Gepubliseer op: 10 November 2025
Die wese van die klassieke universiteitsidee – wat ook as Akademia se vormingsideaal bekendstaan – word saamgevat in die strewe na die ware, die goeie en die skone. Dié ideaal word deur die instelling se akademiese wetenskapsbeoefening sowel as sy bruisende studentelewe nagestreef en verteenwoordig ʼn bepalende rigtingwyser wat alle aspekte van Akademia se bestaan toelig.
Dit was dan juis ook hierdie strewe wat ʼn afvaardiging van akademici en ondersteuningspersoneel vroeër vanjaar op ʼn besoek na Hillsdale College in Michigan in die Verenigde State vergesel het. As denkgenootinstelling word Hillsdale College as een van die mees vooraanstaande Christelike en klassieke universiteite in Amerika gereken en sy oorsprong kan sover terug as 1844 nagespoor word. Die besoek, wat vanaf 19 tot 30 September plaasgevind het, is vanuit die instelling se NP van Wyk Louw-sentrum gefasiliteer en bou voort op die jarelange verbintenis wat dié twee instellings koester.
Dr. Daniël Maritz, bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum, werp terugskouend meer lig op die besoek en die belangrikheid van denkgenootvriendskappe, veral oor landsgrense heen.
Om eerstehands te kon leer en ervaar
Die doel van die besoek aan Hillsdale College was tweeledig, om te leer en ook om eerstehands te ervaar hoe daar prakties aan die klassieke vormingsideaal gestalte gegee word. Die besoek het ons in staat gestel om self te kon sien hoe hierdie eeuoue instelling ʼn samehang handhaaf vanaf sy akademiese aanbod tot sy indrukwekkende argitektuur. In al hierdie verskillende dimensies word die ware, die goeie en die skone voor oë gehou.
ʼn Gekoesterde denkgenootvriendskap
Die mees onlangse besoek aan Hillsdale College was die vierde tot op hede, soos deur die NP van Wyk Louw-sentrum gefasiliteer.
Vanjaar se besoek was wel ʼn eerste vir die meeste lede van die afvaardiging. Die Akademia-verteenwoordigers wat die besoek saam met my meegemaak het, sluit prof. Hermie Coetzee (dekaan: Fakulteit Regsgeleerdheid), prof. Johnnie Hay (dekaan: Fakulteit Opvoedkunde), dr. Rachel Maritz (dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), dr. Jaco du Toit (departementshoof: Rekenaarwetenskappe), dr. Jannet Davel (hoof: Personeel en Ontwikkeling), dr. Heleen Coetzee (hoof: Studentesake) en Danie Jansen van Vuuren (hoof: Finansies en Infrastruktuur) in.
Dit is vir Akademia belangrik om, veral wat die klassieke universiteitswese betref, ʼn hand van vriendskap uit te steek na ander denkgenootinstellings. By wyse van hierdie vriendskappe word ons eie ideebasis verder in beskerming geneem en word ons toegerus om hierdie rigtinggewende idees met integriteit op eie bodem te laat gedy. Alhoewel ons as ʼn gemeenskapsinstelling hoofsaaklik plaaslik verbind is tot diens aan die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, ag Akademia dit ook belangrik om denkgenote van dwarsoor die wêreld te bevriend ter wille van die verdere vestiging en uitbouing van ons instellingseie vertrekpunte.
Lees meer oor die Hillsdale-afvaardiging wat in 2024 besoek aan Akademia afgelê het hier.
Watter hoogtepunte het die besoek opgelewer?
As ʼn besoekende afvaardiging was ons absoluut verstom oor die harmonieuse samehang wat daar tussen die onderskeie dimensies van Hillsdale College bestaan. Daar is ʼn goue draad wat vanaf hul teoretiese begronding tot by hul praktiese uitvoering kunstig verweef is. Óf dit nou hul akademiese aktiwiteite, studentelewe, argitektuur óf selfs hul kapeldienste is, alles spreek tot dieselfde begronding en gedeelde identiteit. Daar bestaan geen verwarring of twyfel oor wie en wat dié instelling verteenwoordig nie.
In terme van beste praktyke was die afvaardiging beïndruk gelaat deur die minimale steun wat daar tydens lesings op tegnologie geplaas word. Hillsdale-dosente het die vaardigheid van gekonseptualiseerde leer deeglik onder die knie en studente maak byvoorbeeld nie gebruik van skootrekenaars, slimfone of ander elektroniese toerusting in die klasse nie. Terselfdertyd steun dosente nie op die gebruik van skyfievertonings nie. Die klasse is grotendeels gefokus op die lees van primêre bronne en die kritiese gespreksvoering wat daardeur aangemoedig word.
Ander hoogtepunte sluit in ʼn besoek aan nóg ʼn klassieke denkgenootinstelling, naamlik Grove City College in Pennsilvanië. Dié instelling, wat sy ontstaan in 1976 gehad het, is gebou op die waardes van lojaliteit, uitnemendheid, gemeenskap, rentmeesterskap en onafhanklikheid. Die res van die toerprogram het dagbesoeke na onder meer die Notre Dame-universiteit, om ʼn Amerikaanse voetbalwedstryd te ervaar, die Niagara-waterval en Washington DC ingesluit.


Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.