansies: Lizari Bothma
  • Bemarking en Kommunikasie: Wilani Alberts
  • Verenigings: Zabeth Breytenbach
  • Sport: Collyn Fourie
  • Kuns en Kultuur: Lourinda Smit
  • Nauurs: Luné du Plessis
  • Nauurs: Nerine van der Walt

Akademia wens elke nuwe SR-lid voorspoed toe vir die termyn wat voorlê. Mag elkeen ʼn ware verskil maak in mekaar, in hul medestudente en in Akademia. Die instelling sien uit na alles wat hulle as span in die termyn gaan bereik.

Marzé Becker is Akademia se nuwe studenteraadvoorsitter. Sy neem die leisels by Johannes van Jaarsveld oor.
Die nuwe Akademia-studenteraad vir die 2025/2026-termyn, van links voor: Annemé Kriel, Matthew Lües, Marzé Becker (voorsitter), Lourinda Smit en Wilani Alberts. Agter van links is Nerine van der Walt, Collyn Fourie, Zabeth Breytenbach, Elsomé Thuynsma, Luné du Plessis en Lizari Bothma.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.