Search
Close this search box.

Filosofiedag – Waaroor gaan die filosofie?

Gepubliseer op: 19 November 2020

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia 

Akademia vier vandag, op 19 November, Filosofiedag saam met die wêreld. Maar waaroor gaan die filosofie? Waarmee hou filosowe hulself besig? Watter vrae vra filosowe? En watter antwoorde gee hulle daarop (of watter antwoorde poog hulle om daarop te gee, want die filosowe is ten ene male nie in staat om met finale, laaste of volledige antwoorde op hul talle vrae vorendag te kom nie)?

Alhoewel dit waarskynlik ʼn vereenvoudiging is, kan tog beweer word dat filosowe vandag (ondanks die reusetydsverskil) soortgelyke vrae aan die orde stel as wat die ou Griekse filosowe meer as tweeduisend jaar gelede gevra het. In die besonder kan verwys word na die sogenaamde grotes uit die Klassieke filosofie, naamlik Sokrates, Plato en Aristoteles. Vandag vra filosowe – of filosowe wat hul sout werd is, bygesê – vrae wat reeds destyds deur laasgenoemde filosowe gevra is.

As ons hieruit iets kan leer, is dit dat die vrae wat filosowe vra nie slegs tot ʼn bepaalde tydperk behoort nie, maar deur ʼn soort tydloosheid gekenmerk word. Elke era poog om opnuut antwoorde op hierdie tydlose vrae te gee.

Maar goed, watter vrae is dit dan wat filosowe soos Sokrates, Plato en Aristoteles reeds vir so ʼn lank tydperk vra? Nou, ongelukkig kan ons nie hierop ʼn volledige antwoord gee nie. Ter wille van ruimte kan slegs genoem word dat genoemde filosowe geen ander vraag so belangrik geag het nie as die vraag na die aard en wese van die werklikheid self nie.

Om dit te verstaan, kan dit met vrae in ander dissiplines gekontrasteer word. Anders as byvoorbeeld chemici, antropoloë en sielkundiges, is filosowe nie soseer geïnteresseerd in kennis van hierdie onderskeie dissiplines nie. Alhoewel sodanige kennis nie vir filosowe onbelangrik is nie, lê hul fokus elders. Filosowe vra eerder wat die wese van die chemiese, die wese van die menslike en die wese van die psigiese werklikheid is. Dit is almal vrae wat chemici, antropoloë of psigoloë nie noodwendig vra nie

Daarby eindig dit egter nie. Filosowe vra ook na die wese van die geheel as sodanig (en nie net na die wese van deelaspekte van die geheel soos die chemiese, die antropologiese of die psigiese nie). Op hierdie punt raak die filosofie altyd weer aan die teologie. Waarom? Omdat die filosofie – wanneer dit na die wese van die geheel vra – nie anders kan nie as om tegelyk op groot temas uit die teologiese denke te stut. Ons dink hier veral aan die (noem dit ‘metafisiese’) vrae na die grond, die oorsprong of die hoogste oorsaak van die geheel. Reeds Aristoteles het in sy Metafisika na sodanige grond as ‘God’ (of in sy taal, die ‘Onbeweegde Beweger’) verwys.

Maar goed, kom ons sluit met ʼn laaste vraag: Het filosowe soos Sokrates, Plato en Aristoteles gedink ons as mense kan ʼn volledige greep op die geheel kry? Kan ons die geheel deurgrond en dit by wyse van ons begrippe ‘aanwesig stel,’ om dit maar effens tegnies te formuleer?

Alhoewel die antwoorde wat die ou filosowe op laasgenoemde vraag gee onderling verskil, kan ons tog sê dat Sokrates en kie eenstemmig was oor die feit dat ons as beperkte wesens nie daartoe in staat is om die geheel te deurgrond en ʼn volledige greep daarop te kry nie. Waarom nie? Omdat die geheel, lui die antwoord, altyd oneindig méér is as waartoe ons denke in staat is.

Filosowe het nie hieruit die gevolgtrekking gemaak dat die strewe na insig in die geheel ʼn nuttelose doelwit is nie. Inteendeel, die groot filosowe van die outyd het hierin – in ons onvermoë om ʼn greep op die geheel te verwerf – ʼn bewys gesien van die ‘wonder’ wat die werklikheid self ten diepste is.

Akademia bied ʼn BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)-kwalifikasie aan. Die filosofie-komponent in hierdie kwalifikasie bevorder kennis en insig vanuit ’n begronding van klassieke Griekse filosofie tot die hedendaagse beoefening van dié dissipline. Nuuskierig oor hierdie kwalifikasie? Klik hier vir meer inligting.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof by Akademia.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.