*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 27 Maart 2026
Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) het vanjaar vir die tweede keer Akademia se EBW- Internasionale Week vanaf 23 tot 27 Maart aangebied. Dié inisiatief is daarop gemik om studente se entrepreneuriese probleemoplossingsvaardighede in ʼn internasionale én praktiese konteks te slyp. Ná die suksesvolle aanbieding van hierdie inisiatief in 2024 op die Pretoria-kampus, is dit vanjaar in die Wes-Kaap op die Paarl-kampus aangebied.
Die inisiatief het sy ontstaan uit soortgelyke entrepreneuriese programme wat aan Belgiese hoëronderwysinstellings aangebied word en waaraan Akademia-studente in die verlede deelgeneem het. Volgens Elize-Mari Coetzer, departementshoof: Bestuurswetenskappe aan Akademia, het dié week dit ten doel om internasionale blootstelling vir die instelling asook sy studente te bewerkstellig deur groter samewerking met buitelandse universiteite te bevorder.
ʼn Groep van 32 Belgiese studente – van onder meer UCLL, EPHEC en Arteveldehogeschool – doen vanjaar by die Paarl-kampus aan vir dié inisiatief as deel van hul formele sillabus. Deelnemende Akademia-studente in hul tweede jaar van studie in die ekonomiese en bestuurswetenskapveld aan die Pretoria-kampus neem óók aan dié akademiese en sosiale vormingsgeleentheid deel.
Volgens Coetzer skyn die soeklig tydens die week doelgerig op die ontwikkeling van studente se probleemoplossingsvaardighede. “Probleemoplossing is ʼn kernvaardigheid wat studente nie net in die werksplek nie, maar ook in hul persoonlike lewens help om by verandering aan te pas, beter besluite te neem en uitdagings met selfvertroue te hanteer,” sê sy. Hierdie vaardighede bevorder voorts ook kreatiwiteit en dien as ʼn belangrike bousteen vir veerkragtigheid.
Die program het oorhoofs uit drie tematiese komponente bestaan:
effektiewe professionele voorleggingstegnieke.
ʼn Belangrike praktiese element van die week was ʼn besoek aan Babylonstoren, waar studente twee werklike besigheidsuitdagings vanuit ʼn plaaslike konteks ontvang het uit die weg te ruim. In gemengde internasionale groepe moes hulle deur die loop van die week oplossings ontwikkel, wat aan ʼn paneel beoordelaars voorgelê is. Dié paneel het bestaan uit:
Johann Joubert, ontwikkelingsbestuurder: Babylonstoren.
Coetzer beklemtoon dat die internasionale blootstelling ʼn besondere leergeleentheid vir studente bied. “Wanneer studente saam met hul eweknieë vanuit ander kulture en agtergronde aan dieselfde probleem werk, leer hulle om oplossings vanuit verskillende perspektiewe te benader. Dit versterk nie net hul probleemoplossingsvermoë nie, maar ontwikkel ook hul kommunikasievaardighede en begrip vir menseverhoudinge,” verduidelik Coetzer.
Zabeth Breytenbach, ʼn tweedejaarstudent in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program wat aan vanjaar se inisiatief deelgeneem het, beskryf haar ervaring as leersaam en sy sien uit daarna om op dié kennisgrondslag voort te bou. “Deur my deelname het ek beslis my uitkyk op en denkwyse oor die besigheidsomgewing uitgebou. Ek is veral dankbaar oor die mentorskapsgeleenthede waarby ek kon baat,” sê Breytenbach. Sy voeg by dat dit ook vir haar besonders lekker was om dié ervaring met haar internasionale eweknieë te kon aanpak. “Die week het beslis nie net my denke aangaande my studieveld gevorm nie, maar ook opnuut my hart vir ons taal en kultuur laat warm klop,” meen Breytenbach.
Die sukses van Akademia se EBW- Internasionale Week bevestig volgens Coetzer die waarde van samewerking, praktiese leer en internasionale vennootskappe. “Dit is bemoedigend om te sien hoe studente groei wanneer teorie, praktyk en internasionale blootstelling mekaar ontmoet. Hierdie inisiatief is ʼn bewys van wat moontlik is wanneer ʼn toegewyde akademiese span met ʼn gedeelde visie kragte roepingsgedrewe saamspan,” sluit Coetzer af.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.