*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 24 Maart 2026
Geskryf deur Monica Mynhardt, voorsitter van Akademia se alumni-komitee
Die bou van ʼn toekoms gekenmerk deur die ware, goeie en skone is nie ʼn toevallige proses nie, maar ʼn doelbewuste handeling wat berus op bepaalde fundamentele boustene. Soos Akademia se jaartema, Boustene vir ons toekoms, impliseer, word hierdie boustene bewustelik gevorm, onderhou en uitgeleef binne ʼn groter geheel.
Nes die instelling se aard deur die klassieke bronne vanuit die verlede ingelig word, gee die instelling self nuwe inhoud en betekenis daaraan deur dit vanuit die huidige konteks op die toekoms te rig. Op dieselfde wyse word die boustene van Akademia se toekoms aan die een kant gevorm deur die instelling se eie karakter, en aan die ander kant dra hierdie boustene weer daartoe by om die instelling se karakter te bevestig en te versterk. Laasgenoemde verwys na Akademia as ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.
ʼn Dinamiese alumni-netwerk is delikaat verweef met alle ander boustene
Akademia bou die dag van môre by wyse van verskeie strukturele boustene waarvan akademiese uitnemendheid, ʼn bruisende studentelewe, waardetoevoegende onderrigleermodelle en uiteindelik ook ʼn dinamiese alumni-netwerk deel uitmaak.
ʼn Dinamiese alumni-gemeenskap is egter een bousteen wat nie nét op sigself ʼn fondament is nie, maar óók om die beurt versterk word deur die ander boustene. Akademia se alumni-gemeenskap is immers die voortlewende uiteinde van ʼn sinvolle, blywende vormingservaring deur en in die instelling self. Voor só ʼn dinamiese gemeenskap moontlik is, moet studente eers die vormingsreis met sukses meemaak en afhandel.
In hierdie sin kan ʼn dinamiese alumni-gemeenskap nie in isolasie ontstaan of funksioneer nie. Dit word juis voortdurend gevoed deur die ander boustene wat Akademia neerlê – deur die gehalte van die akademiese vorming, die rykheid van die studentelewe en die diepte van die instelling se intellektuele en institusionele werkinge. Om hierdie rede gaan alumni dus nie nét die toekoms met ʼn kwalifikasie in nie, maar met ʼn bepaalde ingesteldheid jeens en verantwoordelikheid tot ʼn groter geheel, asook ʼn verbondsgemeenskap waaraan hulle onlosmaaklik deel vorm.
Dit is juis op hierdie punt waar die alumni-gemeenskap as bousteen weer na vore tree – nie net as gevolg van wat dit in die eiesoortige Akademia-vormingsproses ontvang het nie, maar ook deur wat teruggegee word. Hierdie teruggee lyk vir elke alumnus anders, maar verteenwoordig deurlopend dieselfde diepe behoefte om deel te bly van die groter geheel waaruit en waardeur elke afgestudeerde student gevorm is.
Só word ʼn dinamiese alumni-gemeenskap nie bloot deur getalle of formele strukture gedefinieer nie, maar eerder deur die wyse waarop alumni hul vorming verder uitleef. Hetsy dit vergestalt in deurlopende betrokkenheid, die deel van kennis en ervaring, die uitbrei van ʼn netwerk, ondersteuning aan mede-alumni of die uiteindelike uitleef van Akademia se waardes in verskillende samelewingsfere.
Om hierdie rede is ʼn dinamiese alumni-gemeenskap soveel meer as net ʼn blote netwerk, maar ʼn lewende voortsetting van hul alma mater se bestaansrede – ʼn gemeenskap wat vanuit die bronne saam dink, saam verantwoordelikheid neem vir die onderhoud van die samehang van die geheel waarvan hul deel vorm en, saam na ʼn goeie toekoms streef.
Raak betrokke en bou saam
Akademia se alumni-komitee nooi alle afgestudeerde studente uit om vanjaar aktief betrokke te raak en só die toekoms hoopvol te vergestalt. Vanjaar se alumni-program is gevul met betekenisvolle, bekende én nuwe geleenthede om betrokkenheid aan te wakker.
Ad futurum per fontes.


Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.