*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Internasionale Moedertaaldag: Bou só voort op jou liefde vir taal

Gepubliseer op:  21 Februarie 2026

Geskryf deur Jo-Ann Scholtz en Sarita Blignaut, taalpraktisyns verbonde aan Akademia.

Die liefde vir woorde en taal kom instinktief. Dit is soos die liefde vir water, of diere, of sport – eenvoudig deel van ʼn persoon se DNS. Miskien is ʼn liefde vir lees ook in jou gevestig vanaf ʼn jong ouderdom. Miskien het jy eers later die vreugde van goeie en mooi geskryfde woorde ontdek. Hoe dit ook al sy – jou hart is vol en gelukkig omdat woorde jou wêreld inkleur.

Indien die bogenoemde stellings op jou van toepassing is, wil ons jou gelukwens – jy is ʼn taalliefhebber! Meer nóg, jy het (dalk onbewustelik) reeds die eerste boustene neergelê vir ʼn loopbaan as taalpraktisyn*. ʼn Liefde vir taal is immers die hoeksteen van dié spesialisloopbaanveld.

Gedagtig aan Internasionale Moedertaaldag, wat op 21 Februarie 2026 gevier word, word die kalklig onder meer op taalpraktisyns as moedertaalkampioene geskyn. Deur self taalfiks te bly, rus taalpraktisyns wêreldwyd ander toe om met selfvertroue hulle moedertaal te gebruik.

Taalpraktisyns, soos in die aanhef genoem, leef hul liefde vir taal op ʼn daaglikse en baie praktiese manier uit. Die volgende eienskappe is tekenend van diesulke praktisyns en die manier waarop hulle hul dagtaak aanpak:

  • ʼn Onblusbare nuuskierigheid

Taalpraktisyns is van nature nuuskierige mense. Ons hou daarvan om voortdurend nuwe kennis op te doen, of dit nou nuwe woorde, nuwe beskrywings of aanpassings in die taalreëls is. Hierdie nuuskierigheid help ons om taalbeginsels beter te verstaan en só begrip te verbeter, dit aan ander oor te dra en uiteindelik ons moedertaal sierlik te kan poets.

  • Aktiewe deelname aan groter taalgemeenskappe

Taalpraktisyns funksioneer nie in ʼn professionele vakuum nie. Moedertaal gedy danksy die aktiewe deelname van taalliefhebbers en -praktisyns in groter taalgemeenskappe waar daar gesamentlik oor uitdagings en oplossings gepraat word. Binne hierdie gemeenskappe, wat aanlyn of in persoon vorm aanneem, word daar saam oor taal gepraat, besluit en gedroom.

  • Soekers van sin en rede in elke woord

Taalpraktyk gaan oor soveel méér as net mooi woorde en sinne. Dit is belangrik om te verstaan waarom sekere taalreëls bestaan en hoe om dit toe te pas. ʼn Goeie taalpraktisyn kan in die lig, as ʼn seldsame wese beskryf word, omdat sy/hy die balans moet vind tussen om self ʼn intelligente leser te wees én terselfdertyd as ʼn diplomatiese en sensitiewe beoordelaar op te tree.

  • ʼn Detailgeoriënteerde ingesteldheid

ʼn Taalpraktisyn moet deurentyd op die fynere detail en nuanses van die geskrewe woord ingestel wees. Op dié manier word die vloei van ʼn teks nie net verbeter nie, maar aspekte soos akkuraatheid, duidelikheid, konsekwentheid word verseker. Daar moet nooit uit die oog verloor word dat ʼn teks wat kommunikeer, oortuigend, duidelik, bondig en korrek moet wees nie.

Taalpraktyk as ʼn loopbaankeuse

Taalpraktyk oftewel teksredaksie is ʼn vervullende beroep indien jy jouself in meer as een wêreld wil setel. Jy het die geleentheid om interessante artikels te lees, bemarkingsmateriaal onder oë te kry en jy leer elke dag meer van verskillende studievelde. Terselfdertyd het jy die vryheid om jouself nie tot een tekstipe te beperk nie, en is die area van jou beroepsfokus legio.

Jy het natuurlik ook die voordeel dat jy in jou moedertaal kan werk en daardeur kan jy ander moedertaalsprekers toerus met kennis oor korrekte taalgebruik, spelling en ander interessanthede wat die taal uniek en spesiaal maak.

Wanneer jy, as taalpraktisyn, elke dag getaak word met die ontleding en verfyning van taal, leer jy soos ʼn skilder om met al die kleure (taalvaardighede) tot jou beskikking te werk en só diepte te bewerkstellig terwyl jy doelgerig skep.

*Akademia se BA (Taalstudies)-program rus studente toe met teoretiese en praktiese kennis om suksesvolle loopbane in die openbare en privaat sektore en ook in die akademie te volg. Studieaansoeke vir 2027 open op 1 April.

Jo-Ann Scholtz en Sarita Blignaut, beide taalpraktisyns verbonde aan Akademia, meen dat professionele taalwerkers moedertaalkampioene is wat ander toerus om hul moedertaal met selfvertroue te gebruik.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.