Search
Close this search box.

Akademia-alumnus: Só rus kwalifikasie my toe vir impak in die werksplek

Gepubliseer op: 30 Julie 2024

Akademia-alumnus, Linrico van Veenhuyzen (23) van Eldoraigne in Centurion, staan sy plek as finansiële adviseur met selfvertroue vol en is opgewonde oor wat sy toekoms in die finansiëlebeplanning- en bestuursektor vir hom inhou.

Van Veenhuyzen, ʼn oudleerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool, het verlede jaar die BCom (Finansiële Beplanning)-program voltooi by wyse van die nauurse afstandsmodel en was ingeskakel by die Centurion-sentrum. Hy het op dié onderrigleermodel besluit omdat hy vasbeslote was om vroeg reeds waardevolle werkservaring op te doen en só ʼn balans te tref tussen sy akademiese begronding en die vereistes wat deur die bedryf gestel word. Dit is juis hierdie benadering wat hom met nuwe oë na die omvang en belangrikheid van sy gekose beroepsveld laat kyk het.

“Ek is nou, méér as ooit, daarvan oortuig dat indien finansiële beplanning reg benader word en oordeelkundig toegepas word, dit lewensveranderend kan wees,” vertel Van Veenhuyzen. Hy voeg by dat sy akademiese kennis ʼn uiters belangrike aspek van sy professionele mondering is en dat sy Akademia-kwalifikasie hom ʼn besliste voorsprong in die werksomgewing bied.

“Die keuse van Akademia as ʼn studietuiste was maklik,” vertel Van Veenhuyzen en noem dat die instelling se waardes tot sy eie spreek. Die geleentheid om in Afrikaans te kon studeer was ook vir hom ʼn groot trekpleister. “In die finansiële bedryf praat ons van wigte en teenwigte (checks and balances) en wat Akademia se karakter betref het alles net vir my in plek geval,” sê Van Veenhuyzen.

Volgens Van Veenhuyzen was sy gunstelingdosente Berrie Stoop en Nadia Hunt, wat beide Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe doseer. Stoop en Hunt het nie net gesorg dat elke kontaksessie leersaam en interessant was nie, maar hul module-inhoud was ook met die praktyk belyn.

“Ek raai enige werkende persoon aan om Akademia as ʼn studietuiste te oorweeg, danksy die nauurse afstandsmodel wat dit moontlik maak om voltyds te kan werk en te kan studeer. Hierdie onderrigleermodel het dit vir my moontlik gemaak om ervaring op te doen, ʼn salaris te verdien én myself akademies voor te berei vir my droomberoep,” sê Van Veenhuyzen.

As ʼn finansiële adviseur, wat self ook aan die begin van sy loopbaanreis staan, is dit vir Van Veenhuyzen belangrik dat lede van sy portuurgroep erns sal maak met hul geldsake. Hy meen dat alhoewel jongmense bewus is van die belangrikheid van goeie finansiëlebeplanning en -bestuur, hulle dikwels te lank talm voordat hulle besliste aksie neem.

Van Veenhuyzen deel graag die volgende advies met Fonties aan die hand van sy eie ervaring:

  • Beskou jou finansies as ʼn genadegawe vanuit God se hand – ʼn gawe wat met oorleg en verantwoordelikheid bestuur moet word.
  • Maak reeds as student erns met die kennis en vaardighede waarmee jou dosente jou toerus. Ek kan heelhartig daarvan getuig dat die programinhoud direk belyn is met die praktyk en daarom behels die opleiding soveel méér as net boekekennis.
  • Jou dosente is kundiges op hul onderskeie spesialisgebiede en daarom is hulle die ideale mense om as mentors op te tree. Moenie huiwer om vrae te vra nie, hulle is daar om jou op jou loopbaanpad te begelei.
  • Moenie die belangrikheid van skaduwerk, vakansiewerk en internskappe onderskat nie. Kry reeds vroeg jou voet in die deur by maatskappye in jou veld. Op hierdie manier kan jy nie net belangrike blootstelling geniet nie, maar ook jou professionele netwerk uitbrei én vertroud raak met die vereistes wat jou toekomstige beroepsveld aan jou sal stel. Hierdie blootstelling is veral belangrik in die finansiële sektor waar verandering aan die orde van die dag is.
  • Sukses is harde werk, maar is altyd lonend.

Indien jy, soos Van Veenhuyzen, droom van ʼn beroep in die finansiëlebeplanning- en bestuursektor, doen vandag nog aansoek vir die BCom (Finansiële Beplanning)-program. Aansoeke vir die 2025-studiejaar is oop.

Linrico van Veenhuyzen staan sy plek as finansiële adviseur met selfvertroue vol en is opgewonde oor wat sy toekoms in die finansiëlebeplanning- en bestuursektor vir hom inhou.