Akademia laat prestasies van SA-natuurwetenskaplikes voortleef
Gepubliseer op: 7 Julie 2021
Geskryf deur dr. Petro Uys, dosent in fisika en toegepaste wiskunde aan Akademia.
Die WL Grant-gedenklesing word vanjaar vir die eerste keer in September 2021 deur Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe aangebied. Met die jaarlikse instelling van hierdie lesing word daar erkenning aan uitnemende geskiedkundige prestasies deur natuurwetenskaplikes uit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap gegee. Hierdie prestasies word ook as motivering gebruik om ʼn vooruitstrewende toekoms in Afrika te help bou.
Die destydse eerste minister van Suid-Afrika, advokaat John Vorster, het op 20 Julie 1970 aangekondig dat Suid-Afrika, onder die bekwame leiding van dr. Wally Grant, sukses bereik het in die ontwikkeling van ʼn nuwe en unieke proses vir die verryking van uraan. Daarmee saam het Suid-Afrika ʼn aanleg vir hierdie doel gebou wat met van die bestes in die wêreld kon kompeteer. Gedeeltes van die aankondiging word aangehaal:
“Wetenskaplikes van die Raad op Atoomkrag (RAK) het daarin geslaag om ʼn nuwe proses vir die verryking van uraan, tesame met omvattende tegnologie wat daarmee gepaardgaan, te ontwikkel. Hulle is tans ook betrokke by die bou van ʼn toetsaanleg vir die verryking van uraan wat op hierdie proses gebaseer is. Nieteenstaande die feit dat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes in die verlede telkens blywende bydraes tot die wetenskap gemaak het, bly die aankondiging wat ek vandag rakende die deurbraak rondom die verryking van uraan maak, ʼn ongeëwenaarde prestasie in die geskiedenis van Suid-Afrika. Om die omvang van hierdie prestasie in ʼn sekere mate te kan waardeer, moet ek net meld dat, weens die hoë koste verbonde aan uraanverryking, slegs die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk en Frankryk in die Westerse wêreld daarin kon slaag om soortgelyke aanlegte op te rig. Die hoë koste is aan die een kant te wyte aan die ontwikkeling en toepassing van hoogs gesofistikeerde tegnologie wat met uraanverryking verband hou, en aan die ander kant weens die feit dat uraan net koste-effektief in baie groot aanlegte verryk kan word. Die Suid-Afrikaanse proses, wat in beginsel uniek is, is tans ontwikkel tot op ’n stadium waar ’n grootskaalse aanleg kompeterend sal kan wees met soortgelyke aanlegte in die Westerse wêreld. Wat belangrik is, is dat die proses die moontlikheid van verdere ontwikkeling inhou, en navorsing in dié verband gaan dus steeds voort. Ten slotte wil ek meld dat daar tydens die huidige sitting van die parlement ’n wet deur die minister van mynwese voorgelê sal word vir die stigting van ’n uitgebreide uraanverrykingskorporasie.”
Die uraanverrykingskorporasie het die Y-aanleg vir uraanverryking in 1975 voltooi. Die aanleg is deur die projekleier, dr. W.L. Grant geopen. In 1978 is daar met die produksie van hoogs-verrykte uraan in Suid-Afrika begin. Produkte wat gelewer is, was onder andere brandstof vir die SAFARI-1 navorsingsreaktor wat in die 1960s op die Pelindaba-terrein (wes van Pretoria) vir kernnavorsing gebou is, asook vir die Koeberg-kernkragsentrale in die Wes-Kaap. Die produksie van verrykte uraan is ongelukkig in Februarie 1991 gestaak, en die aanleg is in dieselfde jaar afgebreek. Dit het ʼn einde aan een van die produktiefste tydperke in die geskiedenis van natuurwetenskappe in Suid-Afrika gebring.
Om hierdie prestasie te laat voortleef het Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe besluit om in September 2021 die eerste WL Grant-gedenklesing aan te bied, wat daarna ʼn jaarlikse instelling sal word. Hierdeur gee Akademia nie net erkenning aan uitnemende geskiedkundige prestasies deur natuurwetenskaplikes uit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap nie, maar gebruik ons ook hierdie prestasies as motivering om vir ons ʼn vooruitstrewende toekoms in Afrika te help bou.
Hou gerus die spasie dop! Meer inligting oor die WL Grant-gedenklesing volg eersdaags.