Search
Close this search box.

Akademia in 2025: Afrikaans én tuis

Gepubliseer op: 6 Januarie 2025

Geskryf deur prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia

Afrikaans vier in 2025 sy eeufees as amptelike taal. En Akademia, as ʼn trotse Afrikaanse onafhanklike hoëronderwysinstelling, voeg sy stem trots by verskeie ander Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe om dié merkwaardige hoogtepunt te vier. Een van die maniere waarop die instelling hierdie mylpaal gestand doen, is by wyse van sy toegewyde jaartema: Afrikaans en tuis.

Wat het Afrikaans met die gedagte van tuis, tuiste en tuiskoms te doen? Om daarop te antwoord moet ons ʼn grootse verhaal vertel wat ʼn honder jaar gelede – in 1925 – afgespeel het. En vanweë hierdie verhaal het lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe vandag werklik baie redes tot feesviering.

In vele opsigte was die destydse erkenning van Afrikaans as ʼn amptelike taal die gevolg van groot ontwikkelinge wat in die voorafgaande dekades plaasgevind het. Afrikaans sou waarskynlik nie amptelike erkenning geniet het as dit nie toe reeds in onder meer die letterkunde, die media, die openbare administrasie en self in die akademiese lewe tot op hoogste vlak ontwikkel was nie.

Te danke aan dié ontwikkelinge (ons kan dit ook as die ‘standaardisering’ van Afrikaans beskryf) het ons moedertaal dieselfde erkenning van die destydse staat as twee van die méés ontwikkelde en magtigste tale vanuit die Westerse wêreld ontvang, naamlik Engels en Nederlands. Hierdie ontwikkeling en standaardisering was ʼn ongekende prestasie vir ʼn jong taal soos Afrikaans en ons is vandag uitermate trots op wat ons voorouers destyds vermag het.

Hoe moet ons egter vandag oor dié prestasie oordeel? Watter betekenis het dit vir ons as Afrikaanssprekendes?

Een van die waardevolste gevolgtrekkings wat ons vandag hieruit kan aflei, is dat jonger en kleiner tale ʼn kragtige en dinamiese lewe kán voer – desondanks dié status en ook die gevolglike druk wat groot en goed gevestigde wêreldtale dikwels op hulle uitoefen. Ons voorouers het immers onder soortgelyke statusdruk van ʼn magtige taal soos Engels gestaan. Destyds is Engels as die statustaal van die tyd (net soos wat Frans dit in die Europa van die agtiende eeu en Latyn dit in die Middeleeue was) ervaar. In die oë van talle Afrikaanssprekendes was Engels as magtiger, mooier, slimmer en ook ekonomies méér doeltreffend as die jong en toe nog selfs onvolwasse Afrikaans ervaar. En, soos wat ons maar te goed uit die taalgeskiedenis leer, gaan dié statusdruk gepaard gaan met gevoelens van erge minderwaardigheid by die sprekers van die oënskynlike kleiner tale.

Tydens die vroeë ontwikkelingsjare van Afrikaans het talle Afrikaanssprekendes as gevolg van dié druk aan taalminderwaardigheid gely. Om die waarheid te sê, talle van ons eie mense het Afrikaans as ʼn “kombuistaal” ervaar, en nie as ʼn taal wat op die kansel, in beskaafde geselskap óf in die lesingsale van universiteite hoort nie. In ʼn brief wat hy in die vroeë 1900’s vanuit Nederland geskryf het, onderstreep dr. D.F. Malan dié probleem met die volgende opmerking: “Om nie Engels te ken nie word deur ons as onopgevoed beskou, terwyl dit nie vir onsself so kommerwekkend is as ons nie ons eie taal kan skryf nie” (vry uit die Afrikaanse Nederlands vertaal). Dit is daarom baie duidelik dat daar destyds ʼn stigma van onopgevoedheid aan Afrikaanssprekendes gekleef het.

Een van die talle negatiewe gevolge van die bogenoemde taalminderwaardigheid was dat Afrikaanssprekendes hul eie moedertaal verwaarloos het deur dit onder meer met Engelse woorde en uitdrukkings te vermeng. Professor W.J. Viljoen, ʼn bekende geleerde uit die destydse Stellenbosch, beskryf dié gemengde taal wat toe gebruik is as “koeterwaals”. As ʼn voorbeeld van koeterwaals verwys Viljoen na ʼn gesprek oor ʼn plaaslike rugbywedstryd wat volgens hom só verloop het:

“Laatste Maandag was daar ʼn baing interesting match on tussen ons en di Hamiltons. Ons first team het hul my ʼn try gelick, hul thirds het ons gebeat, en di second was ʼn drawn match. Dit was ver jou ʼn baing close game, en di kêrls het properly rof gespeul.”

Vandag kan ons met reg vra: Hoe op dese aarde het ons voorouers uiteindelik daarin geslaag om hul taalminderwaardigheid te deurbreek, koeterwaals af te skud en Afrikaans tot ʼn volwasse taal te ontwikkel? Méér nóg, hoe het hulle dit alles binne ʼn kort tydperk van slegs enkele dekades gedoen?

Taalhistorici wys tereg op verskillende redes waarom dit gebeur het. Hierdie redes sluit in die ontstaan van ʼn nasionale gevoel en taaltrots onder ons mense; die skoonheid van Afrikaans wat bowenal in ons letterkunde ‘ontsluit’ is, en óók op die besef dat Afrikaans sy plek in die openbare lewe, in kerke, in die ekonomie en ook op skole en aan universiteite kan volstaan. As ons egter die verskillende redes in enkele woorde kan vasvang, lê dit myns insiens in woorde soos ‘tuis,’ ‘tuiste’ en ‘tuiskoms’ opgesluit.

Die rede waarom Afrikaans sy minderwaardigheid kon afskud, is dat ons voorouers in hul eie taal tuisgekom het. Soos wat ʼn mens gemaklik in sy eie liggaam voel, só het hulle hul eie moedertaal vir hulself opgeëis en dit as hul natuurlike taaltuiste ervaar – dié taalplek waarin hulle spontaan, sonder inhibisies én met volle oorgawe slegs hulself kon wees.

Terugskouend kan ons met selfvertroue sê dat die tuiste wat Afrikaans destyds vir ons voorouers geword het, ʼn belangrike rede was waarom hulle deur ʼn ongekende skeppingskag en ondernemingsvermoë op alle terreine van die lewe gekenmerk is. Hul tuiskoms in hul eie taal het hulle nie aan bande gelê nie, maar juis vrygestel – om ten volle mens te wees. Ons voorouers het ook in die internasionale wêreld (besigheid, universiteite, politiek, ensovoorts) presteer, nie ten spyte van hul moedertaal nie, maar juis omdat hulle tuis was in hul eie moedertaal.

En vandag? Afrikaans het tydens die afgelope dekades verskeie terugslae ervaar. Soos in die verlede gaan die druk op ons moedertaal weer eens met (dikwels verskuilde) vorme van taalminderwaardigheid gepaard. Nêrens blyk dit meer so as uit die feit dat ons dikwels op Engelse woorde en uitdrukkings staatmaak, omdat dit vir ons ‘mooier’, ‘kragtiger’ en selfs ‘belangriker’ klink nie.

Nogtans toon Afrikaans, ondanks die terugslae en nuwe vorme van slordigheid, vandag ook ʼn verstommende lewenskragtigheid, ʼn wil om homself te handhaaf en ook ʼn aangrypende skoonheid in onder meer sy digkuns en in die hedendaagse roman. Soos in die verlede lê die rede weer eens in die woorde ‘tuis’ en ‘tuiskoms’ opgesluit. Afrikaans is vandag steeds (en weer eens) op lewenskragtige wyses aanwesig, omdat talle Afrikaanssprekendes hul moedertaal omhels en daarin tuis voel. Sonder om hoegenaamd enige ander taal te misken, weet hulle bykans instinktief dat hulle menswees die beste in hul eie taalhuis kan gedy.

In geleerde taal geformuleer: talle van ons taalgenote word vandag wéér eens deur ʼn talige oikofilia (ʼn liefde of filia vir die eie huis of oikos) gekenmerk. En nie deur ʼn talige oikofobie nie.

Soos wat ons die amptelikwording van Afrikaans ʼn eeu gelede vier, lig ons ook ons glase op ʼn nuwe toekoms. ʼn Toekoms waarin ons weer eens in ons eie taal tuis is. Ons voorouers het immers ʼn skitterende voorbeeld met hul tuiskoms in ons moedertaal gestel.

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, meen soos wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe die amptelikwording van Afrikaans in 2025 vier, hulle ook hul glase op ʼn nuwe taaltoekoms kan lig. ʼn Toekoms waarin dié gemeenskappe weer eens tuis is in hul moedertaal.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.