*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Groot Boeke-projek: Fonties leer nie nét hoe om te bou nie, maar ook hoekom

Gepubliseer op:  4 Maart 2026

Om toekomsgerig te bou is belangrik, nie nét wat jou loopbaan en gemeenskap betref nie, maar óók om diepte te gee aan jou persoonlike vormingsreis. Geen bouwerk kan egter sonder ʼn argiteksplan aangedurf word nie, en by Akademia verteenwoordig die Groot Boeke-projek só ʼn rigtinggewende plan. Laasgenoemde rus Fonties* toe met die nodige ideetoerusting om die komplekse uitdagings van die tyd met selfvertroue aan te durf.

Die klassieke tradisie van die vrye kunste

Die projek, wat twee jaar terug van stapel gestuur is, spruit voort uit die klassieke tradisie van die vrye kunste, en word vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum gefasiliteer. Die doel van die projek, wat in 2026 steeds verder uitgebou gaan word, is om personeel én studente te lei om antwoorde vir die hoekom-vrae te vind by wyse van die saam lees en bestudering van kerntekste vanuit die Westerse beskawingsliteratuur. Akademia volg op hierdie manier in die spore van talle ander van die wêreld se mees vooraanstaande universiteite wat sy verbintenis tot die lees van hierdie tekste betref.

Tekste wat tans deel uitmaak van vanjaar se leeslys sluit in:

  • Mere Christianity deur CS Lewis (eerstejaarstudente)
  • The Hobbit deur JRR Tolkien (eerstejaarstudente)
  • Die Odusseia (tweedejaarstudente)
  • Notes from Underground deur Fyodor Dostoevsky (derdejaarstudente en personeel)
  • The Death of Ivan Ilyich deur Leo Tolstoy (derdejaarstudente en personeel)
  • The Picture of Dorian Gray deur Oscar Wilde (derdejaarstudente en personeel)

Projek bou voort op ʼn stewige grondslag

Volgens dr. Morné Malan en Daan Goosen, beide dosente van die Groot Boeke-projek, word daar vanjaar voortgebou op ʼn baie suksesvolle grondslag en is dit verblywend om te sien hoe die Akademia-gemeenskap hulself in die projek verdiep. “Behalwe vir ʼn aktiewe personeelleesklub presteer die studente voorts baie goed in die aanvullende aanlyn modules en kortkursusse wat op die leesstof geskoei is en is daar verlede jaar ʼn deelnamekoers van 90% gehandhaaf,” sê Goosen.

Hy gaan voort deur te verduidelik dat die waarde van hierdie kerntekste daarin lê dat dit lewenslesse, dieperliggende begrip asook vars perspektiewe daarstel en só vir elke leser help om hedendaagse probleme en kwessies beter te verstaan. Hierdie benadering voeg volgens Goosen nie net waarde tot die studente se akademiese aktiwiteite nie, maar berei hulle voor vir die dinamiese werkswêreld en hul roepingstaak in die groter gemeenskapsmilieu.

ʼn Hernieude fokus op fundamentele waardes

In 2026 sluit die projek aan by Akademia se jaartema, Boustene vir ons toekoms, en sal daar volgens Malan in besonder gefokus word op die fundamentele waardes (boustene) wat tot roepingsbesef spreek, hetsy as ʼn gemeenskap, ʼn instelling, of as ʼn individu.

“Om hierdie rede gaan vanjaar se kortkursusse klem lê op die noodsaaklikheid van ʼn diepgaande oortuiging van dit wat groter as die individu self is, om gedagtes en dade te stuur. Die program wil studente én personeel uitdaag om nie bloot te vra hoe ons moet leef, liefhê, of bou nie, maar ook hoekom ons dit moet doen. Meer spesifiek word daar gepoog om te toon dat wanneer ons idees en ons harte deur ʼn koestering van die ware, die goeie en die skone gerig word, ons uiteindelik meer betekenisvolle lewens sal lei,” sê Malan.

Die Groot Boeke-projek herinner elkeen, volgens Goosen en Malan, daaraan dat bouwerk nie met bakstene en sement begin nie, maar met idees. En meer nog, dat ʼn gemeenskap wat die ware, die goeie en die skone koester en najaag, begrip en betekenis as hul deel sal geniet.

*Fonties is die gegewe naam vir studente wat aan Akademia studeer. Dit is afgelei van Akademia se leuse, Ad Futurum per Fontes – vanuit die bronne na die toekoms.

By wyse van Akademia se Groot Boeke-program word Fonties se verwysingsraamwerk verbreed, historiese kennis uitgebou én kritiese denkvaardighede gevestig ten einde die toekoms met selfvertroue en ʼn vars perspektief te kan betree.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.