*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia-alumni: Só ontwikkel jou alma mater vanuit die bronne met boustene na die toekoms

Gepubliseer op:  4 Februarie 2026

Geskryf deur Monica Mynhardt, voorsitter van Akademia se alumnikomitee

Akademia het die nuwe jaar op ʼn ongelooflike manier begin. Die konstruksiefase vir die nuwe Akademia-kampus op die Mooiplaats-terrein in die ooste van Pretoria het afgeskop ná die eerste sooi aan die einde van November verlede jaar gespit is.

Soveel meer as net ʼn monumentale bouprojek

Die idee vir ʼn wêreldklas kampus het reeds in 2012 gestalte gekry met die inname van die instelling se eerste groep van 40 studente wat hulself destyds in een van vier programme kon bekwaam. Sedertdien het Akademia se studentegemeenskap tot méér as 3 800 studente toegeneem en sy programverskeidenheid na 27 programme in vyf dinamiese fakulteite uitgebrei. Dit is voorwaar ʼn grootse prestasie waarop elke alumnus trots kan wees.

As jy na die omvang van dié nuwe kampus kyk, is die instelling se 2026-jaartema – Boustene vir ons toekoms – uiters gepas. Die kampus, wat in 2028 sy deure sal oopmaak, word teen ʼn totale projekwaarde van R3 miljard opgerig. Fasiliteite sal uiteindelik akademiese geboue, ʼn studentesentrum, verskeie ontspanningsareas, ʼn kapel, sportfasiliteite, ʼn proefplaas, ouditorium, koshuise en nog vele meer insluit.

Dit word in die vooruitsig gestel dat bouwerk onder meer 110 000 m2 se pleisterwerk, 7,1 miljoen bakstene en 30 000 m2 (vier rugbyvelde) se teerpaaie sal omvat. Die eerstefasekonstruksie sal na beplanning vanaf Januarie vanjaar tot en met Desember 2027 strek, waarna gebruik van die fasiliteite ʼn aanvang sal neem. Die tweede en finale fase sal tussen Januarie 2028 en Desember 2029 plaasvind.

In die gees van verlede jaar se jaartema, Tuis en Afrikaans, verteenwoordig hierdie bouprojek dan ook die groter reis wat die instelling na sy tuiskoms, in en deur hierdie nuwe kampus, besig is om te onderneem; ʼn reis waaraan elke alumnus deel het.

Die Akademia-hart en -wese

In bykans elke bestaansjaar tot op hede het Akademia op ʼn ingrypende manier gegroei. Van daardie eerste inname van 40 studente in 2012 tot vanjaar se eerstejaarskamp wat in die Paarl en in Pretoria deur gesamentlik ongeveer 600 nuwe Fonties bygewoon is.

Tog het dié groei nog nooit Akademia se kern en gepaardgaande fundamentele boustene verander nie – ʼn wêreldklas onafhanklike hoëronderwysinstelling wat met moedertaalonderrig en ʼn Christelike grondslag in die klassieke universiteitswese uit die bronne van die verlede die toekoms ingaan.

Geklee in verskeie gewade is studente dus oor verskillende jare en fases heen deur dieselfde universitêre hart gevorm; ʼn hart en wese wat ook ʼn tuiskomplek in die nuwe kampus gaan vind, en verdien; ʼn kampus wat Akademia se ewigdurende gesprek ín die hede, mét die verlede, gemik op die toekoms, ook tasbaar gaan vergestalt.

Die alumnikomitee nooi alle alumni uit om vanjaar saam met ons geliefde almal mater die reis onderweg na ʼn vrye toekoms te onderneem en doelgerig saam te bou. So deel as wat Akademia van elkeen van ons alumnigemeenskapslede se vormingservarings was, só deel is ons elkeen van die klip waaruit die nuwe kampus gekerf word.

Bou gerus saam, liewe alumni. Júlle is immers ook fundamentele boustene van Akademia se toekoms.

Ad futurum per fontes. Deur die bronne na die toekoms.

*Is jy ʼn Akademia-alumnus? Indien wel, besoek die alumniwebwerf en word deel van jou alma mater se dinamiese alumnigemeenskap deur jou besonderhede by te werk, jou suksesverhaal met ons te deel óf op welke ander wyse betrokke te raak. Jy kan ook van jou laat hoor deur ʼn e-pos te stuur na alumni@akademia.ac.za.

Monica Mynhardt, voorsitter van Akademia se alumnikomitee, meen dat so deel as wat die instelling van elke alumnus se vormingservaring was, só deel is elke alumnus van die spreekwoordelike klip waaruit die nuwe kampus in Pretoria gekerf word.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.