Gepubliseer op: 20 Mei 2025
Die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike taal, as deel van die #Afrikaans100-feesprojek, is in volle swang! Akademia, as ʼn trotse Afrikaanse onafhanklike hoëronderwysinstelling, skaar homself opgewonde by verskeie ander Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe om dié merkwaardige hoogtepunt te vier.
Een van die maniere waarop die instelling hierdie feesviering gestand doen, is by wyse van sy toegewyde jaartema vir 2025: Afrikaans en tuis. Hierdie tematiese milieu sluit óók die viering van Afrikaans in die universiteitswese in. Henk Schalekamp, voorsitter van die Akademia-direksie beskryf dié viering as ʼn roepingstaak:
Almal van ons is op pad – maar nie toevallig nie. Ons is geroepe, elkeen met ʼn unieke taak in hierdie wêreld. Hierdie roeping geld nie net vir predikante óf sendelinge nie, maar óók vir dosente, administratiewe personeel, studente, en elke lid van die Akademia-gemeenskap. Ons is geroep om, hier en nou, ʼn nuwe tuiste te bou – ʼn tuiste vir hoër onderwys in Afrikaans.
Hierdie is egter geen maklike taak nie. Die tye is uitdagend. Ons bou nie bloot ʼn kampus op ʼn pragtige stuk grond nie – ons bou aan ʼn instelling in ʼn wêreld waar taal, geloof en waarheid dikwels onder druk verkeer. En tog bou ons. Want ons glo nie dat ons per toeval hier is nie. Ons glo dat die Here regeer – dat Hy alles beskik volgens sy raadsplan. Daarom staan ons nie op ons eie kennis of krag nie. Ons bou biddend, ons bou luisterend, en ons bou in geloof – as verteenwoordigers van Hom wat oor die begin en die einde regeer.
Akademia is nie net ʼn instelling nie – dit is ʼn tuiste. ʼn Tuiste wat ons saam oprig, waarvan die fondament geanker is in die erkenning van God as Skepper, en in die oortuiging dat waarheid nie uit onsself kom nie, maar van Hom. Daarom is ons nie bang vir die waarheid nie – ons soek dit juis. En in die soeke daarna, vind ons rigting.
Om in Afrikaans te werk en te leer, is vir ons méér as ʼn keuse – dit is ʼn vorm van gehoorsaamheid aan die werk waarvoor ons geroep is. Taal is nie net ʼn hulpmiddel tot kommunikasie nie, maar veel meer: ʼn draer van betekenis, kultuur, identiteit én geloof. Om dus ʼn hoëronderwysinstelling in Afrikaans te bou, is deel van ons roeping. Só kom ons tuis – in ons taal én in ons geloof.
Mag ons hierdie pad met hernude oorgawe en vertroue stap. Want as die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs. Maar as Hy dit bou, sal dit staan – as ʼn tuiste vir sy waarheid, in Afrikaans.
Lees gerus hier meer oor die Toekomsbouerveldtog, die ontwikkeling van Akademia se wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria wat beoog word vir 2028 en hoe jy tot hierdie droom kan bydra. Hierdie kampus sal 220 hektaar beslaan en ʼn studietuiste vir 5 000 voorgraadse en 2 000 nagraadse studente wees, asook vir 1 500 inwoonkoshuisstudente.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.