Search
Close this search box.

Suid-Afrikaners vat hande in 4NR-styl om honger te bekamp

Gepubliseer op: 22 November 2020

Geskryf deur Riana Crafford, dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia. 

In ʼn vorige artikel het ek tot dié slotsom gekom: Suid-Afrikaners is vindingryk en kom met interessante nuwe idees vorendag. Ek het toe gefokus op “katoeters”, maar het intussen ʼn berig raakgeloop oor ʼn hongerbekampingsinisiatief wat my gróter laat dink het, so in die 4NR-styl.

Wat bedoel ek met 4NR-styl? Helaas is jy seker al verveeld met almal se fassinasie met die sogenaamde Vierde Nywerheidsrewolusie en die impak daarvan op Jan Alleman. Vergun my asseblief ʼn oomblik om te verduidelik hoekom ons tog belang daarby het, veral wanneer ons praat oor vindingryke nuwe idees.

Die 4NR word gekenmerk deur veral twee aspekte: Eerstens die ongekende snelheid en omvang van verandering en die ongelooflike impak daarvan op ons bestaande stelsels en prosesse; en tweedens die vermenging van tegnologieë, wat veroorsaak dat mens moeilik kan onderskei tussen fisiese, digitale en biologiese sfere. As jou kop draai ná hierdie paragraaf, moenie bekommerd wees nie, ek gaan die voedingskema waarna ek vroeër verwys het, gebruik om die konsepte te verduidelik.

Gaan kyk gerus na hierdie video om te sien hoe die fisiese, biologiese en digitale (rekenaartegnologiese) aspekte in hierdie voedingskema bymekaarkom. Alhoewel daar ʼn katoeteragtige komponent by die projek betrokke is, het die sukses daarvan baie meer afgehang van die suksesvolle samewerking tussen verskillende partye en dissiplines as van die uniekheid van die afsonderlike boustene van die produk.

Die Potchefstroom Sakekamer en CFAM se grendeltydvoedingskema het gegroei tot ʼn verstommende projek: die kitspap-OTM. Dit is ʼn baie vindingryke (en hopelik meer konkelbestande) manier om gesonde kos aan hulpbehoewende mense te lewer.

Die logistieke uitdagings om kos uit te deel, veral tydens die grendeltydperk waar mense nie mag saamdrom nie, het tot gevolg gehad dat die CFAM ingenieurspan die konsep van ʼn kitspap-OTM ontwikkel het. Dit word gebruik om die verrykte kitspap veilig, regverdig en naspoorbaar uit te deel aan hulpbehoewendes. Die idee van die oplossing het begin vorm toe die vrou van een van die spanlede ʼn berig raakgelees het van ʼn rys-selfvoerder in Viëtnam waarmee rys uitgedeel word aan werkloses.

Nou ja, in Suid-Afrika is ons stapelvoedsel nie rys nie, daarom het ons plaaslike entrepreneurs dadelik aan mielie kitspap gedink en van daar af het die idee verder gegroei. In ʼn neutedop (vir die wat nog nie na die video gaan kyk het nie) behels die projek dat die Potchefstroom Sakekamer saamwerk met CFAM (die vervaardigers van ekstrusie voedselverwerkingstoerusting) en ʼn groep ingenieurs van die NWU om klaargaar kitspap onder behoeftige mense te versprei. Die ingenieurs het ʼn slim manier bedink om die verspreiding daarvan te doen. Hulle het die kitspap-OTM binne weke ontwerp, gebou en gepatenteer.

Die program wat die OTM bestuur is só ontwerp dat hulpbehoewendes per SMS met ʼn digitale koepon in staat gestel word om hulle klaargaar kitspap op verskillende tye te kom haal, sodat sosiale afstand steeds behou kan word. Hierdie manier van verspreiding maak dit ook moontlik om tred te hou met wie die voedsel moet kry én gekry het, om te verhoed dat die middelman kan konkel en dan wegloop met die proviand. (Wie van ons se bloed het nie al gekook oor berigte van hulp aan behoeftiges wat toe nooit by die behoeftiges uitgekom het nie?)

Wat ook noemenswaardig is, is die feit dat die kitspap verryk is met melkpoeier en  al die nodige vitamines en minerale – en aangesien dit reeds gaar is, kan die pap voorberei word sonder dat mens toegang het tot kookgeriewe. Selfs koue water sal die ding doen!

Die groot prestasie is dus nie bloot die bou van die kitspap-OTM nie, alhoewel dit ʼn belangrike deel van die afleweringsbeen van die projek uitmaak. Die byeenbring van ʼn klomp rolspelers uit verskillende dissiplines om hierdie grootse projek deur te voer, is eerder die merkwaardige gegewe.

Eerstens gee ons erkenning aan die Suid-Afrikaanse landboubedryf: sonder die mielie-produsente en hulle omgewingsvriendelike prosesse, sou die volhoubaarheid van die produk in gedrang gewees het. Hier is die biologiese sfeer waarna die 4NR definisie hierbo verwys dus ter sprake.

Tweedens het die bestaande nywerheid ʼn leeue-aandeel in die uitvoering van die projek (in hierdie geval CFAM in Potchefstroom, met hulle gevestigde voedselverwerkingstegnologie.) Nou praat ons van die fisiese sfeer wat deel uitmaak van ons definisie. Die biologiese sfeer is natuurlik steeds in die prentjie, aangesien die verryking van die meel onontbeerlik is om die produk geskik te maak vir die doel. (Dis moontlik die enigste kos wat sommige mense gaan hê om aan die lewe te bly!)

Die kundigheid van die ingenieurs en stelselontwerpers het nie net die bou van die kitspap-OTM moontlik gemaak nie, maar ook die aanpassing daarvan by die Suid-Afrikaanse grendelstaatomstandighede. Die digitale aspek maak seker dat die regte mense op die regte tyd hulle broodnodige voorraad vir die week kan gaan haal, aangesien projekbestuurders weet wanneer ʼn koeponhouer hulle porsie ontvang het.

Die welwillendheid van die Potchefstroom Sakekamer is ook ʼn onontbeerlike onderdeel van die inisiatief. Sonder borge kan daar nie gratis voedsel verskaf word nie, kan daar? Hulle het alreeds in Mei sowat drie ton kitspap per dag onder hulpbehoewendes versprei! Vir so min as R1 per maaltyd kan een gesin met ʼn kilogram van hierdie klaargaar kitspap vir ʼn week gevoed word. Hierdie is ʼn prysenswaardige bydrae tot die verligting van nood in Suid-Afrika (oor die algemeen en veral post-Covid.)

Selfs SANParke het deelgeneem aan die inisiatief. Die eerste pap-OTM is in Skukuza-kamp in die Krugerwildtuin opgerig. Hoekom juis hier? Volgens ʼn woordvoerder van SANParke is hierdie area die ideale plek om hulp te verleen. Eerstens was die wildtuin se bron van inkomste afgesny tydens die grendelstaat, dus het ook die SANParke-werknemers swaargekry. Tweedens bly daar twee tot drie miljoen mense om die Krugerwildtuin, waarvan ʼn beduidende persentasie arm en sonder werk is. Soos die woordvoerder dit gestel het: “As die arm buurgemeenskappe sukkel, sukkel die wildtuin ook!” Die kitspap-OTM is toe getoets onder die SANParke-werknemers en die uitslag was baie positief. Die OTM’s is geskik om uitgerol te word na gemeenskappe.

Die eerste inwoner van Ikageng wat haar klaargaar kitspap by die kitspap-OTM ontvang het.

Verstaan jy nou hoekom ek hierdie spesifieke projek gekies het as ʼn toonbeeld van Suid-Afrikaanse uitnemendheid in 4NR-styl?

Ek glo jy is net so trots soos ek op hierdie Suid-Afrikaners wat na hulle harte geluister het. Ten aanskoue van ander se nood het hulle hul Godgegewe vindingryke en briljante denke ingespan in lyn met Jesus se opgetekende woorde: “… toe Ek honger was, het julle vir my kos gegee …”

Riana Crafford is ʼn dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia en trots Afrikaans