Afrikaans se letterkonvooi: Die boodskap van Akademia se A

Gepubliseer op: 7 Mei 2025

Raai, raai, riepa: Wat weeg ongeveer 720 kg, staan twee meter hoog en het om en by 1 400 km via die N1-snelweg vanaf Pretoria in die noorde tot en met die Paarl in die suide aangepak? Die Solidariteit Beweging se Afrikaanse letterkonvooi natuurlik!

Die konvooi, wat uit nege reusagtige en kleurvol versierde letters bestaan wat die woord “Afrikaans” spel, het oral langs die roete aandag getrek ter bewusmaking van die #Afrikaans100-eeufeesviering. Hierdie konvooi sal op 8 Mei tot by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument toer vir die amptelike Afrikaans 100-feesviering, waarna dit vir die duur van die Kaapse viering hier uitgestal sal word. Ná afloop van die fees op 11 Mei sal die konvooi na Pretoria terugkeer vir die Gautengse feesviering van 18 Mei tot 8 Junie. Die letters sal daarna vir ʼn onbepaalde tyd by die Voortrekkermonument uitgestal word. Klik hier vir die volledige Afrikaans 100-feesprogram.

Akademia is een van die agt instellings*, tesame met die Afrikaans Amptelik 100-oorsigkomitee, wat ʼn letter van die woord “Afrikaans” gekry het om vir dié lettertoer te versier. Heel gepas, is die letter wat aan Akademia toegestaan is, die letter A. Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, verduidelik die gedagtes én simboliek rondom die grafiese uitbeelding wat op die instelling se letter aangebring is.

A vir Akademia, en soveel méér

Die storie van Akademia se A begin by die instelling se embleem. Hierdie embleem bestaan uit verskillende elemente wat almal tot sy begronding spreek – naamlik om as ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling diensbaar tot die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te wees.

Die mees prominente simbool in die embleem is die A. Dit verwys onder meer na:

  • Akademia;
  • Afrikaans; en
  • Afrikaanse universiteitswese.

Simbolies staan die A op twee baie sterk bene wat op ʼn soliede begronding dui. Hierdie twee bene herinner ons ook aan teenoorgestelde dinge wat oënskynlik in spanning staan, maar in Akademia omhels, gekoester en ontwikkel word. In hierdie opsig word daar veral verwys na die spanning wat tussen die verlede (en sy erfenis) en die toekoms (met sy vele moontlikhede) bestaan. Méér nog, dui dit op die spanning wat daar tussen wêreldklas opleiding (met die doel van bedryfgerigte vaardighede) teenoor die fokus op diepgaande vorming (karakterontwikkeling, volwassenheid, identiteit en kennis) bestaan.

Die oppervlak van die letter is oortrek met foto’s wat die hart en wese van die instelling spieël asook woorde vanuit die Akademia-woordeskat. Hierdie beelde en woorde dui onder andere op:

  • Die Fontie-familie wat nie deur geografie óf ouderdom óf lewensfase beperk word nie;
  • Die instelling se toerusting by wyse van twee onderrigleermodelle – die voltydse kampusmodel en die nauurse afstandsmodel;
  • ʼn Bruisende en eiesoortige studentelewe;
  • ʼn Roepingsgedrewe verbondenheid tot die gemeenskap; en
  • Die aktiewe vorming met die oog op ʼn hoopvolle toekoms.

Die grafiese uitbeelding van boeke op ʼn boekrak dui nie net Akademia se status as akademiese instelling uit nie, maar spreek óók tot die instelling se Groot Boeke-program. Die doel van dié program is om studente, ongeag hul studierigting, asook personeel aan te moedig om die Groot Boeke van die Westerse beskawing te lees. Die mens word immers gevorm deur tradisie, die manier van dink en doen wat ons onbewustelik navolg, deur die dinge wat deur dié wat voor ons geleef het, vir ons nagelaat is. Net só sal ons bydra eendag gemeet word aan dit wat ons nalaat vir ons kinders en vir dié wat nog nie gebore is nie.

Die letter A is aan Akademia toegeken en die instelling poog om deur die grafiese uitbeelding sy aard en wese aan die gemeenskap oor te dra.
Elke paneel van Akademia se A verteenwoordig ‘n ander element. Hierdie elemente sluit in die instelling se begronding, eiesoortige woordgebruik, die Groot Boeke-program en ‘n fotobeeld van die instelling.
Indien jy dié A onder oë kry, probeer om die Fontie-karakter te vind. Fontie verwys na ‘n student wat aan Akademia studeer en hierdie eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.
Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings, by die fotoversameling wat die hartklop van die Akademia-gemeenskap spieël.

ʼn Reis van ontwikkeling en uitbreiding

Die reis van die letterkonvooi spreek voorts tot Akademia se eie ontwikkeling- en uitbreidingsreis. Die instelling vestig homself in 2026 in die Paarl by wyse van ʼn voltydse kampus en daar word hard gewerk aan die ontwikkeling van ʼn wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria in 2028. Laasgenoemde vorm tans deel van die opwindende en geskiedkundige Toekomsbouer-veldtog. Hou gerus Akademia se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting en foto’s.

*Die ander deelnemende instellings is: AfriForum, Solidariteit, Maroela Media, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), Sol-Tech, Solidariteit Helpende Hand, Ons Winkel en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Die Solidariteit Beweging-letterkonvooi het, ter viering en bewusmaking van Afrikaans se eeufeesviering, op 1 Mei 2025 die roete van Pretoria na die Paarl aangepak. Foto: Solidariteit Beweging.
Akademia neem trots aan die Afrikaanse Lettertoer deel. Hier staan Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, en Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings, by die letter A wat aan die instelling toegeken is.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.