Die aard van wetenskap: Só pols die hartklop van Lewenswetenskappe-onderrig

Gepubliseer op: 26 Augustus 2025

Geskryf deur Lizanne de Villiers, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

Het jy as onderwyser al vir jou graad 11-klas gevra wat wetenskap nou eintlik is? Indien wel, is die kans groot dat jy moontlik antwoorde gekry het soos “… dit is feite wat in ʼn laboratorium bewys is” of “… dit is die eksperimente wat deur wetenskaplikes gedoen word”.

Die feit van die saak is dat min leerders (en ongelukkig óók min Lewenswetenskappe-onderwysers) wetenskap sal beskryf as ʼn dinamiese, kreatiewe en kultuurgebonde proses. Of meer nog, as ʼn unieke manier van weet wat empiries, verbeeldingryk, tentatief en sosiaal gevorm is. Hierdie insigte lê aan die kern van die aard van wetenskap soos dit die Lewenswetenskappe-kurrikulum begrond. Die hartseer realiteit is egter dat dit die stille slagoffer is van ʼn volgepakte sillabus, beperkte onderrigtyd asook assesseringsgedrewe onderrigpraktyke.

Die dinamiese en veelkantige aard van wetenskap

Die aard van wetenskap verwys nie slegs na wetenskaplike inhoud nie, maar na die filosofiese grondslae van wetenskap. Laasgenoemde verwys onder meer na hoe kennis gegenereer word, watter aannames dit onderlê en hoe hierdie kennis gevorm word deur sosiale en kulturele invloede. Om die aard van wetenskap te verstaan, moet daar dus verby die feite in die handboek gekyk word ten einde ondersoek in te stel na hoe wetenskaplike kennis tot stand kom en hoekom dit saak maak.

Eerstens is wetenskap ʼn empiriese handeling, wat beteken dat wetenskaplikes hul kennis baseer op waarnemings en data vanuit die natuurlike wêreld. Tog is hierdie waarnemings nie objektief nie en twee mense kan dieselfde verskynsel waarneem, maar verskillende gevolgtrekkings maak. Ongeag dat wetenskap gebaseer is op bewyse, bly die kennis wat daaruit spruit nooit finaal nie en word dit voortdurend onderwerp aan verandering wanneer nuwe bewyse óf beter verklarings opduik.

Hierdie voorlopigheid van wetenskaplike kennis moet nie as ʼn tekortkoming beskou word nie, maar juis as ʼn teken van sy krag: dit kan bevraagteken én verbeter word wanneer nuwe bewyse of verklarings opduik. Hierdie eienskap van wetenskap word dikwels nie ten volle deur leerders verstaan nie.

Ten tweede word daar geglo dat wetenskaplike prosesse reëlgedrewe is, amper soos ʼn resep wat altyd dieselfde uitkoms lewer. In werklikheid is daar egter nie een vaste en/of universele wetenskaplike metode nie. Die ondersoekproses hang af van die navorsingsvraag, konteks en hulpmiddels tot die navorser se beskikking. Wat dikwels onderbeklemtoon word, is dat wetenskap nie nét streng logika vereis nie, maar óók diep verstrengel is met kreatiwiteit en verbeelding. Elke teorie, eksperiment en ontdekking begin met ʼn idee. Hierdie kreatiewe aard van wetenskap, waarby leerders dikwels aanklank vind, behoort meer prominent in die klaskamer na vore te kom.

Wetenskap bestaan voorts nie in ʼn vakuum buite bereik van die invloede van kultuur, politiek of die ekonomie nie. Die vrae wat gevra word, probleme wat geprioritiseer word en die maniere waarop navorsing uitgevoer word, weerspieël die samelewings waarin ons leef. Daarom moet leerders gelei word om te verstaan dat wetenskap ook sosiaal en kultureel van aard is. Daarbenewens word die onderskeid tussen wetenskaplike teorieë en wette dikwels verkeerd verstaan. ʼn Teorie is nie net ʼn raaiskoot wat wag om bewys te word tot ʼn wet nie. In werklikheid beskryf wette waarneembare patrone, terwyl teorieë verskynsels verduidelik wat nie direk waarneembaar is nie.

Hierdie dinamiese en veelkantige aard van wetenskap is nie slegs akademiese abstraksies nie. Dit het direkte implikasies vir hoe Lewenswetenskappe-leerders die wêreld sien, verstaan en daarop reageer – veral in ʼn tyd waar klimaatsverandering, waninligting en komplekse omgewingskrisisse aan die orde van die dag is. Wanneer Lewenswetenskappe-onderwysers die eienskappe van die aard van wetenskap verstaan en in hul onderrig integreer, help dit leerders om wetenskap nie net as ʼn stel feite te sien nie, maar as ʼn lewende proses en ʼn manier van dink, vra en verstaan. Dit dra by tot wetenskaplike geletterdheid en verantwoordelike burgerlike betrokkenheid. Hierin lê die werklike waarde van Lewenswetenskappe-onderrig.

Die polsslag van Lewenswetenskappe-onderrig

Ondanks die gestelde kurrikulumoogmerke, toon navorsing dat Lewenswetenskappe-onderwysers dikwels self beperkte of naïewe sienings van die aard van wetenskap het, moontlik omdat hulle self nooit eksplisiet daaraan blootgestel is nie. Die gevolg is dat leerders selde die geleentheid kry om aan wetenskap deel te neem op ʼn wyse wat die ware aard daarvan weerspieël. In plaas daarvan bly die fokus op inhoudsoordrag en memorisering, wat ver verwyderd is van wetenskaplike ondersoek, kreatiwiteit en kontekstualisering.

Die goeie nuus is dat die aard van wetenskap nie apart van die onderrig van Lewenswetenskappe-inhoud staan nie en daarom nie ekstra inhoud is wat geleer moet word nie. Dit is eerder ʼn raamwerk waardeur bestaande Lewenswetenskappe-inhoud meer betekenisvol aangebied kan word. Dit beteken dat leerders nie net leer wat ons weet nie, maar ook hoe en waarom ons weet.

Hierdie raamwerk stel onderwysers in staat om hulle onderrigpraktyk te herbedink en te vernuwe. Hiermee ʼn paar praktiese voorbeelde van hoe hierdie raamwerk toegepas kan word:

  • Onderwysers hoef nie (en behoort inderwaarheid nie) lesse handboekgesentreerd aan te bied óf voortdurend te stoei om leerders by lesse te betrek nie. Begin eerder jou lesse deur byvoorbeeld vrae te vra hoe wetenskaplikes tot insigte kom oor biodiversiteit en hulle dan deur die proses van wetenskaplike ondersoek te lei.
  • Kuns of drama kan gebruik word om komplekse kwessies soos voedselsekuriteit of besoedeling visueel en emosioneel te verken en só die sosiale en kulturele aard van wetenskap bloot te lê.

Hierdie tipe onderrig vereis nie duur toerusting of meer tyd nie, slegs ʼn verskuiwing in perspektief en ʼn bewustelike keuse om die eienskappe van die aard van wetenskap in elke les in te weef. Só raak wetenskap vir die leerders betekenisvol en word die natuurlike wêreld lewendig binne die klaskamer.

Lewenswetenskappe-onderwysers moet die voortou neem

Een van die kragtigste implikasies van die aard van wetenskap is dat dit ʼn brug vorm na selfgerigte leer. Wanneer leerders verstaan hoe kennis tot stand kom en bevraagteken word, word hulle aktiewe deelnemers aan hulle eie leer. Dit ondersteun die ontwikkeling van noodsaaklike 21ste-eeuse vaardighede soos probleemoplossing, kritiese denke, samewerking en verantwoordelike besluitneming – alles sleuteluitkomste van die Lewenswetenskappe-kurrikulum.

Lewenswetenskappe-onderwysers moet egter die pad eerste stap. Dit vereis dat elkeen se eie begrip van die aard van wetenskap verdiep word, dat onderwysergereedskapskissies gereeld aanvul word en onderwysers sélf selfgerigte leerders word. Die aard van wetenskap is nie ʼn bysaak nie, maar éérder ʼn kernaspek van wetenskaplike geletterdheid. As dit doelbewus geleef en geleer word in klasse, kan daar wegbeweeg word van oppervlakkige kennis na betekenisvolle, volhoubare leer.

Lewenswetenskappe-onderrig is soveel méér as die oordrag van feite. Onderwysers in hierdie vakgebied het die verantwoordelikheid om leerders se wetenskaplike geletterdheid te ontwikkel en hulle op te lei tot wêreldburgers wat nie net weet nie, maar verstaan. Verstaan hoe kennis ontstaan, hoe dit bevraagteken word en watter rol húlle daarin speel.

Die aard van wetenskap mag tans ontbreek in baie Lewenswetenskappe-klaskamers, maar dit is juis dié bewuswording wat potensiaal het om onderrig te omvorm en betekenisvolle en diepgaande leer te verseker.

Lizanne de Villiers, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen dat die dinamiese aard van weteskap die leer- en ervaringswêreld van Lewenswetenskappe vir leerders kan oopbreek.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.